Nuwe hoogtepunt in Vorster se loopbaan
Nuwe hoogtepunt in Vorster se loopbaan

Nuwe hoogtepunt in Vorster se loopbaan

Ná verskeie nasionale en Afrika-medaljes het die Windhoeker haar op 'n wêreldbyeenkoms bewys.
Michelle Vorster se spesiale vermoë om die marteling oor die langer afstande te verduur, is uitgestal toe sy laas naweek die enigste Namibiese bergfietsryer by die marathon veldresies wêreldkampioenskap in Auronzo de Cadore, Italië was.

Enkele dae ná haar 40ste verjaarsdag het die taai Windhoeker in 'n bewonderenswaardige 15de plek klaargemaak, nadat sy by die beginstreep 67ste uit die 76 elite vroue geplaas was.

Vorster was in die proses die eerste voltooier uit Afrika en het onder meer voor die bekende Suid-Afrikaanse drietal Robyn de Groot, Candice Lill en Mariske Strauss klaargemaak.

Die gedugte Sabine Spitz van Duitsland en Sally Bigham van Engeland het net-net voor Vorster klaargemaak.

“Die afstand van 89 km was een van die hardste roetes wat ek nog ooit gery het, met net meer as vyf ure in die fietssaal. Net 50 uit die 76 deelnemers het klaargemaak,” het sy aan die koerant gesê.

Die beginpunt was by die Auronzo-meer op 'n hoogte van 800 meter bo seespieël, met die hoogste draaipunt op die roete op 2 320 meter. Die steil klimdele van omtrent 3 400 meter is boonop met die moeilikheidsgraad van vyf sterre toegeken.

“Die resies het teen 'n baie vinnige tempo begin en hoewel ek bykans heel agter weggespring het, kon ek my posisie begin verbeter toe ons die eerste klimdele bereik.

“My plan was om my wedren stelselmatig op te bou sodat ek die tempo gedurende die laaste helfte kan versnel.

“Toe ons die eerste waterpunt bereik, was ek in die 25ste posisie en kon ek die meeste ryers voor my sien. By waterpunt 3 was ek 18de en so kon ek daarin slaag om in die 15de plek oor die eindstreep te ry.”

Vorster se vernuf en uithouvermoë as 'n klimmer, eerder as 'n naelryer, is opnuut as van wêreldgehalte bewys. “Oor 89 km en met soveel bultklimme het jy genoeg tyd om jou eindposisie beter te maak.”

• Die vorige week het Vorster in Lenzerheide, Switserland by die Olimpiese veldresies wêreldkampioenskap ook 'n vegtende vertoning gelewer om vanuit die 65ste wegspringposisie in die 44ste plek te eindig.

In dié formaat op 'n kronkelende sirkelroete wat sewe keer voltooi moes word, is dit dikwels bykans onmoontlik om 'n swak wegspringposisie te bowe te kom vanweë die druk verkeer en bottelnekke wat om die draaie voorkom.

Die beste uitslag vir Namibië in Lenzerheide was die junior mansryer Alex Miller se 28ste plek. By die elite mans was Till Drobisch 81ste en by die onder 23 mans was Tristan de Lange 71ste.

Buiten die Statebond­spele in Australië vroeër vanjaar, waar sy agtste in die veldresies was, was die twee afgelope wêreldbyeenkomste in Switserland en Italië die hoogtepunt waarna Vorster dié seisoen opgebou het.

“Ek gaan wel in Oktober die Cape Pioneer Trek in die Karoo saam met 'n meisie van Mauritius ry.

“Ek wil ook my waardering uitspreek teenoor die Janine & Suzelle Davin Sporttrust sonder wie se steun ek nie in Europa sou kon gaan deelneem nie,” het Vorster gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!