Ons Taal: Woordwitbroodjies
Verlede week het 'n hele paar ouers 'n emmer ysige water oor die kop gekry met Brad Huddleston se lesing oor digitale kokaïen, ofte wel die verslawing aan rekenaars, slimfone en al die toeps daarop. 'n Hele klomp van ons moes bieg dat ons (en ons kinders!) te veel oneffektiewe tyd daaraan bestee. En soos ek my vriendinne en vriende raakloop, vra ons of dinge in die ander huis ook intussen al ietwat verander het. Dis merkwaardig om te hoor dat kinders weer buite speel tot die son water trek. Party knip selfs 'n uiltjie sonder om 'n vloertoertjie uit te haal. En ons het 'n nuwe speletjie uitgedink: Wat is jou gunstelingwoord vir vandag? Die woord kon enige tyd deur die loop van die dag jou oortrom getref het, of jou oog gevang het, of selfs oor jou eie lippe geglip het. Buiten die paar minute se pret op die pad tussen die skool en die huis, maak hierdie speletjie dat ons eintlik die hele dag meer bewus is van woorde, want jy wil graag die een wees wat die trefferwoord noem. Daar is geen kriteria waaraan die woord hoef te voldoen nie, solank dit net regtig 'n woord is, nuutskeppings ingesluit. Verlede week se woorde was onder meer: pienk (sommer omdat dit so lekker sê), flaterwater (omdat dit snaaks is), vermorsel (omdat dit mens aan 'n letterlike gemors laat dink, en toe gesels ons sommer ook oor sy sinoniem, verpletter), snoesig, dromerig, slawernyagtig en blaps. Ek hoor graag van julle woordwitbroodjies.
Lekker woeker! Van die woordesoeker:
Petronella F Genis
[email protected]
Vakgroep Afrikaans
Unam
Lekker woeker! Van die woordesoeker:
Petronella F Genis
[email protected]
Vakgroep Afrikaans
Unam
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie