Op ’n slim noot

Orkes verander samelewing

08 February 2019 | Kuns en vermaak
Sowat twee jaar gelede, in Desember 2016, het Gretel Coetzee en drie ander trustees die Youth Orchestras of Namibia (YONA) Trust gestig met die doel om elke Namibiese kind die geleentheid te gee om musiekonderrig te ontvang.

Volgens YONA se webtuiste is hul visie om kinders se lewens deur musiek te verander.

“Ons is nog ver van die einddoel af, maar hierdie is ’n langtermynvisie,” sê Gretel, wat ook ’n operasanger en sangonderwyser is met haar eie privaat sangstudio.

“Ek het oor die jare besef ons het nie genoeg musiekonderwysers in Namibië nie, en dat iets gedoen moet word om te sorg dat daar nog iets soos ’n orkes in die toekoms sal wees,” sê sy.

Om die probleem van te min onderwysers te oorbrug, word kinders by YONA in groepe geleer om instrumente te speel.

“Die El Sistema-beweging, waarop YONA gefundeer is, het bewys kinders kan in groepe leer om instrumente te speel, en tot ’n hoë standaard vorder,” sê Gretel.

El Sistema

Die El Sistema-beweging is in 1975 in Venezuela gestig as ’n nasionale netwerk van kinder- en jeugorkeste en –kore. Die doel van dié beweging was om maatskaplike verandering deur musiekonderrig teweeg te bring. Die beginsels van die beweging is spanwerk en samewerkende onderrig, wat gekenmerk word deur vertroue, disspline, empatie, toewyding, struktuur en positiewe ondersteuning van die selfbeeld.

Dié beweging het vandag ’n positiewe impak op sowat 300 000 kinders en hul ouers in gemeenskappe in Venezuela. Saam is daar sowat 31 simfonie-orkeste in dié land, wat deel van die El Sistema-beweging is. Die stelsel is ontwerp om kwesbare en minderbevoorregte kinders se lewensgehalte te bevorder en sodoende die hele samelewing te omskep.

Jose Antonio Abreu, die vader van El Sistema, het gesê die orkes is die enigste instelling wat die uitsluitlike doel het om saam te stem.

In ’n orkes leer kinders selfdissipline, spanwerk en uithouvermoë aan. Hulle leer om iets moeiliks aan te pak, om moed te hou, saam sukses te bereik en in die proses ook pret te hê.

Volgens die El Sistema-stelsel het mens ook daardie eienskappe nodig om ’n goeie landsburger te wees.

Gretel sê YONA se koor en stryk-orkessies oefen Maandae en Woensdae by Suiderhof Primêre Skool in Windhoek, en daar is ook individuele lesse vir hulle op Dinsdae en Donderdae. Die houtblasers en perkussiegroep oefen op Dinsdae en Donderdae, en Vrydae oefen die hele orkes saam.

Planne vir 2019

In Februarie vanjaar sal ’n Duitse dirigent, Michael Vollhardt, YONA besoek. Hy sal vir twee weke lank intensief met die kinders werk, en dan sal die orkes op 17 Februarie by die NG Kerk se Eros-gemeente in Windhoek tydens die oggenddiens en daarná optree.

In Julie besoek die Eichendorff-musiekskool, wat ook uit Duitsland is, YONA.

“Ons gaan ’n week lange werkwinkel saam met hulle hê, waarná konserte op 12 en 13 Julie gehou sal word.”

In Mei bied Kolja Lochmann, ’n meter-vioolmaker, ’n werkwinkel aan om Namibiërs op te lei om basiese herstelwerk aan strykinstrumente te kan doen.

“Hierdie werkwinkel spreek ’n baie dringende behoefte aan, aangesien ons nie ’n vioolmaker in Namibië het nie, dus moet instrumente altyd na Suid-Afrika vir herstelwerk en dienste gestuur word,” sê Gretel.

YONA reik ook graag na die gemeenskap uit, en beplan om konserte by aftreeoorde, kerke en gemeenskapsentrums te hou.

“Ons is opgewonde daaroor om ’n Busk-a-thon aan te bied. Dit is ’n fondsinsamelingsveldtog wat behels dat ons en ander musici in die gemeenskap saamspan om ses ure lank ononderbroke musiek in ’n openbare plek soos ’n inkopiesentrum of die middestad te maak.”

