'Ons kan. Ek kan.'

In Namibië met sy sowat 2,4 ­miljoen inwoners word ­gemiddeld 10 mense per dag met kanker ­gediagnoseer. Karin* vertel van haar kankerreis van hoop en ­vernuwing.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Siek was sy nooit, ook was daar nooit 'n dag se pyn nie.

Maar meer as twee dekades gelede word sy gekonfronteer met 'n skokdiagnose wat “vanuit die bloute kom”. Op die ouderdom van 42 word Karin met borskanker gediagnoseer en ondergaan 'n mastektomie.

“Ek het dit nie verstaan nie, daar was nie 'n geskiedenis van kanker in my familie nie en die diagnose was iets wat ek glad nie verwag het nie,” vertel Karin.

Sy wou ook nie hê mense moes van haar borskanker weet nie.

“Ek wou nie hê mense moet my jammer kry of om my kloek nie. Ek was dieselfde persoon wat ek voor die diagnose was.”

Haar reis met borskanker begin met 'n knop in haar een bors en vloeistof wat by die tepel uitgeloop het. Sy gaan vir 'n mammogram, maar volgens die ­ginekoloog is daar “nie groot fout nie”.

“Ek het egter vir hom gesê ek sien en voel die knop en dit pla my. Hy het my toe na 'n chirurg verwys.”

Die chirurg het 'n biopsie gedoen en gesê hy kan dit uitsny, “want dit hoort nie daar nie”.

Volgens hom “was alles reg” en was die knop vet-nekrose, 'n komplikasie wat ná 'n besering aan vetweefsel kan voorkom en wat klein knoppe onder die vel vorm wat soortgelyk aan dié van gewasse kan vertoon.

Karin het die oproep wat haar lewe sou verander, van haar huisdokter ontvang wat bevestig het dit is kanker.

“Ek kan eintlik nie regtig beskryf hoe ek gevoel het nie. Dit was onwerklik, ek was duiselig en het gevoel ek gaan nou hier ineen sak.”

Sy het twee opsies gehad. Óf haar hele bors word verwyder óf net die knop en geraakte weefsel word uitgesny.

“Om op 42 te hoor jy gaan jou bors verloor, is erg. Niemand in ons familie het ooit so 'n siekte gehad nie.”

Karin het 'n vriendin gehad wat met haar diagnose reeds 'n gevorderde stadium van kanker gehad het. Dis by haar wat Karin tydens haar eie reis dikwels kon gaan skuil, en die moed en inspirasie vind om die siekte met hoop en geloof aan te pak.

“Sy was verskriklik ondersteunend. Ek het gedink 'kyk hoe sterk is hierdie vrou en sy is soveel erger af as ek'”.

Met haar mastektomie is haar kliere ook verwyder, wat negatief vir kanker getoets het.

“Die kliere was skoon en die kanker is baie vroeg opgespoor, wat baie positief vir my was.”

'n Probleem het egter met Karin se ­operasie ingetree en van haar skouer tot by haar hand aan die kant waar haar bors verwyder is, is verlam gelaat.

Sy is Kaap toe vir bestraling en ook om 'n neuroloog oor die verlamming te gaan sien.

“Ek hoef nie chemoterapie te gekry het nie en kon net sê 'Dankie, Here!' Jong, ek het gebíd!”

In die Kaap het sy benewens die bestraling ook intense fisioterapie vir haar arm ontvang.

“Fisioterapie en gebed het my deurgesien!”

Wanneer sy gesien het hoe sleg dit met van die ander pasiënte gaan, het sy keer op keer besef hoe gelukkig sy eintlik was.

“As ek hulle gesien het, het ek besef my kruis is nie so swaar nie, ek moet vir hulle bid.”

Die paniek met elke opvolgbesoek was maar altyd daar. “As ek weet die afspraak kom, dan panic ek.”

Haar dankbaarheid en erkenning aan haar vriendin wat ook 'n kankerpad moes stap, skemer telkens in haar vertellinge van toe deur.

“Sy het my baie ondersteun en só geïnspireer. Sy is oorlede presies 'n jaar ná my diagnose. Ek het so baie dinge geleer uit my ervaring omdat ek by haar was.”

Karin beklemtoon egter dat geen twee gevalle dieselfde is nie.

“Die een se prognose is nie dieselfde as iemand anders s'n nie.”

'n Reuseplus vir Karin was dat die kanker so vroeg opgespoor is.

“Dit was iets wat die dokters herhaaldelik beklemtoon het en wat groot in my guns getel het – die feit dat ek so waaksaam was en wat gemaak het dat dit vroeg opgespoor kon word.”

Gebed het haar vlerke gegee en gedra.

“God gee vir jou 'n kruis, maar Hy sal jou nooit straf nie. Kanker is nie 'n straf nie. God antwoord al ons gebede, maar soms sê Hy nee. Moenie vra waarom ék nie.”

Karin maan kankerlyers om hulle nie te steur aan wat ander mense oor hul prognose sê nie.

“Jou houding en ingesteldheid is baie belangrik. Gló onvoorwaardelik dit is nie die einde of 'n doodsvonnis nie, dit is al bewys. Konsentreer daarop om steeds 'n vol lewe te lei.”

Dit was juis haar positiewe ingesteldheid wat min mense sou kon laat glo sy was besig om teen kanker te baklei.

“Mense het vir my gesê ek lyk asof ek niks makeer nie en dat my uitkyk so ­positief is.”

Vandag “doen sy wat sy moet doen” en kry baie oefening.

“Ek laat niks in my pad staan nie. Ek gee nou tien keer meer om, is meer ver­sorgend en liefdevol en het soveel meer empatie met mense. My lewe die ­afgelope jare was ook voller.”

Sy erken sy het ná haar reis met kanker nóg harder gewerk, voluit vir geleent­hede gegaan en die honger was daar om nog meer te bereik.

“Ek het gevoel ek moet gebruik maak van hierdie kans wat ek gekry het, en nog harder werk, meer insit.”

Noudat sy ouer en wyser is, besef sy hoe belangrik ondersteuning en omgee is. Dit is ook haar raad aan vriende, familie en versorgers van kankerlyers.

“Ondersteun net so goed as wat jy kan. Vra wat kan jy vir die persoon doen, help met praktiese goed. Wees betrokke en teenwoordig, wys dat jy regtig omgee.”

Dis ook baie belangrik om die kankerlyer te motiveer, sê Karin.

“Baie mense kry so 'n kruis om te dra en party se kruis is swaarder as ander.”

Sy beklemtoon ook slegs God het die besluit oor lewe en dood.

“Wie het die reg om te sê jy gaan dit nie maak nie? 'n Dokter is nie God nie, dinge kan altyd verander.”

Dis ook vir kankerlyers belangrik om hulself nie te isoleer nie.

“Omring jouself met mense. Dit is 'n reis en nie 'n einde nie.”

* Skuilnaam

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!