NSFAF vorder skuld liewer self in
Die hulpfonds vir studente het ’n stokkie gesteek voor miljoene se verliese wat hulle in die laaste vyf jaar gely het.
Augetto Graig - Die Finansiële Hulpfonds vir Namibiese Studente (NSFAF) het op 14 September ’n ooreenkoms beëindig wat hulle met Tribesmen en die Suid-Afrikaanse New Integrated Credit Solutions (NICS) gesamentlik gehad het.
Dié twee vennote sou skuld namens die hulpfonds invorder.
Dít volg ná die fonds miljoene dollar se verliese in vyf jaar gely het as gevolg van ’n kontrakbepaling waarvolgens die NSFAF maandeliks N$287 500 aan Tribesmen moes betaal, plus kommissie van 12% op die skuld wat hulle wel kon invorder.
Volgens die NSFAF se waarnemende uitvoerende hoof, mnr. Kennedy Kandume, was die kontrak met Tribesmen nooit tot die NSFAF se voordeel nie.
“Die kontrak het eintlik ’n bedreiging vir die NSFAF ingehou,” het hy gesê.
Skuldinvorderaars ontvang gewoonlik slegs kommissie, het hy gesê.
Kandume het verwys na ’n bedrag van N$14,68 miljoen wat aan Tribesmen vir hul skuldinvorderingsdienste oorbetaal is, teenoor slegs N$6,7 miljoen wat ingevorder is.
Dit dui op ’n totale verlies van N$7,9 miljoen, het hy gesê.
Die betrokke kontrak is in Oktober 2014 deur die NSFAF se voormalige uitvoerende hoof, me. Hilya Nghiwete, onderteken.
Dit ná ’n tenderproses waarin Profile Investments, wat Tribesmen besit, voorkeur gekry het.
Sedertdien moes die hulpfonds volgens Kandume aan dié bepalings voldoen.
Aanvanklik sou Tribesmen die NSFAF se bevoegdheid versterk om skuld self in te vorder, maar dít het tussen Junie en Julie 2015 verander ná die taak in sy geheel aan Tribesmen oorgelaat is, het Kandume gesê.
Voorheen kon die NSFAF maandeliks self tussen N$350 000 en N$500 000 invorder.
Tribesmen kon gemiddeld sowat N$147 000 invorder, het hy gesê.
Die geleentheid om dié ooreenkoms te beëindig, het homself voorgedoen ná Tribesmen op 27 en 28 Maart, sonder die NSFAF se goedkeuring, vertroulike inligting in die plaaslike media laat publiseer het.
Dié verbreking van die kontrak het daartoe gelei dat die NSFAF geëis het dat Tribesmen hul stellings terugtrek.
“Ten spyte van ons duidelike geskrewe eis vir terugtrekking, het Tribesmen op arrogante wyse probeer om dit minder belangrik te laat klink, deur verregaande regverdigings vir sy optrede te vind,” het Kandume gesê.
Hierná is Tribesmen gevra om af te sien van hul maandelikse bestuursfooi van meer as ’n kwart miljoen dollar, maar dié oplossing is ook verwerp.
Die hulpfonds is nog in gesprek met hul regsverteenwoordigers om te bepaal watter regstappe, en teen wie, gedoen kan word.
Kandume het belanghebbers verseker alle NSFAF-rekords en dokumente is veilig in die hulpfonds se besit, en aangesien alle geld direk aan die NSFAF-rekening oorgedra is, is dit nie moontlik dat enige geld verduister is nie.
Die NSFAF behartig tans hul skuldinvordering self.
Kandume glo hulle sal dié taak beter as Tribesmen kan afhandel, en dat hulle hierdeur minstens N$1,8 miljoen per jaar sal kan spaar.
Die hulpfonds het ook aangekondig begunstigde studente wat nie op kampus woon nie, kan van Vrydag af ’n oorbetaling van N$4000 te wagte wees.
Tot dusver het 6 501 uit die 10 482 begunstigde studente kontrakte vir finansiële hulp met die NSFAF aangegaan.
Die res moet hul kontrakte voor 25 September teken om tydens dié finansiële jaar nog vir hul in aanmerking te kom.
Aansoeke om finansiële hulp vir 2019 se akademiese jaar sal van 15 Oktober af aanlyn gedoen kan word.
Nagraadse studente kan van 3 Desember af aansoek doen, maar beroepsopleidingstudente sal tot 15 Februarie volgende jaar moet wag.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie