Oorlogspook bly loop

Drie teenpersoneelmyne onskadelik gestel

09 July 2018 | Polisie
Elvira Hattingh



Drie Suid-Afrikaansvervaardigde R2M2-teenpersoneellandmyne is die afgelope Woensdag deur die springstofeenheid van die Namibiese polisie in die Ruacana-kies­afdeling onder die NamPower-kraglyn onskadelik gestel deur dit onder beheerde omstandighede te laat ontplof.

Die myne is die Saterdag daarvoor suid van die Ruacana-kragstasie onder die 330 kV-transmissielyn ontdek terwyl 'n Tsumeb-gebaseerde kontrakteur herstelwerk aan die lyn gedoen het. Die plaaslike bevolking het volgens beskikbare inligting die werkspan se aandag op moontlike gevare gevestig.

Insp. Lineekela Shikongo, polisiewoordvoerder vir die Omusatistreek, en mnr. Tangeni Kambangula, NamPower se bestuurder vir korporatiewe kommunikasie, het die voorval Vrydag bevestig.

“Ruacana is een van die gebiede waar oorlog gevoer is en inwoners word aangeraai om, sodra hulle op so iets afkom, dit onmiddellik by die naaste polisiekantoor aan te meld en nie daaraan te raak nie,” het Shikongo gesê. Niemand is beseer nie en geen eiendom is beskadig nie.

Die kontrakteurs wou weens kontraktuele verpligtinge nie kommentaar lewer nie.



LANDMYNKONVENSIE

Namibië is 'n ondertekenaar van 1997 se internasionale verdrag teen landmyne. Volgens die land se verslae is opruimingswerk teen 2001 afgehandel, maar die Landmynmonitor, 'n internasionale verslag, erken daar is steeds myne en ander ploftoestelle in die land.

Tydens die oorgangsperiode in aanloop tot onafhanklikheid het die Suid-Afrikaanse weermag, Untag en 'n plaaslike onderneming dele van die land vir landmyne gevee. Teen Januarie 2001 het die Amerikaanse onderneming Ronco 5 000 landmyne en 1 300 ploftoestelle vernietig.

Vanaf Januarie 2006 tot Junie 2007 het die Namibiese polisie meer as 11 000 ploftoestelle en 17 myne gevind.

Volgens die internasionale verdrag moes Namibië teen Maart 2009 landmynvry gewees het. Volgens die Landmynmonitor is geen verslae sedert 2009 deur Namibië ingedien nie. In Desember 2009 het die land aangevoer hy voldoen aan alle vereistes van die verdrag.

In dieselfde jaar het die ministerie van die omgewing en toerisme egter 'n noemenswaardige landmynprobleem in die Bwabwata Nasionale Park gerapporteer.



RUACANA-LYN

Volgens die Duitse organisasie Mense teen Landmyne (Menschen Gegen Minen, MgM) is landmyne onder 409 kragmaste tussen Ruacana en die Werda-hek geplant om die sabotasie van die kraglyn te verhoed.

MgM het in 1999 met nuwe tegnologie landmyne onder die Ruacana-kraglyn verwyder. Die organisasie se verslag sê aanvanklike verwyderingspogings het probleme vererger omdat stootskrapers gebruik is om grond onder die kragmaste op hope te stoot. “Die Suid-Afrikaanse regering het destyds 'n kaart oorhandig wat aandui waar landmyne begrawe is. MgM was van mening dit sou baie eenvoudiger wees om die myne te voet onskadelik te stel, wat nie meer moontlik was nie,” lui 'n artikel op hul webwerf.

R2M2-myne is volgens die webwerf Nolandmines wyd in Suider-Afrika gebruik. Dit het 'n plastiekomhulsel en weens die beperkte aantal metaalonderdele word dit nie altyd deur mynverklikkers opgespoor nie.

Vanaf 2012 tot 2016 is wêreldwyd meer as 1 miljoen teenpersoneelmyne vernietig. In 2016 het teenpersoneelmyne die meeste slagoffers (8 605) sedert 1999 (9 228) geëis. Die meeste slagoffers is burgerlikes en kinders.



DIE WÊRELD EN NAMIBIË

Onlangse, gerapporteerde voorvalle in Namibië sluit in die ontdekking van 'n Sowjet-teentenk­landmyn tussen Oshigambo en Eenhana in Januarie 2016. In Augustus 2017 is ploftoestelle opnuut in die Zambezistreek vernietig.

In April 2015 het 'n vrou en dogter gesterf toe 'n ploftoestel by die Omawe-nedersetting naby Omuthiya ontplof het.

In Mei 2015 is berig dat meer as 300 mense sedert 2000 deur landmyne beseer is of gesterf het, die meeste in Kavango se grensgebied met Angola.

Volgens die Landmynmonitor is 14 mense in 2000 in landmynvoorvalle dood en 126 beseer. Teen 2002 het die syfer tot twee sterftes en 17 beserings afgeneem, maar tussen 1999 en Desember 2008 het minstens 145 burgerlikes gesterf en is 473 deur landmyne en ploftoestelle beseer.

Soortgelyk

 

Duisende registreer vir e-taks

2 ure gelede | Ministeries

Elvira Hattingh - Altesaam 192 225 belastingopgawes is teen Dinsdag via die ministerie van finansies se nuwe aanlyn belastingdiens, die geïntegreerde belastingadministrasiestelsel (Itas), ontvang.Mnr. Tonateni...

Apollo 11-euforie só onthou

2 ure gelede | Tegnologie

Ronelle Rademeyer - Namibië se eie ruimteman, dr. Japie van Zyl, sê ’n getekende foto van die drie Apollo 11-ruimtevaarders, Neil Armstrong, Buzz Aldrin en...

Kalender 12 Julie

2 ure gelede | Kuns en vermaak

Nou aan die gang» Bottomless Coffee Band is ’n instrumentele, alternatiewe duo wat bestaan uit die getroude paartjie Lourens en Esté Rabé van Kaapstad, Suid-Afrika....

Weer vir 19 Julie 2019

2 ure gelede | Weer

BINNELAND: Sonnig en warm tot baie warm in die Noorde.KUS: Sonnig en matig tot warm.GETYE BY WALVISBAAI: H 04:47 L 10:41...

Nuwe begin vir vier wildehonde

2 ure gelede | Omgewing

Francoise Steynberg - Ná die tragiese skietvoorval in Februarie waarin drie wildehonde van die N/a’an ku sê-stigting en -wildreservaat glo deur personeel van die...

Unam werp lig op kragonderbreking

2 ure gelede | Onderwys

Denver Kisting – Die Universiteit van Namibië (Unam) het gister by monde van sy woordvoerder, mnr. Johannes Haufiku, ontken die instelling se kragtoevoer is weens...

Miljarde nodig vir watersekuriteit

2 ure gelede | Ministeries

Elvira HattinghDie plaaslike watersektor moet in die volgende vyf jaar 'n begrotingsgaping van sowat N$11,7 miljard oorbrug om enkele mikpunte vir waterverskaffing en sanitasiediente te...

Kersfees en kuns in Julie

2 ure gelede | Kuns en vermaak

As jy lus is vir feestelikheid in Julie, maak gerus ’n draai by die Omba-galery in Talstraat waar die ’Ikhoba Textiles Farm Project sy 17de...

Mrs J maak ’n Windhoekse draai

2 ure gelede | Kuns en vermaak

Binnekort besoek die bekende Theresa Sedras, beter bekend as Mrs J van Suidooster, die land van die dapperes. Gospel Care Ministry bied in Augustus ’n...