Nuwe toerismeroete vir Kaza-avonturiers

Raid Cacimbo Cuca skop af

12 July 2018 | Toerisme
Francoise Steynberg



Toerisme verbreed sy horisonne met Raid Cacimbo Cuca 2018 – die eerste Angolese toerisme­roete in die Kavango-Zambezi-­­oor­grensgebied (Kaza TFCA) na Namibië.

Vanjaar se groot avontuurekspedisie langs dié nuwe roete sal van 21 Julie tot 5 Augustus met sowat 50 deel­nemers plaasvind, wat 5 000 km deur drie lande van Kaza - Angola, Namibië en Botswana - sal reis.

Die roete is verlede week in die Angolese hoofstad, Luanda, ingehuldig en word deur die Angolese ministerie van toerisme ondersteun.

Die Angolese minister van ­toerisme, me. Angela Bragança, was teenwoordig, asook die staatsekretaris vir jeug, me. Mayer Alcaim, die nasionale ­uitvoerende koördineerder van die Kaza-projek, mnr. Rui Lisboa, borge, organisasies asook deelnemers aan die eerste Cacimbo Cuca in 1996.

Vanjaar se Raid Cacimbo sal 'n nuwe roete volg met Boa Fé, Binorio, Jamba en Bobuata ingesluit.

Die roete, wat ook andersom gedoen kan word, is met asemrowende land­skappe, geskiedkundige terreine en natuur­reservate besaai.

Die grootste konsentrasie van die Afrika-buffel kan in die Luengue Luiana Park gesien word en op pad is ook ou Unita-geriewe en die bekende Rio Cuando.

'n Lid van Social Team Angola, mnr. Ricardo Fernandes, het gesê die Raid Cacimbo dra die gees van avontuur en ontdekking van die “Cacimbados”.

“Dit is ons doelwit om Angola met sy riviere wat die groot Okavangodelta voed, aan die wêreld te wys. Ons wil graag Angola as 'n toeristebestemming in die konteks van ­volhoubare toerisme bevorder,” het Fernandes gesê.

“Die Raid Cacimbo het meer as 20 jaar se geskiedenis met hoof- en ander roetes wat in 18 provinsies van Angola en vier Afrikalande oor ­duisende ­kilometers in vergete plekke en die mooiste en ongewone Afrikaland­skappe ontdek is.”



DIE STORIE VAN RAID CACIMBO

Die Raid Cacimbo het in 1996 afgeskop en sedertdien 'n prominente plek op die kalender ingeneem, maar is van 1998 tot 2001 weens onveiligheid onderbreek.

Die aantal voertuie wissel jaarliks van 10 tot 15 en wissel ook volgens die moeilikheidsgraad van die roete, wat tussen 3 000 km en 8 000 km lank is. Die roete word twee tot drie weke agter­eenvolgend in verskeie Angolese provinsies gedoen en sommige reise het grense oorgesteek.

In die geskiedenis van die Raid Cacimbo staan twee ekspedisies uit: Die eerste een in 1996 het met 92 mense, 33 TT-voertuie en 'n ­motorfiets die meeste deelnemers gehad, en in 2009 is die verste gereis – 7 800 km in 22 dae.

Die “Cacimbados” het reeds die 18 Angolese provinsies deurkruis en die verste punte wat bereik is, is Miconge (Cabinda), Soyo (Zaïre), Chiluage (Lunda Sul), Lago Dilolo (Moxico), Cinde (Kwando Kubango) en Foz do Rio Cunene (Namibië). Raid Cacimbo het al oorgrenspaaie oorkruis na Maputo (Mosambiek) en Loubomo, voorheen Dolisie, in die Demokratiese Republiek die Kongo.

Die groep is nie mededingend nie, maar wedrenne kan by sekere punte georganiseer word, hoewel hulle hulself distansieer van spoed en ander risiko's wat gewoonlik deel van kompetisies is.



SOCIAL TEAM ANGOLA

Social Team Angola is in 2012 gestig en is 'n multidissiplinêre groep wat veral op die ontwikkeling van maat­skaplike sportaktiwiteite fokus.

Alle geleenthede is gebaseer op maatskaplike verantwoordelikheid en gemeenskapsbetrokkenheid.

Hulle is verbind aan sport in die ­algemeen met die ontwikkeling van atlete en deelname in sport, en fokus op die waardes van maatskaplike ­verantwoordelikheid, omgewingsbewaring en spangees.

Kaza is 'n projek wat bestaan uit vyf Afrikalande naamlik Angola, ­Botswana, Namibië, Zambië en ­Zimbabwe. Dit is die grootste oorgrens­bewaringsgebied in die wêreld en spog met die grootste ­olifantbevolking in Afrika.

Kaza is 520 000 vierkante kilometer groot en bestaan uit sowat 40 nasionale­ parke, natuurreservate, woudreservate, bewaringsgebiede, wildbestuurgebiede en toerismekonsessies. Dit spog met toeristeaantreklikhede soos die Victoria-­valle, een van die sewe natuurwonders van die wêreld, en 'n wêrelderfenisgebied, asook die Okavango-delta, die grootste Ramsar-gebied ter wêreld.

Minstens 3 000 plantspesies en 600 voëlspesies kom in die ­opvangsgebiede van die Zambezi- en Kavangorivier voor.

Soortgelyk

 

Naam van man bekend wat in ongeluk sterf

2 ure gelede | Ongelukke

Die 41-jarige man wat Donderdag in ’n ongeluk op die Outjo-Otavi-grondpad gesterf het, is as Smit de Wet Louw identifiseer. Die kop-teen-kop-botsing wat sy lewe...

Khomasstreek oor grondeienaarskap

14 ure gelede | Landbou

Elvira Hattingh - “Buitelanders se plase moet outomaties onteien word en boere moet tot 50% eienaarskap van hul plase aan plaaswerkers afstaan ten einde grondhervorming...

Windhoek 'in gróót moeilikheid'

14 ure gelede | Regering

Denver Kisting – Terwyl die verbruiker voortaan tot 300% meer vir sekere dienste moet opdok, het die stadsvaders van die Windhoekse munisipaliteit (CoW) pas ’n...

Weer vir 20 Julie 2018

14 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en matig tot warm in die Zambezi-, Kavango- en oostelike streek. Elders sal dit sonnig en matig tot warm wees. Dit sal...

Reho se /Uirab ‘in die pad gesteek’

14 ure gelede | Plaaslik

Denver Kisting – Mnr. Christoph /Uirab, uitvoerende hoof van die Rehoboth-dorpsraad, het agt maande van sy termyn tuis deurgebring./Uirab, wie se laaste werksdag vandag is,...

Kalender 13 Julie

14 ure gelede | Kuns en vermaak

Nou aan die gang» Anin Namibia bied tans ’n uitstalling in die Omba-galery aan. Hierdie keer het hulle groepsborduurprojekte en maatskappye genooi om deel te...

Siba sprankel by ekspo

14 ure gelede | Kuns en vermaak

Eet, smul en knaag bly maar hoogtepunte in baie van ons se dag. Vir sommige is dit ’n uitdaging om kos te maak en ander...

Kortbroektreffers uit Rocco se pen

14 ure gelede | Kuns en vermaak

Die bekroonde en uiters begaafde pianis Rocco de Villiers is terug met ’n splinternuwe popalbum, wat nie net vir die eerste keer met ’n Afrikaanse...

Drie maande om misdaad nek om te draai

14 ure gelede | Polisie

Tanja Bause – Die hoof van die Namibiese polisie, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, het polisiebeamptes drie maande gegee om van misdaad in Windhoek ontslae te raak....