Om te behoort, al is dit op straat

Meeste het ouerhuise, kies om te bedel

07 December 2018 | Plaaslik
Henriette Lamprecht – Die meeste is seuns tussen die ouderdomme van 11 tot 18 jaar, het wel ‘n ouerhuis om na terug te keer, is Damarasprekend en het slegs tot graad 8 op die skoolbanke deurgebring.

Windhoek se straatkinders is deesdae deel van die hoofstad se profiel met van die kinders wat uit van Gobabis tot Mariental afkomstig is, en net weer en weer terugkeer na ‘n lewe van “zula” eerder as om by hul ouerhuise te bly.

‘n Studie deur die Universiteit van Namibië (Unam) in opdrag van die ministerie van geslagsgelykheid en kinderwelsyn het die soeklig laat val op die deursnitprofiel van ‘n straatkind, hoekom hy of sy op die strate beland het en waarom dit so belangrik is om juis nié vir hulle geld te gee nie.

Volgens die studie, Demographic profile of street children: A study of Windhoek, 2015, is die oorweldigende meerderheid van straatkinders in Windhoek manlik (84%) teenoor die 16% meisies of vroue.

Hul ouderdomme wissel van 11 tot 18 jaar en die jongste ouderdom ses jaar. Die oorgrote meerderheid van die straatkinders wat deel van die studie was (61%), het tydens die opname nie skool bygewoon nie, terwyl sommige ‘n mate van primêre skoolonderrig gehad het. Die mees dominante taalgroep onder respondente was Damara (55%), terwyl Shona-sprekers in die minderheid was.

Hoewel die mite bestaan dat die meeste straatkinders wees is, het die meerderheid van die respondente (75%) steeds een of beide biologiese ouers en ‘n ouerhuis gehad om na terug te keer nadat hulle daagliks of vir ‘n maand op die strate oorleef het.

Die meeste kinders het grootgeword met net ‘n enkelma (31%) of ‘n ouma of oupa (25%) en het van hier af besluit om eerder op die straat te gaan bly. Meer kinders (13,4%) het egter gekies om eerder op straat te bly as om by ‘n ander familielid of ‘n stiefouer(8,3%) te gaan bly.

Meer as die helfte van die straatkinders (60%) word gekategoriseer as “leef op die straat” omdat hulle wel ‘n huis het om na terug te keer nadat hulle vir ‘n dag, maand of selfs langer op straat gebly het. Dieselfde groep bedel of werk ná skool op straat en het ouers of voogde wat vir hulle instruksies gee oor wat om te doen. Sowat 40% van die respondente “leef van die strate” en het nie huise om na terug te keer nie en bly saam met familie (ouers, broers en susters) of vriende op straat deur die dag. Snags vra hulle vir ander ‘n plek om te slaap. Die uitdrukking “van die straat (of the street)” verwys na straatkinders wat voltyds op straat bly, terwyl dié “op die strate” deeltyds daar is. Die meeste van die straatkinders (60%) bestee hul dae op straat, maar slaap saans by hul families.

Die tydsduur wissel wat straatkinders hul lewe en tyd op straat verwyl. Meer as die helfte van die respondente (68%) was vir ‘n jaar tot drie op die strate.

Volgens die verslag word hul tienerjare daarom eerder daaraan gewy om te oorleef as om ‘n identiteit te vorm en op hul skoolwerk te fokus. Dit is daarom nie ‘n verassing dat die meerderheid van die respondente nie verder as graad 8 gevorder het nie.

Die redes waarom dié kinders op straat beland, is legio. Die grootste dryfvere waarom dié wat steeds ‘n ouerhuis het, kies om onder meer te gaan bedel, is armoede (37%) en ‘n gebrek aan kos (35%) by die huis. Dié wat die strate hul permanente tuiste maak, word grotendeels ook deur armoede gedryf, maar is ook weeskinders (22%).

Sowat 5% van die respondente het alkoholmisbruik en egskeiding as dryfvere uitgesonder. Ook is daar hul onvermoë om aan te pas by gestruktureerde omgewings, daggamisbruik en dat hulle nie gesê wil word wat hulle mag of nie mag doen nie, wat maak dat hulle steeds die strate ‘n vaste tuiste verkies.

Nog lokaas is ‘n sosiale groep of bende wat in hul basiese behoeftes voorsien (27%), toegang tot kos en geld, en om weg te kom van probleme by die huis.

‘n Gevoel van behoort het volgens die studie ‘n beduidende invloed op straatkinders se besluit of hulle op die strate gaan bly of eerder na hul ouerhuise terugkeer.

Dié kinders se grootste bron van oorlewing is om te bedel en te steel (58%), terwyl die minste respondente (3%) se oorlewingstrategie kommersiële sekswerk en die verkoop van dwelms is.

Die meeste van die straatkinders in Windhoek is in die hoofstad gebore, terwyl ‘n paar uit Zimbabwe en Suid-Afrika geëmigreer het.

Dié wat van buite Windhoek afkomstig is, was meestal van Rehoboth en Keetmanshoop. Volgens die verslag dui die bevindinge daarop dat die dorp waar die respondente vir die eerste keer op straat gebly het, meestal grensdorpe soos Gobabis en Oshikango was, maar ook kusdorpe soos Lüderitz en Swakopmund insluit.

Wat hul gesondheid betref, maak die meerderheid respondente (90%) van staatsgeriewe gebruik en is hulle nog nooit behandeling geweier nie. Wat kos betref, is dit meestal skenkings van vreemdelinge (43%) of die krap vir kos op stortingsterreine of in asblikke (20%). Hul klere kry hulle van vreemdelinge wat dit skenk (34%), vriende (24%) en ouers of ander familielede (17%). Vir persoonlike higiëne, soos bad, en ablusiegeriewe maak die meeste respondente gebruik van openbare geriewe, die bosse en rivierbeddings of private huise (51%).

