NPL nuwe weiveld vir Karasburgers
Sokker
Young Brazilians van Karasburg het geskiedenis gemaak toe hulle Saterdag tot die Namibiese Premierliga (NPL) bevorder is nadat hulle PC Blue Boys van Swakopmund in die tweede, bepalende botsing met 3-1 geklop het.
Die klubs se wedstryde tuis en weg sou bepaal wie vanjaar as een van die uitgelese 16 spanne in die NPL meeding.
Die eerste botsing die vorige naweek in Swakopmund het op 2-2 geëindig, wat die deur vir die Brazilians oopgelaat het om selfs met 'n gelykoptelling in sy tuiswedstryd die knoop deur te haak.
Die Daka Boys, soos die Karasburgers ook bekend is, het egter nie gras onder hul voete laat groei nie en het tuis 'n puik vertoning gelewer om die eerste span uit die verre suide te word wat in die NPL sal meeding.
Die Brazilians het soos 'n warrelwind begin en die besoekers vir die eerste 20 minute in hul eie halfgebied vasgepen. Onder druk begaan die kusspan 'n blaps en staan in die 30ste minuut 'n eie doel af. Dié doel het egter nie die wind uit Blue Boys se seile gehaal nie en sewe minute later maak hulle die telling 1-1.
In die 40ste minuut laat die Brazilians hul ondersteuners dans toe die veteraan Reginald Vries sy span met 2-1 die voortou gee.
In die tweede helfte het die gasheer nie laat slaplê nie en sy besoekers dadelik weer onder druk geplaas. Vries behaal in die 62ste minuut sy tweekuns (3-1).
Blue Boys het alles in sy vermoë gedoen om die agterstand uit te wis en sy NPL-plek te red, maar die goed geoliede masjien van die suide se verdediging was te veel vir die Swakopmunders.
Tolla Junius, afrigter van die kampioene, was ná die deurbraak oorstelp van vreugde.
“Ons wedstrydplan was baie eenvoudig. Die spelers moes die wedstryd geniet om dit vir die dorp en die //Kharasstreek te wen. Ons het sedert die begin van die seisoen aan ons spel beplan en die spelers was werklik gretig om dit te vermag.
“Dis 'n geskiedkundige dag vir Karasburg. Sonder die steun van ons bewonderaars sou ons nie die paal gehaal het nie en sonder die strawwe mededinging van ons teenstanders sou ons nie vasgebyt het nie. Baie geluk aan die spelers wat aan almal bewys het dat harde werk beloon word," het die breier vertel. - Nampa

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie