Olifantveiling gaan ondanks internasionale protes voort

‘Korrupsie’ wek ook kommer

01 February 2021 | Omgewing
Francoise Steynberg Verskeie pleidooie, petisies, briewe en internasionale druk op die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme teen die verkoop van 170 olifante het op dowe ore geval.
Die ministerie se tender vir die verkoop van 170 olifante, insluitend sogenaamde woestynaangepaste olifante, het gesluit. Die ministeriële woordvoerder, mnr. Romeo Muyunda, het bevestig die tender het Vrydag om 16:30 gesluit en die tenderboks sal vandeesweek oopgemaak word.
Op ’n vraag of die media dit kan bywoon, het Muyunda nie geantwoord nie.
Intussen kry die kwessie groot aandag in die internasionale media.
Volgens verskeie bewaringskundiges is die regering se olifantbevolkingsgetalle opgeblaas en word olifantmigrasie nie in ag geneem nie. Daar word bevraagteken waarom Namibië nie in 2016 aan die Groot Olifantsensus – die eerste standaard opname van olifante in Afrika – deelgeneem het nie.
Volgens die ministerie het Namibië se olifantbevolking van 7 500 in 1995 tot meer as 24 000 tot op hede gegroei. Dié toename, asook van voorvalle van mensolifant- konflik en die droogte word as redes vir die verkoop van 170 olifante gegee.
‘MISDAAD TEEN DIE NATUUR’
Bewaringskundiges meen tussen 73% en 84% van die ministerie se beraming van 24 000 olifante bestaan uit “oorgrens-olifante” wat tussen Namibië, Botswana, Angola en Zambië beweeg.
“Hierdie internasionale olifante ‘behoort’ nie aan enige iemand nie en Namibië se voorstel om hulle te vang en uit te buit, is ’n misdaad teen die natuur,” het mnr. Mark Hiley van National Park Rescue gesê. In een van verskeie petisies teen die veiling word kommer uitgespreek oor toenemende regeringskorrupsie in die lig van die Fishrot-skandaal en ReconAfrica se voorgenome oliesoektog in die Kavango-delta in die noordooste van Namibië en noordweste van Botswana – die laaste vesting van olifante in die wildernis.
“Ons moet ophou om wild deur die lens van ’n onmiddellike kontantinspuiting te sien en die waarde daarvan as ’n lewende deel van ’n funksionerende omgewing te besef. Wildlewe soos olifante bied aansienlike voordele aan mense rakende ekostelsels, wat sal ineenstort indien biodiversiteit tot niet gaan,” het me. Mary Rice van die Environmental Investigations Agency (EIA) gesê.
Die 170 olifante te koop is van kommersiële boerderygebiede by Omatjete en Kamanjab in die Noordweste, asook van die Grootfontein- Kavango-Tsumkwegebiede in die Noordooste.
Op eie bodem het toerisme- en omgewingsorganisasies, kommunale bewaringsgebiede en lodges ook wal gegooi, veral teen die 30 olifante in die Omatjete-omgewing wat aan Namibiërs en buitelanders te koop aangebied is.
Een van die omgewingsorganisasies is die Kunene Environmental Protection Association (Kepa) wat middel Januarie saam met meer as 30 ander rolspelers briewe van teenkanting aan die ministerie oorhandig het.
Die organisasies, bewaringsgebiede en lodges meen sogenaamde woestynaangepaste olifante kan deel wees van dié wat gereeld die Ugabrivier en omliggende gebiede besoek, wat ’n groot trekpleister vir internasionale toeriste is.
[email protected]

Soortgelyk

 

Okavango-alliansie vra vir moratorium op oliesoektog

1 uur gelede | Omgewing

'n Alliansie van plaaslike en internasionale burgerlike organisasies en aktiviste, Save Okavango's Unique Life (Soul), wil hê 'n moratorium moet geplaas word op ReconAfrica se...

Namibië se Ontplooiings- en Immuniseringsplan "onder die beste...

3 ure gelede | Gesondheid

Namibië se Ontplooiings- en Immuniseringsplan teen Covid-19 is deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) as "een van die beste in die wêreld" beskryf. Volgens die minister van...

N$583 miljoen vir Namibië se Covid-19 Ontplooiings- en Immuniseringsplan...

4 ure gelede | Gesondheid

Die totale voorgestelde begroting vir Namibië se Ontplooiings- en Immuniseringsplan vir Covid-19-entstowwe is N$583 miljoen waarvan N$484,8 miljoen vir die aankoop van die entstowwe is....

Covid-19-regulasies geld tot 31 Maart

4 ure gelede | Gesondheid

Pres. Hage Geingob het pas by Staatshuis aangekondig die huidige Covid-19-maatreëls geld vir die volgende 36 dae vanaf middernag tot 31 Maart (Onafhanklikheidsdag op 21...

Metro spoils its customers

6 ure gelede | Plaaslik

Metro Namibia celebrated its birthday in style once again by spoiling five lucky customers each to a trailer of their own, stocked with N$5,000-00 worth...

Knopvelsiekte breek in Omaheke uit

15 ure gelede | Landbou

Knopvelsiekte het by Eiseb in die Omahekestreek uitgebreek en die beweging van beeste in dié gebied is tot verdere kennisgewing opgeskort.Dr. Albertina Shilongo, hoof-veeartsenybeampte in...

Vrou woon in haar motor by hospitaal

15 ure gelede | Mense

Henriette Lamprecht – 'n Bejaarde vrou van die kus woon die afgelope week in haar motor in die parkeerterrein van 'n staatshospitaal in Windhoek om...

Toekoms van 77 Air Nam-vlieëniers onseker

15 ure gelede | Vervoer

Francoise Steynberg – Altesaam 77 vlieëniers van Air Namibia se toekoms is onseker. Boonop het bykans 75% van die redery se vlieëniers se lisensies verval...

Ses damme voller as 100%

15 ure gelede | Weer

Elvira Hattingh – Terwyl altesaam sowat ses Namibiese damme tans 100% of meer water bevat, oorstroom die Zambezirivier sy walle, met water wat in die...