Onderwysers moet werk, al is hul ingehok
Onderwysers moet werk, al is hul ingehok

Onderwysers moet werk, al is hul ingehok

Met die skoolvakansie wat Maandag verstryk word van onderwysers verwag om produktief vanaf hul huise te werk en selfs bydraes tot leermateriaal vir e-onderrig te maak.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Ofskoon die skoolvakansie Maandag 20 April verstryk en daar van onderwysers verwag word om met hul werksaamhede te begin, sal diegene wat ver van die skole is waar hulle werk, nie toegelaat word om te reis nie.

Reispermitte sal ook nie hiervoor uitgereik word nie.

Die minister van onderwys, kuns en kultuur, me. Anna Nghipondoka, het gisteroggend tydens die Covid-19-inligtingsessies gesê die uitbreiding van die inperking na alle streke in die land, beteken onderwysers kan ook nie reis nie.

Nghipondoka het verduidelik die land beskik oor meer as 30 000 onderwysers, waarvan talle tans elders is en dit problematies vir die stryd teen die Covid-19-pandemie sal wees as so ‘n groot aantal mense toegelaat word om ver te reis.

“Daar waar jy vandag is, moet jy tot 4 Mei bly,” het die minister gesê.

Die regering verwag nietemin van onderwysers om hul werksverpligtinge tot 4 Mei, wanneer die inperkingstyd na verwagting sal verstryk, na te kom. Dit sluit in dat dié tyd produktief gebruik moet word om leermateriaal vir onder meer e-onderrig voor te berei.

“Die vakansie is verby. Bly tuis, begin met voorbereiding en kommunikeer met ander onderwysers op beskikbare platforms,” het Nghipondoka gesê.

Onderwysers, skoolbestuur en –werkers wat naby aan die skole is waar hulle werk, kan by skole aanmeld vir werk solank hulle by voorgeskrewe standaarde vir higiëne, sanitasie en sosiale afstand hou, het die uitvoerende direkteur van onderwys, kuns en kultuur, me. Sanet Steenkamp, gister in ‘n verklaring gesê.

Nghipondoka sê leerlinge bly steeds tuis aangesien dit nie moontlik sal wees om gehoor te gee aan regulasies tydens die pandemie, as die land se meer as 800 000 leerlinge moet teruggaan skole en koshuise toe nie.

“Ons hou hulle liewer veilig tuis terwyl daaraan gewerk word om hulpbronne vir e-onderrig te ontwikkel en uit te brei,” het die minister gesê en bygevoeg die ministerie se planne vir e-onderrig ook die gebruik van multimedia insluit.

PLANNE VIR E-ONDERRIG

Die onderwysministerie se adjunkdirekteur vir inligtingkommunikasietegnologie, mnr. Johan van Wyk, het tydens die inligtingsessie gesê e-onderrig is reeds op die ministerie se Youtube-leerkanaal uitgerol. Namibia Media Holdings se aanlyn kanale sal ook gebruik word om leerlinge te bereik, terwyl onderrig ook op NBC-kanale en gemeenskapsradio van stapel gestuur sal word.

Van Wyk sê sowat 460 van die land se 1 920 skole beskik oor elektrisiteit en inligting- en kommunikasiegeriewe. Party skole het slegs toegang tot 2G-internetgeriewe. Nietemin bereik plaaslike telekommunikasiedienste gesamentlik sowat 80% van die land.

Van Wyk sê tydens ‘n opname is vasgestel dat 75% van plaaslike onderwysers, oftewel sowat 20 300, toegang tot die internet het.

“Die onderwysers het aangedui talle het reeds WhatsApp-groepe vir leerlinge geskep en e-posse, asook WhatsApp-nommers aan ons verskaf wat ons kan gebruik om met hulle te kommunikeer,” het hy gesê.

Die ministerie beoog om hoërskoolleerlinge meestal deur aanlyn onderrig te bereik deur die uitbreiding van bestaande platforms soos Namcol se NotesMaster, asook deur die ministerie se Kopano-aanlynonderrigforum. Vir graad 1- tot 3-leerlinge sal leermateriaal uitgedruk word en pakkette saamgestel word, wat na leerlinge versprei sal word.

Die adjunk- uitvoerende direkteur vir onderwys, kuns en kultuur, me. Eda Bohn, het bygevoeg die ministerie verwag meer as 400 000 leerlinge sal van die pakkette moet ontvang, terwyl planne ook beraam word om aan te hou om die mees behoeftige leerlinge met die skoolvoedingsprogram by te staan.

Nghipondoka sê meer as 13 000 leerlinge het reeds op Kopano en NotesMaster geregistreer, terwyl meer onderwysers ook aansluit.

Sy sê die ministerie identifiseer tans kundige onderwysers in die onderskeie vakke wat in die verskillende streke bymekaarkom om e-leermateriaal te ontwikkel, terwyl talle onderwysers reeds leermateriaal gereed het en hiervoor aangebied het.

Nghipondoka sê vanaf 6 Mei, indien die inperkingstyd nie weer verleng word nie, sal daar van onderwysers verwag word om fisiek by skole op hul poste te wees. “Ons sal egter vir die ministerie van gesondheid wag om eers te sê dit is veilig vir kinders om terug skool toe te gaan,” het sy gesê. Sy het gesê skoolkalenders sal na verwagting aangepas word ná die pandemie. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!