Ondersoek na verkeerstelsel sloer steeds
Ondersoek na verkeerstelsel sloer steeds

Ondersoek na verkeerstelsel sloer steeds

Vervolging is nou moontlik na aanleiding van 'n ondersoek oor die installasie van verkeers­kameras van N$12 miljoen.
Jana-Mari Smith
Jana-Mari Smith – Sestien maande nadat die polisie 'n bedrogondersoek na 'n tender van 'n multimiljoendollar-verkeersbestuurstelsel van stapel gestuur het wat onder meer verband hou met die installering van 12 snelwegkameras, is die ondersoek steeds aan die gang.

Die Namibiese polisie (Nampol) het in Mei verlede jaar bevestig hulle ondersoek “'n klag van bedrog” na die tender wat die Namibiese polisie in 2015 aan CSS Tactical Security Namibia toegeken het.

Dié projek het Nampol meer as N$12 miljoen uit die sak gejaag.

“Die saak word nog ondersoek,” het die inspekteur-generaal van Nampol, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, verlede week in 'n skriftelike verklaring bevestig.

Hy het gesê “enige vordering in dié verband sal gedeel word sodra die dossier by die kantoor van die aanklaer-generaal (AG) ingedien is”.

Nampol wou nie kommentaar lewer oor waarom die ondersoek langer as 'n jaar voortsleep nie en of lede van CSS – insluitend die direkteur, mnr. Amos Shiyuka – vir ondervraging ingeroep is nie.



'GEEN TERUGVOER'

Die prokureur, mnr. Francois Erasmus, het egter gesê niemand is tot op hede ondervra nie en dat hulle in die duister bly oor die vordering in die ondersoek.

Alle medianavrae aan Shiyuka en CSS word sedert Augustus verlede jaar na hom verwys.

Erasmus het gesê daar was “geen verwikkelinge” sedert Januarie nie, toe hy geskryf het hulle het “ongelukkig niks van enige bron gehoor oor die afhandeling van die ondersoek, al dan nie”.

Erasmus het verlede jaar benadruk dat die maatskappy nie aan enige oortredings skuldig is nie en gretig is om sy naam van alle blaam te onthef.

Vroeg in Desember verlede jaar – sewe maande nadat die saak aanhangig gemaak is – het Erasmus geskryf hulle het “niks verder van Nampol gehoor nie; ondanks ons navrae en aandrang dat die ondersoek afgehandel word. Ons kliënt wil sy goeie naam en aansien herstel”.



INGEWIKKELD

Die hoof van Nampol se direktoraat van strafondersoeke (CID), komm. Moritz !Naruseb, het in Februarie vanjaar meer besonderhede oor die vordering in die kriminele ondersoek verskaf.

Hy het gesê die ondersoek is “baie sensitief en in 'n gevorderde stadium”, maar het bygevoeg die pandemie het talle onvermydelike struikelblokke meegebring.

Hy het verder benadruk dat hulle “ondanks alles vasbeslote is om die ondersoek binne 'n redelike tyd af te handel”.

Teen Februarie is tien getuies ondervra en beëdigde verklarings geneem, terwyl ander getuies nie by die ­ondervragings opgedaag het nie, het hy gesê.

“CSS Tactical word in hierdie geval as 'n 'persoon van belang' beskou. As sodanig sal hulle laaste ondervra word nadat al die bewyse versamel is,” het !Naruseb bygevoeg.

“Vanweë die erns en die omvang van die saak” en afhangend van die finale bevindings van die ondersoek, sal die kantoor van die AG oor die pad vorentoe besluit, het hy ten slotte gesê.



WIT OLIFANT

Intussen is die 12 hoëtegnologieverkeerskameras wat CSS byna ses jaar gelede as deel van 'n multimiljoendollar-verkeersbestuurstelsel op die B1 en B2 nasionale paaie geïnstalleer het, steeds buite werking en gevandaliseer.

Adj.komm. Amalia Gawanas, Nampol se nasionale verkeershoof, het verlede week gesê sy kan nie enige nuwe inligting verskaf oor die kameras of wat die polisie beplan om daarmee te doen nie, aangesien die saak nou in die CID se hande is.

Daar is al vermeld dat die meerderheid van die kameras buite werking en gevandaliseer is, en dat hul sagteware verval het.

Namibia Media Holdings (NMH) het in 2020 op grond van omvattende terugvoering deur CSS se regspan berig dat CSS in April 2014 die tender ontvang het om die stelsel vir verkeersbestuur te lewer, te installeer en in werking te stel. Die oorspronk­like formele kontrak is in Januarie 2015 vir 'n bedrag van N$3,7 miljoen onderteken.

“Alle verwagtinge ingevolge hierdie oorspronklike kontrak is gedurende 2015 deur CSS nagekom,” het die regspan gesê.

Volgens CSS se regspan het die polisie teen die einde van 2015 op bykomende toerusting en dienste aangedring, waaronder die 12 geel radarverkeerskameras.

Boonop is “tekortkominge in die infrastruktuur by sommige verkeersliggings geïdentifiseer” en die polisie het kwotasies vir netwerk- en gestruktureerde kabels in verskillende streke aangevra.

Gevolglik het die koste verdriedubbel tot 'n totale bedrag van N$12,3 miljoen.

Die regspan het benadruk die “kliënt is angstig vir die ondersoek om afgehandel te word, omdat hy vol vertroue is dat hy ná deeglike oorweging van alle tersaaklike bewyse van enige beweerde oortreding kwytgeskeld sal word.”

[email protected]

FOTO
Ná 12 geel verkeerskameras in 2016 op die B1 en B2 nasionale paaie geïnstalleer is, is verskeie steeds buite werking en gevandaliseer. Foto Tanja Bause

Kommentaar

Republikein 2024-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Southampton 3 vs 0 Preston North End English Championship: Southampton 3 vs 0 Preston North End Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 26km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:25, High tide: 13:40, Low Tide: 19:24, High tide: 01:48 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:38, Low Tide: 19:22, High tide: 01:46 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 36km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:37, Low Tide: 19:22, High tide: 01:45 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!