Die maklikste manier om te oorleef, bly volgens die verslag om vir kos en geld by vreemdelinge en spesifiek witmense te bedel. Ras beïnvloed volgens die bevindinge duidelik waar en van wie die straatkinders bedel.

Die ministerie van geslagsgelykheid en kinderwelsyn doen reeds vir jare bewusmaking oor die negatiewe uitwerking om straatkinders met kontant te ondersteun omdat dit gebruik word om dwelms te koop en die teenwoordigheid van straatkinders verhoog. Kommer word ook uitgespreek oor die feit dat van die respondente kommersiële sekswerk as ‘n maklike manier van oorlewing gebruik, hoewel dit net op 1% van die straatkinders van toepassing was.

Die ministerie se naskoolsentrum in Khomasdal is juis geskep met die doel om as ‘n hawe vir behoeftige en hawelose kinders te dien. Straatkinders kan hier oornag en word weer in skole en ook by hul families herintegreer.

Volgens die verslag is meer as ‘n derde van die respondente (75%) al deur die Namibiese polisie opgelaai, met die meerderheid wat na ‘n polisiekantoor geneem is en meer as ‘n dag, en in sommige gevalle tot vyf dae, hier deurgebring het.

Om hulle van die strate af te kry, sê die meeste hulle wil eers kontant in die sak hê voordat hulle die strate vaarwel gaan roep. Eenstemmingheid onder respondente is dat hulle finansiële, materiële of emosionele ondersteuning (41%) moet hê en aan hul ingesteldheid sal moet werk voordat hulle weer na hul ouerhuise terugkeer. Dit is veral van toepassing in gevalle waar daar ‘n gebrek aan vertroue en vrees vir families is.

Volgens die studie wil die meeste straatkinders graag weer met hul families herenig word (49%), hoewel net ‘n paar na hul ouerhuise probeer terugkeer het (3%).

Die helfte het in dié verband nie by enige inisiatiewe betrokke geraak nie, maar verkies om op straat te bedel om hul situasie te verbeter.

Ministeries in die algemeen, die kantoor van die president, familielede en ouers moet volgens die verslag betrokke raak om die omstandighede van kinders te verbeter wat op straat bly.

Straatkinders ontvang meestal maaltye, water en klere van die ministerie van geslagsgelykheid, terwyl toelaes, skoolgeld en berading ook ingespan word om die kinders by te staan en te ondersteun.

Tog lui die verslag die algemene publiek en familielede het volgens die straatkinders die meeste empatie met hulle lot. Volgens die meerderheid respondente moet die regering en die ministerie ‘n halfweghuis of oornagskuiling oprig waar straatkinders tydelik kan bly, toegang tot basiese noodsaaklikhede soos kos, higiëne en skool het, en waar hul talente en vaardighede ontwikkel kan word.

(Bron: Demographic profile of street children: A study of Windhoek, 2015. Johanna CN Nashandi (departement maatskaplike werk), dr. Honoree Mitonga (Skool vir Openbare Gesondheid), Universiteit van Namibië – Maart 2017)

Soortgelyk

 

Padgebruik al duurder

4 ure gelede | Vervoer

Die Padfondsadministrasie (RFA) het ’n 4,3%-verhoging op padgebruik aangekondig, wat van 1 Mei af geld. Dit beteken tariewe by grensposte verhoog, asook tariewe op voertuie...

Padgebruik al duurder

4 ure gelede | Vervoer

Die Padfondsadministrasie (RFA) het ’n 4,3%-verhoging op padgebruik aangekondig, wat van 1 Mei af geld. Dit beteken tariewe by grensposte verhoog, asook tariewe op voertuie...

Gesondheid: Advertensie vals

5 ure gelede | Gesondheid

Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) sê 'n inligting wat op sosiale media sirkuleer oor opleidingsgeleenthede by die ministerie is vals. Die vals...

'n Seder val in Swapo

14 ure gelede | Mense

Ronelle Rademeyer - Huldeblyke stroom sedert vroeg gisteroggend in die sosiale media in nadat dit bekend geword het Namibië se voormalige vise­president (2015 – 2018)...

Duitsland gee ou kruis terug

14 ure gelede | Plaaslik

Ronelle Rademeyer - Een van die belangrikste artefakte uit die glorieryke ontdekkersera van die Portugese seevaarders sal in Augustus deur die Duitse museum vir geskiedenis...

Weer vir 20 Mei 2019

14 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Koue en winderige toestande word in die Suide verwag. Die nodige voor­sorgmaatreëls moet getref word. BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm in...

Namport dank 86 werkers af

14 ure gelede | Plaaslik

Die Namibiese haweowerheid, Namport, het Vrydag aangekondig 86 werkers by die vraghouerterminaal by die Walvisbaaise hawe wat in Augustus aan 'n onwettige staking deelgeneem het,...

Speaker dring aan jeug moet by kiesproses betrek word

14 ure gelede | Politiek

Denver Kisting - Die speaker van die Nasio­nale Vergadering (NV), prof. Peter Katjavivi, sê die jeug moet by die verkiesings­proses betrek word.Die uitvoerende hoof van...

'Sam Nujoma is 'n ikoon'

14 ure gelede | Regering

Stigterspresident Sam Nujoma se 90ste verjaardagvieringe is Saterdag op Etunda in die Omusatistreek gevier en deur verskeie hooggeplaastes bygewoon. President Hage Geingob het Nujoma as...