Otavi sit voet neer

'n Noordedorp se inwoners sê hulle het genoeg gehad van onder meer beweerde korrupsie en swak dienslewering.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



Die uitvoerende hoof se 'dubbele salarisse', 'n brandweerman wat erwe uitdeel, 'n diefstalsindikaat en vullis wat ophoop, is maar van die redes vir Otavi-inwoners se betogings gister.

By die dorpsraadkantore was daar aanvanklik nie raadslede om inwoners te woord te staan nie. Die adjunkburgemeester het mettertyd wel 'n brief van hulle ontvang. Daarin word die raad vyf dae gegee om redes te verskaf waarom 'n mosie van wantroue nie teen hulle ingestel moet word nie.

Die aksie kom ná maande lange onderhandelinge tussen inwoners en die dorpsraad, en 'n vergadering met die raad wat Maandag nie die gewenste vrugte afgewerp het nie.

Inwoners het reeds op 11 Mei ná 'n vreedsame betoging 'n klagskrif aan burgemeester Martha Shipanga oorhandig wat glo belowe het om binne twee maande terugvoering te gee.

Mnr. Johannes (Jay Jay) Johannes, 'n gemeenskapsleier, het gesê hulle het egter geen reaksie ontvang nie en inwoners het verlede week ook na die dorpsraad opgeruk.

“Die polisie en die dorpsraad is in kennis gestel, maar daar was niemand om ons te ontvang nie. Daarom het ons by die dorpsraadkantore ingegaan om antwoorde te eis. Daar was nie enige geweld betrokke nie.

“Ons het toe ooreengestem om Maandag met die raad te vergader, maar kon geen bevredigende antwoorde kry nie en het daarom op vandag (Woensdag) se betoging besluit,” het Jay Jay aan Republikein gesê.

Die aksie volg nadat die Otavi-dorpsraad 'n oudit van die ouditeur-­generaal (OG) vir die 2016-'17-boekjaar ontvang het.

Daarvolgens is die inligting wat verskaf is, beperk en handhaaf nie die OG se rekeningkundige beginsels nie. Ook oorskry die dorpsraad se laste sy bates met N$12 miljoen.

Otavi-inwoners het intussen ook briewe aan die Teenkorrupsiekommissie (ACC), asook die minister en permanente sekretaris van

stedelike en landelike ontwikkeling geskryf.

Daarin eis hulle onder meer die dorpsraad se bedanking. Geen reaksie is tot dusver hierop ontvang nie.

Die waarnemende uitvoerende hoof, mnr. Jacques Mutjavikua, het Republikein na die uitvoerende hoof, mnr. Moses Matyayi, verwys. Matyayi het aan Republikein gesê hy is tans midde in 'n familiekrisis en sal sodra hy Maandag terug op kantoor is vrae beantwoord. Die burgemeester en adjunkburgemeester was ook nie ­beskikbaar nie.



KLAGTES

Die inwoners se klagtes, soos in hul klagskrif en briewe aan die ministerie en ACC vervat, sluit talle beweringe in.

Daarvolgens het Matyayi glo tydens sy onlangse studies in Londen steeds 'n salaris en ander voordele van die dorpsraad ontvang, terwyl hy 'n studiebeurs gehad het wat sy studiegeld, werk­byvoordele en salaris gedek het.

Voorts het die dorpsraad glo ná die sloping van enkelkwartiere wat sowat 'n duisend mense en sakelui ontwortel het, hul brandweerman of noodbeampte aangewys om erwe aan dié mense toe te ken. Volgens die klagskrif het hy erwe aan homself, sy ma en suster wat nie op Otavi woon nie, en sy vriende uitgedeel, al voldoen nie een aan die vereiste kriteria nie. Hy het glo al dié erwe – altesaam vier - verkoop.

Die inwoners sê die dorpsraad is bewus van die gebeure en dit is ook by die burgemeester en die waarnemende uitvoerende hoof aangemeld, maar geen ondersoek hierna is gelas nie. Inwoners eis dié erwe moet teruggevat en aan mense gegee word wat dit toekom. 'n Korrupsieklag moet ook ingedien word, sê hulle.

Nóg 'n klag is dat die dorpsraad glo teen die einde van 2017 op 'n diefstalsindikaat binne die inkomste- en skuldinvorderingsafdeling afgekom het en ook wanbesteding van die dorpsraad se geld opgemerk het, waarby ver­skeie amptenare betrek is. “Om dit te kon toesmeer en die posisies van sommige korrupte senior amptenare te beskerm, is 'n junior amptenaar gevra om te bedank – sonder 'n regverdige verhoor. 'n Belofte is aan haar gemaak dat sy binnekort weer aangestel sal word sodra die stof gaan lê het - glo omdat sy dit nie op die lappe gebring het nie.”

Verder word beweer 'n sekere amptenaar het omkoopgeld ontvang om nie besighede wat ver agterstallig is met hul munisipale rekeninge, se water af te sny nie. Inwoners wat glo minimale bedrae skuld, word afgesny, maar nie sekere oortreders wat in die 1970's laas betaal het nie. Dorpenaars eis dié amptenaar se bank­sake moet dringend ondersoek word.



LYSTE GLO VERANDER

Inwners beweer daar is gepeuter aan die lys van mense wat aansoeke om erwe by die dorpsraad ingedien het, met sommige se name wat spoorloos verdwyn het.

Raadslede verantwoordelik vir rekordhouding het glo die aansoeke verwyder, datums en posisies verander, en met ander name vervang. Die ACC is gevra om ook dié mense se banksake te ondersoek.

Ander klagtes gaan oor dienslewering. Inwoners betaal vir vullisverwydering, maar dit word glo vir tot vyf maande op 'n slag nie gedoen nie. Paaie wat na die informele nedersetting lei, is glo onbruikbaar en vervalle. 'n Pad is in die informele nedersetting gebou sonder om die dreineringstelsel in aanmerking te neem. Dit lei tot oorstroming van huise as dit reën.

“Ons is bitter ontsteld om te sien hoe mense van die Naruseb- en New Cairo-­woonbuurt ly. Hulle het nie toilette nie en net twee krane wat deur meer as 500 inwoners gedeel word. Dikwels werk net een kraan.”

Die gemeenskap eis dat die toilette by die Naruseb-woonbuurt herstel en skoongemaak word en indien daar nie geld voor is nie, moet die stadsraad hul nuut aangeskafde Toyota Fortuner, glo ter waarde van N$800 000, verkoop. Voorts moet vullis weekliks verwyder word.

In die klagskrif word ernstige beweringe van verdeelde en swak leier­skap teenoor onder meer die burgemeester gemaak. Inwoners eis raadslede betrokke by 2017 se beweerde diefstalsindikaat moet ondersoek en strafregtelik aangekla word. Ook dat 'n onafhank­like, eksterne oudit van die dorpsraad se boeke gedoen word.

Kommentaar

Republikein 2024-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

European Championships Qualifying: Southampton 3 vs 0 Preston North End English Championship: Southampton 3 vs 0 Preston North End Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 26km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:25, High tide: 13:40, Low Tide: 19:24, High tide: 01:48 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:38, Low Tide: 19:22, High tide: 01:46 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 36km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:37, Low Tide: 19:22, High tide: 01:45 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!