Ons Mense: Elke (gids)hond kry sy dag
Ons Mense: Elke (gids)hond kry sy dag

Ons Mense: Elke (gids)hond kry sy dag

’n Gesiggestremde Windhoeker voer ’n stryd om die aanvaarding van haar gidshond.
Tanja Bause
Tanja Bause - Letitia Bouwer (28), ’n gesiggestremde Windhoeker en regstudent aan die Universiteit van Namibië (Unam), is gesiggestremd gebore en kan slegs tussen lig en donder onderskei, maar dit keer haar nie om haar drome en ideale na te streef nie.

Letitia het tot graad 3 by die skool vir gesiggestemde kinders in Khomasdal skoolgegaan.

Op negejarige ouderdom is sy na Worcester in Suid-Afrika om haar skoolloopbaan daar voort te sit.

“Dit was senutergend. Soos enige kind van daai ouderdom was ek baie bang. Ek moes my ma, pa, boetie en sussie agterlaat en op my eie in ’n koshuis gaan bly. Ek moes vreemdelinge volkome vertrou. Maar ek glo dit het my die dissipline geleer wat ek vandag het en my sterk gemaak.

“Daar is niks wat ’n mens so sterk maak soos om aan die diep kant ingegooi te word nie. Wanneer jy daardeur is en aan die anderkant uitgekom het, vergeet jy maklik hoe moeilik dit aan die begin was. Daar was ook baie kinders met sigprobleme, so ek was nie die enigste een nie.”

Letitia het in 2009 gematrikuleer en was een van Wes-Kaap se drie toppresteerders.

“’n Jaar later het ek my BA-graad in tale en kultuur met Engels, Frans en Duits as hoofvakke aan die Universiteit Stellenbosch begin en in 2013 voltooi. Ek wou en wil steeds graag ’n tolk in die hof wees, maar weens omstandighede buite my beheer kon ek nie by die hof begin werk nie.”

Sy het toe ’n holistiese gesondheidskursus in Windhoek voltooi.

“Ek het begin werk en masserings op aanvraag gedoen. Werk was baie skaars. Ek het van 2016 to 2019 transkribreerwerk vir onder meer ’n niewinsgewende organisasie gedoen.”

Letitia het vanjaar by Unam met haar LLB-graad afgeskop.

“Ek wil graag regte studeer omdat ek voel ek het baie wat ek my land kan bied. Ek het die intellektuele vermoë en die dryfkrag hiervoor. Ek het ook die uithouvermoë om te veg vir ander mense en vir dit wat reg is.

“Ek is nie die enigste gesiggestremde student by Unam nie, maar wel die eerste met ’n gidshond,” sê sy.

Ringo

Letitia se gidshond, Ringo, is ’n driejarige labrador wat in Suid-Afrika deur die Guide-Dogs Association for the Blind opgelei is.

“Ringo is nou al twee maande by my en kan nog vir die volgende sowat sewe jaar my gidshond wees voor hy sal aftree,” sê sy.

Letitia en Ringo verken al die afgelope twee weke die universiteit se kampus en waar haar klasse gaan wees.

“Ringo moet leer waarnatoe hy moet loop. Hy is geleer om in ’n reguit lyn te loop en om vir verkeer te stop, maar die res moet hy nog leer. Ek kan byvoorbeeld nie vir hom sê vat my na die naaste winkel nie. Hy moet die pad soontoe eers leer ken. Mense moet hul gidshond ook gedurig aanspoor: Vryf sy ore, gee hom ’n drukkie of ’n bederfie. Hulle is nie robotte nie, hulle werk vir beloning. Die band tussen hond en eienaar is baie belangrik.”

Volgens Letitia is dit elke gidshondeienaar se verantwoordelikheid om na sy hond se gesondheid en welsyn om te sien.

“Dit is jou hond, maar die Guide-Dog Association kan hom enige tyd kom afvat as jy hom nie oppas of reg behandel nie. Jy moet seker maak hy is skoon en versorg, dat sy spuite op datum is en hy gereeld ontwurm en ontvlooi word. Jy moet sy ‘landmyne’ optel en sy kwyl afvee.”

Ringo is Letitia se tweede gidshond. In Suid-Afrika het sy ook tydens haar studies van een gebruik gemaak.

“In Suid-Afrika mag mense met gidshonde nie toegang tot openbare ruimtes geweier word nie, wat in Namibië nie die geval is nie. Ek word ten minste een keer ’n week toegang tot ’n winkel of sentrum geweier omdat Ringo by my is. Mense glo nie ek is blind nie, en dink ek neem my troeteldier op ’n uitstappie.”

Volgens haar is dit onkunde en moet mense opleiding ontvang. Dit word bemoeilik deur die feit dat daar tans net twee gidshonde in Namibië is waarvan Letitia bewus is.

“Ons doen wat ons kan om mense te probeer oplei en ons verstaan ons is in die minderheid en dat die hele land nie om ons kan draai nie. Maar met bietjie opleiding en aanvaarding van alle kante af kan dit net beter word in die toekoms.

“Die meeste probleme wat ek ervaar, is met veiligheidswagte wat dink Ringo is ’n troeteldier, en my toegang tot winkelsentrums weier. Dit is waar opleiding nodig is. Dit is waar ek en Ringo kan help met opleiding sodat mense kan verstaan Ringo is nie ’n troeteldier nie, maar lewer ’n diens.

“My ma het nie bang kinders grootgemaak nie, en ek kan vir myself sorg. Ek kan met ’n mes en vurk eet. Ek maak my eie koffie en ek kook. Ek kan ook my eie klere stryk en is heeltemal selfstandig in my eie omgewing. Maar buite my huis het ek Ringo se hulp nodig.

“Daar is ’n gesegde wat my altyd deur moeilike tye dra wanneer ek sukkel omdat ek weer eens toegang geweier is iewers, of omdat ek net nie meer weet watter kant toe nie: ‘Life is not measured by the breaths you take, but by the moments that take your breath away.’

“Dis belangrik om aan die einde van elke dag aan iets te dink wat jou laat glimlag het, wat jou laat goed voel het en jou ’n rede gee waarom die dag die moeite werd was. Dit is belangrik om te sit en ’n oomblik daaraan te dink. Maak nie saak hoe deurmekaar of ontstellend jou dag was nie, soek die mooi, al is dit net vir ’n oomblik.

“Mense moet ook besef dit is oukei om nou en dan bietjie moed op te gee, maar dan moet jy jouself optel en aangaan.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!