Nou is die tyd vir biochar

Praktiese handleiding bekendgestel

30 September 2020 | Byvoegsels
Elvira Hattingh - As produsente hul kaarte reg speel, kan Namibië ‘n belangrike rolspeler in die ontluikende, maar sterk groeiende biochar-bedryf word.

‘n Brosjure met praktiese riglyne vir produsente wat biochar van indringerbos wil maak, is op 23 September in Windhoek bekendgestel.

Die vraag na dié produk groei wêreldwyd omdat dit klaarblyklik ‘n teenvoeter vir klimaatsverandering is, asook ‘n wonderproduk vir grond, kos en selfs voedselaanvullings blyk te wees.

Die regte tyd om met die produksie van biochar te begin, is nou, voor die reënseisoen, het kenners tydens die geleentheid gesê.

Dit is deur ‘n tegniese span ontwikkel wat saamgestel is uit lede van die die Duitse Vereniging vir Internasionale Samewerking (GIZ) en die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme se BCBU-projek. Die res van die span het bestaan uit lede van Nust se Bush-projek asook verteenwoordigers van die Namibia Biomass Industry Group (N-Big) en die Namibiese Houtskoolvereniging (NCA).

“Biochar is ‘n vorm van swart koolstof wat soortgelyk is aan, maar beslis ook verskil van houtskool vir braaivleis,” lui ‘n mediaverklaring wat ná die geleentheid deur die GIZ uitgereik is. Verder word gemeen dat die produksie van biochar die produksie van boskos en houtskool kan komplementeer, juis omdat dit van fyner en mediumgrootte takke gemaak kan word, wat te klein vir die doeleindes van houtskool of te dik vir bosvoer is.

“Enige houtagtige bosspesie kan gebruik word; tog word ‘n spesiale kiln benodig, soos die kontiki kiln. Dit word plaaslik teen ‘n lae koste vir klein- tot mediumskaal produksie vervaardig,” het die GIZ gesê.

“Boonop kan dit as ‘n doeltreffende teenvoeter vir gereelde droogte en grondagteruitgang dien, wat gemeenskappe kan help om klimaatsverandering die hoof te bied.”

WONDERPRODUK

Dr. Ibo Zimmermann van die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie (Nust) het verduidelik biochar bevat min of geen van die toksiese samestellings nie – anders as byvoorbeeld die pirolise-olies wat in gewone houtskool voorkom en teen ‘n hitte van tussen 200 °C en 400 °C in ‘n gewone kiln gevorm word.

“Dié olies kan weggebrand word deur biochar teen ‘n hoër temperatuur van tussen 400 °C en 700 °C in ‘n kontiki kiln te produseer. Dit kan andersins met behulp van stoom aan die einde van die produksieproses verwyder word of stadig met behulp van die regte mikro-organismes verteer word,” het hy verduidelik.

"Biochar laat grond toe om méér water te hou wat deur plante opgeneem kan word, terwyl dit die grond se struktuur ook verbeter. Dit absorbeer anione asook katione, wat beteken meer voedingstowwe word aan plante beskikbaar gestel terwyl dit ook voordelige mikrobes in die grond huisves.

"Dit absorbeer gifstowwe in grond, in water asook binne lewende organismes,” het Zimmermann verduidelik.

Hy sê dit beteken minder insette soos water en kunsmis is nodig terwyl beide die gehalte en oes van gewasse verbeter word, dit suiwer beide die lug en water, verminder stank wat insekte kan lok en absorbeer ook gifstowwe wanneer dit vir vee gevoer word. Dit beteken byvoorbeeld melk en eierproduksie kan verbeter.

Zimmermann sê biochar kan selfs vir verbeterde weiding gebruik word, maar dat dit waarskynlik te duur oor die kort- of mediumtermyn gaan wees.

“Dit kan vir bewerkbare grond gebruik word. Dit word eenmalig in die grond ingewerk teen sowat 40 ton per ha en die grond hou aan om oor jare te verbeter soos die mikrobe daarin dit kondisioneer,” het hy verduidelik. Hy sê die water wat afgedryf word nadat biochar binne ‘n kiln daarmee versadig is, kan ook as ‘n planttonikum gebruik word.

“Nog gebruike sluit in om dit met houtskerwe of iets anders te meng om kompos van te maak, terwyl dit ook aan vee gevoer kan word.”

Zimmermann sê biochar ontgif diere se verteringstelsel wat byvoorbeeld giftige weiding geëet het of vir herkouers wat graan gevoer word.

“Die voordeel verbonde hieraan is dat die vee dan weer die biochar versprei waar hulle loop en ontlas en dat dit dan hopenlik deur miskruiers in die grond ingewerk sal word,” het hy gesê.

Zimmermann sê verskeie fakulteite is reeds betrokke by die navorsing van biochar. Dit sluit die ingenieursfakuliteit in, wat sekere masjinerie ontwerp soos kilns en stowe, meulens asook voerbakke vir vee.

