Ons Taal: Sweer en voortplant
Waarop het mense in die geregshof gesweer voordat daar iets soos ’n Bybel was? Ja, daar was al howe voordat die Bybel bestaan het (soos ons in die Bybel lees), en mense moes sweer dat hulle die waarheid en niks anders nie as die waarheid sou praat. Ek is geen regsgeleerde nie, maar ek weet wel dat baie van ons moderne regsbeginsels van die Romeine kom. Soos enigiemand weet wat iets weet van die Romeinse Ryk, sou niemand wat hulself vandag as beskaafd beskou juis goed gevaar het in daardie samelewing nie, hoewel ons erken dat die Romeinse Ryk een van die gevorderdste beskawings van sy tyd was, en dat dit reeds voor die tyd van Christus en eeue voor die tyd van die Bybel bestaan het. Genoeg leidrade om die vraag te beantwoord? Wag, ek gee nog één: Destyds is vroue nie in die hof toegelaat nie. Nóg een? Wel, as ons na genoeg Romeinse standbeelde kyk, begin die waarheid ons in die gesig staar. En dít is waar Engels die woorde “testify”, “testimony” en “testimonial” kry. Ja, in die Romeinse hof moes jy sweer op ’n paar elemente van jou fisiologiese potensiaal om te kan voortplant. In Afrikaans praat ons egter van iemand wat “getuig” en ’n “getuie” is omdat ons uit die Germaanse eerder as die Romaanse bron van Afrikaans put. In “getuig” sien ons die woord “tuig”, wat die HAT definieer as “toestel wat bestaan uit rieme waarmee ’n perd/muil/donkie ingespan word”. Ons etimologiebronne sê dat ’n getuie dan (in tuig) “voor die hof gesleep is” – ’n uitdrukking wat ons vandag nog ken, hoewel dit dan eerder op ’n beskuldigde betrekking het.
Prof. Herman Beyer
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
[email protected]
Prof. Herman Beyer
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
[email protected]
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie