Onderwys u2013 Net die beste moet skole lei
Onderwys u2013 Net die beste moet skole lei

Onderwys – Net die beste moet skole lei

Dani Booysen
'n Skoolhoof beklee 'n besondere posisie in die onderwysgemeenskap.

Die posisie, met die gepaardgaande status, word onmiddellik met leier­skap geassosieer. Die verwagtinge en uitdagings is veelvuldig.

Die skoolhoof se verantwoordelik­hede sluit in die bestuur van onderwysers, leerlinge, fasiliteite en toerusting. Naas personeelbestuur moet hy/sy ook effektiewe leiding gee aan onderwysers en verhoudings met die skoolraad, ouergemeenskap en ander belanghebbendes bestuur.

Die hoof moet ook uitdrukking aan die wense van makro- en meso-bestuurders gee.

Asof dit nie genoeg is nie, word skoolhoofde gedurig met eksterne uitdagings gekonfronteer. Hieronder tel demografiese veranderinge, ekonomiese realiteite, asook druk van vakbonde, bestuur en die media. 'n Skoolhoof se lewe kan ook versuur word deur plaaslike politici.

Die skoolhoof moet saam met ander leiers in die gemeenskap werk, maar sy/haar belangrikste plig is om met die sorgsaamheid van 'n ouer oor die belange van leerlinge te waak.

Skoolhoofde moet ware bestuurders en leiers wees of ten minste oor die potensiaal daarvoor beskik.

Die skoolraad beveel iemand vir die pos van skoolhoof aan. Lede van 'n skoolraad moet hul dus deeglik van die formele en statutêre vereistes vergewis, asook van aansoekers se akademiese kwalifikasies, ervaring en relevante prestasies.

Dit is gebiedend noodsaaklik dat die skoolraad ook persone se werkverrigting in ander poste, professionele ingesteldheid en verhoudings met ouers, gemeenskappe en kollegas in ag neem. Daar is niks wat die skoolraad verbied om na aspekte buite die raamwerk van die formele aanstellingsvereistes te kyk nie; kennis daarvan kan hulle juis help om 'n ingeligte besluit te neem.

Die raad se taak is uiters belangrik. Hulle is, volgens Thordy in School governors: leaders or followers (1994), “. . . advisors, supporters, watchdogs, moderators, facilitators, guardians, managers, directors and trustees”.

Hierdie veiligheidsnet is nodig om seker te maak dat slegs die beste kandidate die kortlys haal en net die bestes aanbeveel word.

Om dieselfde rede behoort 'n raad se aanbevelings nie sonder goeie rede en verduideliking op streek- of nasionale vlak van die hand gewys te word nie.

Dit sal ook goed wees as kortlyste met streekonderwysforums gedeel word.

Navorsing wys skole wat beskik oor skoolhoofde met voortreflike bestuurs- en leiersvaardighede is redelik tot baie suksesvol en funksioneel. Baie skole presteer nie na behore nie en dit kan 'n aanduiding wees dat die regte kandidaat dalk nie suksesvol was nie. Daar is natuurlik heelwat ander redes vir swak prestasie, byvoorbeeld politieke en ander inmenging, 'n gebrek aan opleiding, nepotisme, die ignorering van skoolraadaanbevelings en 'n gebrek aan geskikte kandidate.

In baie gevalle is regstellende aksie die olifant in die voorhuis. Nie regstellende aksie per se nie, maar die gebrekkige verduideliking en toepassing daarvan. Regstellende aksie plaas dikwels 'n mindere premie op kundigheid en ervaring, wat tot groot onmin en ontevredenheid kan lei.

Voorsitters van keuringskomitees kan gerus moeite doen om sulke aanstellings behoorlik te motiveer en te verduidelik.

Dit kan die aanvaarding van sulke besluite makliker maak en die onmin minder.- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-06-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer