Omaruru-grastwis opnuut aan die broei

Die owerhede tree glo nie op teen beesboere wat hul vee onwettig teen die Omarururivier laat wei nie, terwyl grondeienaars sê die droogte was húlle ook nie genadig nie.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Grondeienaars teenaan die Omaruru-rivier voorsien ernstige konflik oor weiding tussen hulle en trekboere van elders, wat tans glo sowat 150 bees onwettig in dié korridor laat wei.

‘n Boer met grond langs die korridor sê die droogte het hulle ook in ‘n moeilike posisie geplaas.

Hy sê die grond en gras in die korridor behoort egter aan aangrensende plase, en hy vrees ernstige konflik.

Die owerhede wend boonop skynbaar geen poging aan om die oortreders vas te vat nie.

Die boer sê die beeste kom nie net van die Omatjete-omgewing af nie, maar vermoedelik van oraloor.

Die beeste, wat glo meestal sonder toesig wei, breek glo grensdrade en veroorsaak motorongelukke op die Erindi-Omaruru-pad, asook die Omaruru Game Lodge-pad, terwyl die eienaars moeilik opgespoor word.

Terselfdertyd kom mense snags en sny enige beskikbare gras in die korridor – sonder die nodige permitte of toestemming van grondeienaars, sê die boer.

“Jy kan nie waag om enigiets vir hierdie boere te sê nie, want onmiddellik word aantygings van rassisme gemaak. Dit is egter nie rassisties nie. Ons het self nie weiding nadat ons vanjaar nie eers die helfte van ons normale reëns ontvang het nie. Selfs wild soos gemsbokke vrek,” sê die boer.

Hy is bevrees boere kan koppe stamp en dit kan “lelik raak”.

Republikein het in 2016 ook berig oor boere wat hul beeste van elders gebring het en onwettig in dié gebied laat wei het.

DIE WET

Die Namibië Landbou-unie het intussen ook in hul weeklikse nuusbrief kommer uitgespreek oor die groeiende getal vee wat op padreserwes van die nasionale padnetwerk wei en gesê plaaseienaars, huurders asook plaasbewoners mag nie sonder die paaieowerheid se toestemming gras in padreserwes sny nie.

“Aansoeke vir permitte om gras te sny moet vergesel word van ‘n bewys van eienaarskap van die plaas, ’n huurooreenkoms of ’n bewys van bewoning van die grond.

“Mense wat gras in nasionale padreserwes wil sny en nie ‘n eienaar, huurder of bewoner van die aangrensende grond is nie, moet ook by die betrokke streekkantoor van die Paaieowerheid (RA) aansoek doen.

“Dan moet ‘n oorspronklik getekende brief getoon kan word van die grondeienaar, huurder of bewoner van die grond waarin toestemming gegee word dat die persoon die gras op haar of sy padreserwe mag sny,” het die nuusbrief gelui.

Die NLU het gewaarsku enigiemand wat versuim om aan dié vereistes te voldoen, kan wetlik vervolg word.

Mnr. Thinus Pretorius, die Joint Crime Prevention Forum (JCPF) se voorsitter, het intussen aan Republikein gesê hulle is besig om ‘n verstandhoudingsooreenkoms met Nampol vir ‘n landelike veiligheidsplan aan te gaan.

Dit sal ook die kwessie aanspreek, maar die saak is hangende en hy kan dus nie meer besonderhede verstrek nie, het hy gesê.

Die Paaieowerheid (RA) het op 1 Mei ook ‘n kennisgewing gepubliseer om hul kommer uit te spreek oor die groeiende getal vee wat op padreserwes van die nasionale padnetwerk wei, wat “’n ernstige gevaar vir motors inhou en fatale motorongeluke kan veroorsaak”.

Die RA het ‘n versoek aan die publiek gerig om vee te alle tye binne toegespande weidingsgebiede te hou – weg van padreserwes en paaie.

“Verder kan die RA nie enige verantwoordelikheid aanvaar vir die diere en enige ongelukke wat deur hulle veroorsaak word nie,” het die kennisgewing gelui.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!