Onnie slaan kind glo

Ministerie ondersoek voorval

11 October 2019 | Misdaad
Henriette Lamprecht



'n Ministeriële ondersoek is van stapel gestuur ná 'n tienjarige seun glo Vrydag by 'n skool in Windhoek deur 'n onderwyser aangerand is.

Die seun se ouers het 'n klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer teen die onderwyser by die Katutura-polisiekantoor in die hoofstad aan­hangig gemaak.

Die graad 4-leerling aan 'n laer­skool in Khomasdal is glo met 'n stok op die oor geslaan.

'n Hooggeplaaste bron in die ministerie van onderwys, kuns en kultuur het die ondersoek bevestig.

Met verwysing na die voorval het die bron gesê die skool se hoof was Vrydag by 'n vergadering vir skoolhoofde wat elke drie maande plaasvind. 'n Groot groep onderwysers by die skool was op dieselfde dag afwesig.

“Die kinders was glo rumoerig en het op die vlakte rondgehol. Die betrokke onderwyser moes die kinders in die klasse probeer kry en die uiteinde was 'n lat op die lyf. Die onderwyser was glo hoogs gefrustreerd en raadop,” het 'n bron gesê wat bevestig het die kind is ook oor die kop geslaan.

Die ministerie het Woensdag 'n vergadering met die leerling se ouers belê waar die skoolhoof, 'n raadslid en die inspekteur vir die Khomasstreek teenwoordig was.

Verslae oor die voorval deur elkeen wat daarby betrokke was, wat die onderwyser en die kind insluit, vorm deel van die ministerie se ondersoek.

Lyfstraf is nie net ongrondwetlik nie, maar word ook statutêr kragtens artikel 56 van die onderwyswet in beide staat- en private skole verbied.

“In die geval van lyfstraf is daar 'n proses wat gevolg moet word. Verslae word ingedien waarin die onderwyser ook die kans het om sy saak op skrif te stel.”

Die uitslag van die proses hang volgens die bron daarvan af of die onderwyser die oortreding ontken of erken.

“Daar is twee roetes wat gevolg moet word: Word die oortreding ontken, word 'n dissiplinêre komitee saamgestel wat tydens 'n verhoor 'n aanbeveling oor die gepaste straf maak indien daar 'n skuldigbevinding is.

“Word die oortreding erken, word die verslag en dokument na die kantoor van die uitvoerende direkteur gestuur wat 'n spesifieke straf voorstel.”

In dié geval het die betrokke onderwyser erken hy het die kind geslaan.

Volgens die bron word 'n indaba ook volgende week by die skool gehou waartydens die waarnemende direkteur van onderwys vir die Khomasstreek, die inspekteur vir die streek en ook die onderwyser oor die voorval sal vergader.

Volgens een van die kind se ouers is dit die eerste jaar wat die onderwyser uit Finland skoolgee en was hy glo nie bewus van die skool se beleid oor lyfstraf nie.

Tydens 'n vergadering Woensdag het die ouer gesê die meeste onderwysers was glo Vrydag afwesig en spanning het opgelaai.

Sy sê ook die onderwyser het haar kind met 'n boomtak op die blad en oor sy slaap geslaan.

Volgens haar het die dokter wat hom Maandag ondersoek het, gesê die houe was baie naby aan haar kind se oog.

Sy sê ook die onderwyser het haar kind nie om verskoning gevra nie.

Die kind het gehuil en bloed het uit die wond op sy oogbank geloop, sê sy. Sy sê sy is nie teen lyfstraf gekant nie, maar dan “op die hande en boude”.

- [email protected]

Soortgelyk

 

Spuite, pille nie by klinieke

9 ure gelede | Ministeries

Henriette Lamprecht – Tekorte aan voorbehoedmiddels wat voorbehoedpille en –inspuitings insluit, word tans by openbare gesondheidsgeriewe in die land ondervind.Die direkteur van die ministerie van...

Sakkepakke op Lüderitz

9 ure gelede | In beeld

Tanja Bause - Die eerste trein in meer as 20 jaar het Lüderitz in Augustus vanjaar binnegery. Die trein, wat uit twee lokomotiewe en 20...

Gróót oë op Jan Taks

9 ure gelede | Ministeries

Jo-Maré DuddyVerbruikers wat voortaan BTW van 15% op suiker sal moet betaal, is een van die rits belastingaankondigings wat in vanmiddag se halfjaar-begrotingshersiening verwag word.Kenners...

Drie dae, sewe kinders glo verkrag

9 ure gelede | Misdaad

Sewe minderjarige meisies, waarvan die jongste vier en die oudste 15 jaar oud is, het na bewering binne ’n kwessie van drie dae die jongste...

Pushing the boundaries

9 ure gelede | Skole

Ester Kamati “I enjoy coming up with ideas, often random, often impractical, but occasionally valuable,” says young businesswoman of the year Hilja Eelu. Eelu is...

Weer vir 22 Oktober

9 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en bloedig warm in die Noordooste, andersins sonnig en baie tot bloedig warm. Winderige toestande sal oor die binneland voortduur. KUS: Gedeeltelik...

Japannese keiser bestyg vandag die troon

9 ure gelede | Gebeure

Ronelle Rademeyer - Terwyl vanjaar se Rugbywêreldbeker sy einde nader met die halfeindstryde wat die naweek gespeel word, is die wêreld vandag ook getuie tot...

Dinner for development

9 ure gelede | Skole

Elizabeth Joseph St Barnabas Primary School is calling on its alumni to assist it to build a school hall.The school opened in 1923, but was...

Dis-Chem gives back to the community

9 ure gelede | Skole

Ester KamatiDis-Chem Wernhil has made a surprise donation to Abraham Iiyambo Primary School in Havana. The donation, which was coordinated by Marion Engelbrecht, assisted the...