'Nuwe normaal' knipoog vir Namibië

Maatreëls 'nie genoeg'

23 June 2020 | Regering
Denver Kisting



Die ekonoom mnr. Mally Likukela sê 'n aanvullende stimuluspakket om die ekonomie uit die as te laat herrys, is dringend nodig.

“Die verslapping van sekere maatreëls is 'n welkome verwikkeling vir die sakesektor. Die verslapping alleen sal egter nie sommige besighede keer om in duie te stort nie, omdat die inperking 'n reuse- negatiewe impak op besighede gehad het,” sê hy.

Dr. Armid Azadeh, 'n algemene praktisyn en 'n kenner van ­openbare gesondheid, het gesê die regering verdien 'n pluimpie vir “dié dapper maar nodige beleidstap om ons land vorentoe te neem – sosiaal en ekonomies ondanks die geweldige druk wat die pandemie op die samelewing plaas.”

Die sosioloog dr. Ellison Tjirera gee nie vir Likukela en Azadeh gelyk nie.

“Hoewel verlengde inperkings ­negatiewe ekonomiese gevolge sal hê wat op die lang termyn onvolhoubaar sal wees, is dit verstommend dat inperkings verslap word terwyl die infeksies toeneem.”

Dít kom nadat pres. Hage Geingob gesê het die regering het besef volslae inperkings om die verspreiding van Covid-19 te probeer hokslaan, kniehalter besighede, huishoudings en mense se bestaan.

Boonop behoort die streke met die stygende aantal infeksies om te gaan, sê Geingob.

Die staatshoof het gistermiddag by Staatshuis die land toegespreek en aangekondig die Erongostreek sou gisteraand om middernag van fase 1 na fase 3 beweeg vir 'n tydperk van twee weke tot 6 Julie 2020.

Reis tussen dié streek en die res van die land is geoorloof behalwe die plaaslike owerhede van Walvisbaai, Swakopmund en Arandis.

Reis tussen dié drie plaaslike ­owerhede sal wel toegelaat word.

Leweransiers van noodsaaklike en kritieke dienste en goedere, insluitend vragmotorbestuurders, mag met 'n permit in en uit dié streek reis.

Van middernag gisteraand mag 50 mense by 'n saamtrek in Erongo wees, hoewel die perk van tien steeds vir Walvisbaai, Swakopmund en Arandis geld.

Kwesbare mense mag steeds van die huis af werk mits hulle 'n siektesertifikaat van hul dokter voorlê.

Tehuise vir bejaardes moet in isolasie bly, het die staatshoof gesê.

Volgens Geingob was dit tot dusver 'n moeilike taak om die red van lewens te balanseer met die instandhouding van die ekonomie.

“Soos ek herhaaldelik tydens 'n aantal geleenthede gesê het: Die lewens van Namibiërs is ons grootste prioriteit. Ons moet egter – in ons strewe om lewens vandag en môre te beskerm – ons ekonomie beskerm.”

Res van die land

Van 30 Junie tot 17 September sal die res van die land van fase 3 na fase 4 beweeg. Naas die invoer van goedere sal die landsgrense toebly tydens dié tydperk.

Tydens fase 4 mag 250 mense by 'n saamtrek wees – 200 meer as die huidige 50 in fase 3.

Ná fase 4 sal die land na verwagting na fase 5 beweeg wat die oopmaak van die landsgrense sal behels.

[email protected]



Kassie: Toerisme



Toerisme:

Die regering sal in samewerking met die toerisme- en gasvryheidsbedryf 'n geteikende herlewings­inisiatief vir internasionale toerisme tussen 15 Julie en 15 Augustus uitvoer, het pres. Geigob gesê.

“Hierdie inisiatief sal 'n ­beperkte aantal toeriste van 'n ­gekeurde lae risiko-mark in konsultasie met die private sektor toelaat wat die ­potensiaal het om tot die toerisme­sektor by te dra wat meer as 100 000 Namibiërs werk gee,” het hy gesê.

Geingob het gesê die besonder­hede sal in die volgende paar weke aangekondig word en dié toets­lopie sal die voorbereidings vir die heropening van grense onder vlak 5 versterk.

