Oropoko: Baie vrae onbeantwoord

PDM bekommerd oor onreëlmatighede

26 February 2018 | Ministeries
Hoe meer inligting die minister van verdediging, mnr. Penda ya Ndakolo, oor die aankoop van die Oropoko-gasteplaas gee, hoe groter raak die verleentheid.

So sê die Popular Democratic Movement (PDM) se tesourier-generaal, mnr. Nico Smit.

Hy het ‘n verklaring uitgereik na aanleiding van die ministeriële verklaring wat Ya Ndakolo verlede week in die Nasionale Vergadering (NV) oor die weermag se aankoop van die luukse N$45 miljoen-gasteplaas gemaak het.

“Hoe meer hy verduidelik, hoe duideliker word dit dat die aankoop van die plaas met talle onreëlmatighede - wat verdag baie na korrupsie lyk - gepaard gegaan het.

“Die PDM is daarvan oortuig dat die geriewe vervalle is, dat diere soos renosters - wat veronderstel is om daar te wees - nie daar is nie en dat geen behoorlike bateregister opgestel is oor wat gekoop is nie.

“Sover vasgestel kan word, is die aankoop van Oropoko reeds vir tien jaar aan die kom. In daardie tyd is min gedoen om die infrastruktuur in stand te hou. Dit beteken die geriewe sal teen etlike miljoene van belastingbetalersgeld opgeknap moet word - geld wat eerder bestee kon word op die opheffing van ons duisende daklose en werklose mense wat in gehuggies of op ashope bly,” sê Smit.

'ABSOLUTE SNERT'

Hy wonder ook of die plaas enigsins geskik vir militêre aktiwiteite is.

Smit is van mening dat Ya Ndakolo nie die vaagste benul van die ware rede vir die aankoop het nie. “Dit is absolute snert dat die troepe meer oor natuurbewaring sal leer.”

Smit het ook heelwat vrae wat hy twyfel die minister ooit antwoorde op sal verskaf. “Is enige behoorlike navorsing gedoen oor die geskiktheid van die terrein vir die bou van ‘n militêre lughawe? Die plaas word omring deur werkende kommersiële plase en gasteplase, om nie eens van berge te praat nie. Sal mense op die plase daarvan hou om bure van ‘n militêre basis te wees? Hoe gelukkig sal toeriste wees om na die geraas van militêre vliegtuie in die lug te luister? Hoe sal plaasdiere en wild hierop reageer? Is daar genoeg plat grond om ‘n aanloopbaan te akkommodeer?” wil Smit weet.

Hy sê ook die skietbaan op die plaas herinner sterk aan die veelbesproke swembad by die voormalige Suid-Afrikaanse president mnr. Jacob Zuma se omstrede Nkandla-tuiste. Volgens Smit sê bure van Oropoko die gebied is dig bewoon en mense se lewe sal in gevaar wees as enige wapen groter as ‘n jaggeweer op die skietbaan gebruik word.

“Is die bure enigsins geraadpleeg oor hierdie plan vir Oropoko? Wat is die kanse dat die minister (of eerder die belastingbetaler) in ‘n duur hofsaak in die verband betrokke gaan raak?”

Hy wil ook weet hoeveel militêre basisse in Namibië is en hoeveel die land nodig het. “Ons weet van Luiperdsvallei, Osona en Etire by Karibib (waar ‘n reuse- militêre lughawe onlangs opgegradeer is), Walvisbaai, Ondangwa, Rundu, Grootfontein, Katima Mulilo en Keetmanshoop. Hoeveel troepe het ons om hierdie basisse te vul?” vra Smit.

'TEELAARDE VIR KORRUPSIE'

Die PDM het ook ‘n vroeëre waarskuwing oor geheimhouding herhaal wat volgens die party ‘n perfekte teelaarde vir korrupsie en staatskaping is.

“Daar is geen eksterne bedreiging vir Namibië wat dit nodig maak om ‘n reuseweermag te hê wat miljoene dollars opeet nie. Hierdie geld kon veel beter op behuising, mediese dienste en ander noodsaaklike maatskaplike dienste bestee word,” het Smit bygevoeg.

Volgens hom is dit vir die PDM onaanvaarbaar dat die plaas gekoop is. Die party is van mening dat die land oor genoeg militêre basisse beskik.

Hy sê dit sou beter gewees het indien die plaas in die toerismebedryf kon bly. Dit kon aan voorheen benadeelde mense oorhandig word om dit as ‘n gasteplaas vir toeriste te bestuur en waar opleiding in die toerismebedryf verskaf kon word.

“Dan sou die mense van Namibië kon sien daar was voordele aan die transaksie verbonde. Werksgeleenthede sou geskep kon word. Dit sou ‘n produktiewe deel van Namibië se ekonomie bly. In die hande van die weermag voorspel die PDM dat dit in die afsienbare toekoms ‘n drein vir Namibiese belastingbetalersgeld sal word,” sê Smit.

Soortgelyk

 

Eksamenuitslae dán bekend

12 minute gelede | Onderwys

Die voorlopige uitslae vir graad 10 (JSC) en graad 12 (NSSC) hoë vlak vir voltydse en deeltydse kandidate word aanstaande Donderdag (20 Desember) amptelik bekendgemaak....

Drie meisies verdrink in sandputte

1 uur gelede | Ongelukke

Die Namibiese polisie in die Ohangwenastreek het ‘n beroep op kontrakteurs gedoen om sandputte toe te stoot wat geskep is met die uitgrawe van sand...

1,6 miljoen toeriste besoek Namibië in 2017

2 ure gelede | Toerisme

Altesaam 2,2% meer toeriste het Namibië in 2017 as in die vorige jaar besoek met meer as 1,6 miljoen buitelandse toeriste wat die land ingestroom...

Studente betaal meer by Unam

2 ure gelede | Onderwys

Die finansiële verknorsing waarin die Universiteit van Namibië (Unam) verkeer, tesame met die algemene ekonomiese vooruitsig vir die land, het die universiteitsraad genoop om klasgelde...

Plunderwoude: Ministerie ontken ongerymdhede

12 ure gelede | Plaaslik

Elvira Hattingh - Die ministerie van landbou, water en bosbou sê die meerderheid permitte wat vir die oes en vervoer van hout uitgereik is, is...

Polisie op sy knieë

12 ure gelede | Polisie

Denver Kisting – Die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, sê die land se finansiële verknorsing het die mag op sy knieë.Ndeitunga het...

Avihe-moordenaar het dalk landuit gevlug

12 ure gelede | Misdaad

Denver Kisting – As Avihe Cheryl Ujaha (9) nie deur iemand in haar binnekring vermoor is nie, is haar moordenaar(s) waarskynlik al landuit.Só sê die...

Weer vir 13 Desember 2018

12 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm met geïsoleerde buie plek-plek in die noordelike en sentrale dele. Elders sal dit sonnig en baie tot...

At your fingertips

12 ure gelede | Tegnologie

Yolanda Nel - After a break-in at her home three years ago, an entrepreneur decided to develop an app that provides emergency contact numbers at...