Musiek maak slim

Musiek ontwikkel kinders verstandelik, sê Gretel.

Neurowetenskaplikes het vasgestel die aksie om musiek te lees en ’n instrument te speel, bevorder meer breinaktiwiteit as enige ander aktiwiteit.

“Kinders wat musiek kan lees en ‘n instrument speel, is beter toegerus om akademies goed te presteer en het ’n groter kans om sukses in die studierigting van hul keuse te bereik. Ek glo ons by YONA kweek nie net topklas musikante en musiekonderwysers nie, maar ook dokters, ingenieurs, prokureurs en sielkundiges,” sê Gretel.

Veilige hawe

Sy sê hoewel YONA skaars twee jaar aan die gang is, sien sy reeds ’n positiewe verandering in die kinders wat daaraan deelneem.

“Die kinders tree só gereeld op dat hulle geen vrees vir ’n verhoog het nie. Sommige kleintjies, wat kop onderstebo by ons aangekom het, staan nou vol selfvertroue en speel hul instrumente.

“Dieselfde kinders is ook nou gemakliker om hul sê te sê en mens in die oë te kyk. Daar is ook kinders wat uit moeilike omstandighede kom, waar daar nie toesig tuis is nie, en wat by YONA smiddae ’n veilige hawe vind. Ons bied nie net vir hulle ’n plek van veiligheid nie, maar ook die geleentheid om bo hul omstandighede uit te styg.”

· YONA word geborg deur RMB Namibia, FNB Namibia Holdings, die National Arts Council of Namibia (NACN), die Deutsch-Namibische Gesellschaft (DNG), die Stichting Horizon, Aura-Media Kulturforum, die Rundfunk-Simfonieorchester Berlin en verskeie individue.

* Besoek yonamibia.org, of hul Facebook-blad vir meer inligting.

Soortgelyk

 

‘Aarde lag deur haar gebarste gesig’

13 ure gelede | Weer

Ronelle Rademeyer – Groot dele van die Suide is vanoggend (Saterdag) sopnat.Die Facebook-blad Reën in Namibia van Philip Deetlefs is die ene jubelsange van dankbaarheid...

‘Aarde lag deur haar gebarste gesig’

13 ure gelede | Tuisblad

Ronelle Rademeyer – Groot dele van die Suide is vanoggend (Saterdag) sopnat.Die Facebook-blad Reën in Namibia van Philip Deetlefs is die ene jubelsange van dankbaarheid...

Parlement skop Woensdag sy werksaamhede af

1 dag gelede | Regering

Pres. Hage Geingob open Woensdag om 14:30 die Nasionale Vergadering se verrigtinge vir die jaar. Dit sal die negende sitting van die sesde parlement inlui.Die...

Registrasiefooie by NUST nou N$2 000 minder

1 dag gelede | Onderwys

Die Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) se registrasiefooie is met N$2 000 van N$4 200 tot N$2 200 verminder. Dit volg nadat ouers en...

Man sterf in ongeluk naby Rehoboth

1 dag gelede | Ongelukke

‘n Man is Woensdag op slag dood nadat die voertuig waarin hy op reis was, die pad verlaat en omgeslaan het. Volgens die polisie se...

Grondwet mag nie ‘papierdroom’ wees

1 dag gelede | Mense

Ronelle Rademeyer - “Ons kan almal baie dankbaar wees vir die Grondwet wat ons geskryf en eenparig aanvaar het. Namibiërs se vryheid en beskerming lê...

Groter stoom vir TransNamib

1 dag gelede | Vervoer

font face="Verdana" > Augetto Graig - Die nasionale spoorwegonderneming TransNamib het ’n nuwe raad en strategiese besigheidsplan aangekondig waarmee die onderneming ’n nuwe rigting...

NSFAF: Finale betalings voor 28 Februarie

1 dag gelede | Onderwys

Die Finansiële Hulpfonds vir Namibiese Studente (NSFAF) het alle geld ontvang wat aan studente vir 2018-’19 uitbetaal moet word. Volgens die fonds het die verwerking...

Weer, Vrydag 8 Februarie 2019

1 dag gelede | Weer

BINNELAND: Sonning en bloedig warm in die verre noordweste. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm wees met enkele tot wydverspreide donderbuie.KUS:...