Die uitvoerende hoof van die Gasvryheidsvereniging van Namibië (HAN), me. Gitta Paetzold, het gesê die toerismesektor is verlig en verheug om vooruit te gaan, veral oor die toerisme-herstelprogram.

“Dat grense eers aan die einde van die noodtoestand – middel September - gaan oopmaak, klink nog te ver. Ten minste het ons nou 'n datum om mee te werk en daar is die moontlikheid van die toetslopie van gekeurde toeriste wat vir middel-Julie aangedui is. Ons is gretig om meer besonderhede daaroor te kry,” het Paetzold gesê.

Die president het gesê vanaf 30 Junie is alle Namibiërs en buite­landers wat die land inkom, onder­hewig aan 'n Covid-19-toets en ­verpligte kwarantyn op eie onkoste.



Kassie: Onderwys

Onderwys:

• Aangesig tot aangesig-onderrig vir graad 11- en 12-leerlinge in die Erongostreek kan hervat.

• Aangesig tot aangesig-onderrig vir graad 11's en 12's, sowel as

graad 0- tot 3-leerlinge op ­Walvisbaai, ­Swakopmund en Arandis word vir twee weke tot 6 Julie uitgestel. Die terugkeer na 'normale klasse' sal deur die ­situasie in die betrokke dorpe bepaal word.

• Die hervat van aangesig tot aangesig-onderrig vir grade 0 tot 3 in al 14 streke van die land word vir twee weke tot 6 Julie uitgestel. Die ministerie van onderwys, kuns en kultuur sal vervolgens 'n nuwe skedule vrystel.

• Sou 'n leerling ­Covid-19-verwante simptome toon of positief vir die siekte toets, sal onderrig by die ­betrokke skool vir 14 dae opge­skort en kontakte onder kwarantyn geplaas word.

• Die terugkeer van leerlinge na skole is vrywillig.

• Ouers kan hul kinders tuis ­onderrig.

Soortgelyk

 

Iran: Kernkragontploffing veroorsaak beduidende skade

1 uur gelede | Internasionaal

’n Kernkragontploffing Donderdag in ’n pakhuis by die Ntanz-aanleg in sentrale Iran het beduidende skade aangerig en kan die produksie van sentrifuges vertraag wat uraan...

Egipte arresteer dokters om kritici stil te maak

1 uur gelede | Internasionaal

Ongeveer tien dokters en ses joernaliste is vanaf Februarie in Egipte in hegtenis geneem omdat hulle die regering van pres. Abdel Fattah el-Sissi kritiseer oor...

Covid-19 knou Media24

4 ure gelede | Afrika

Media24 oorweeg dit om vyf tydskrifte en twee koerante te sluit, sy oorblywende maandelikse tydskrifte uit te kontrakteer en hul frekwensie te verminder, twee koerante...

Kenia heropen grense na 4 maande

4 ure gelede | Afrika

Mnr. Uhuru Kenyatta, die president van Kenia, het Maandag die heropening van dié land se grense “in fases” aangekondig.Internasionale vlugte sal vanaf 1 Augustus...

55 nuwe Covid-19-gevalle bring totaal op 593

5 ure gelede | Gesondheid

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) dr. Kalumbi Shangula sê 55 nuwe gevalle van Covid-19 is die afgelope 24 uur in die land...

Twee vas oor olifanttande

15 ure gelede | Misdaad

Volgens die weeklikse wildmisdaadverslag vanaf 29 Junie tot 6 Julie is twee nuwe wildmisdaadsake aanhangig gemaak en vier verdagtes in hegtenis geneem. Mnre. Alfred...

Kleintjies terug skool toe

15 ure gelede | In beeld

Leerlinge vanaf graad 0 tot 3 het gister weer vir aangesig tot aangesig onderrig teruggekeer met leerlinge en ­onderwysers wat opgewonde was om weer by...

Tuiskwarantyn aan kus ’n opsie

15 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) gaan meer buigsaam wees in die kwarantyn van kontakte van bevestigde Covid-19-gevalle in die...

Psemas: ‘Tender sluit almal behalwe Methealth uit’

15 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht - Dit wil voorkom asof die bepalings van ’n tender om die staat se mediese fonds (Psemas) te bestuur, op so ’n manier...