“Nust se fakulteit vir gesondheidswetenskappe sal ook laboratoriumtoetse op biochar kan doen, wat verskeie toetse en proewe vir die gehalte van plaaslik geproduseerde biochar insluit. Prototipes sal ook vir die behandeling van rioolwater getoets word,” het hy gesê.

INTERNASIONALE MARKTE

Mnr. Colin Lindeque, besturende direkteur van Carbon Capital, sê buiten vir die toepassings van biochar binne landbou, word dit internasionaal ook gebruik vir onder meer die suiwering van water en lug, vir konstruksie, binne elektroniese toestelle, in voedselaanvullings, in kosmetiese items en selfs in kos.

“Dit word beskou as een van die beste maniere om die produksie van kweekhuisgasse te voorkom.”

Hy sê ook dat dit al gewilder word binne organiese boerderystelsels. “Die vraag na biochar groei saam met die vraag na organiese produkte,” het Lindeque gesê.

Volgens hom is die grootste mark in Noord-Amerika, gevolg deur Europa en inwoners in die Asiatiese Stille-Oseaan. “Tans word sowat 350 000 ton biochar per jaar produseer. Dit is dus nie ‘n enorme mark nie, maar wel ‘n sterk-groeiende een,” het hy gesê.

Hy meen die drywers vir dié groei sluit in ‘n behoefte aan alternatiewe boerderypraktyke, verbeterde afvalbestuurpraktyke en veranderende omgewings- en klimaatsregulering.

“Kenners verwag dat dié mark tussen 12% en 15% per jaar sal groei. Kopers van biochar soek egter na gespesialiseerde produkte van hoë gehalte. Jy moet presies die regte produk met die regte prys vir die regte mark hê,” het hy verduidelik.

Hy meen faktore wat Namibië se toegang tot dié mark verhinder, sluit in ‘n gebrek aan bewustheid van dié produk, relatiewe hoë beleggingskoste asook die feit dat dit gewoonlik verbind word met ‘n goed ontwikkelde en diverse bosbou- en landbousektor.

Hy meen plaaslike geleenthede kan ontsluit word deur die skep van beter bewustheid onder produsente en plaaslike markte, terwyl tegnologie beter beskikbaar gemaak behoort te word en vir plaaslike omstandighede aangepas moet word.

Moontlike plaaslike markte sluit in plase waar druiwe, bloubessies, dadels, vee, suiwelprodukte of sampioene geproduseer word. Die internasionale markte is hoofsaaklik nismarkte.

“Ons klimaatsbeleide wat handel oor koolstofvrystellings en die gehalte van lug, moet dienooreenkomstig hersien word,” meen hy.

PROJEKTE

Verskeie navorsings- en ontwikkelingsprojekte vir biochar is reeds van stapel gestuur. Mnr. Progress Kashandula, algemene bestuurder van N-BiG, het verduidelik hulle sa, saam met die Universiteit van Namibië (Unam) biochar as ‘n byvoeding in boskos navors.

“Die verdere toetsing van biochar sal in samewerking met landbouvoorligtingsdienste en in vennootskap met die NCA gedoen word,” het hy gesê.

Degé het verduidelik die NCA is ook besig met talle toetse van biochar asook met die produksie van kontiki kilns.

“Ons sal plaasdemonstrasies reël sodat ons meer produsente kan bereik. Ons beplan ook ‘n biochar-demonstrasie by ons Charcoal Village op Otjiwarongo,” het hy gesê.

'n Brosjure, “Biochar from Namibian Encroacher Bush – Practical Guidelines for Producers”, stel die produk en sy produksieproses bekend en gee insigte in hoe dit vir die verbetering vir grond en as byvoeding vir vee gebruik kan word, terwyl dit ook bemarkingsopsies verken en relevante kontakte lys.

Dit is beskikbaar by die GIZ, BCBU en N-BiG/ DAS-kantore in Windhoek, maar kan ook aanlyn afgelaai word by: www.dasnamibia.org/download/brochures/GIZ-NUST-Biochar-Brochure-2020.pdf

Soortgelyk

 

Geingob onder skoot oor ‘wit’ opmerkings

11 ure gelede | Politiek

Denver Kisting – Die leier van die amptelike opposisie, mnr. McHenry Venaani, sê wat pres. Hage Geingob die afgelope naweek oor wit mense kwytgeraak het,...

Verskeie daaglikse vlugte binnekort na SA

11 ure gelede | Vervoer

Ronelle Rademeyer – FlyWestair en Airlink, die private Namibiese en Suid-Afrikaanse rederye, het tot reisigers se redding gekom en gaan die leemte aan direkte, geskeduleerde...

Skone Lira bemark Namibië

11 ure gelede | Toerisme

Die Suid-Afrikaanse sangeres Lira, wat die inperking in Namibië deurgebring en uitgebreide verkenningsreise in die land onderneem het, is deur die Federasie van Namibiese Toerismeverenigings...

Weer vir 19 Oktober

11 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en bloedig warm in die Ooste. Elders sal die sonnig wees en baie warm tot bloedig wees. KUS: Gedeeltelik bewolk en koel...

Verdagte panga-rowers in hegtenis

11 ure gelede | Misdaad

Kristien KrugerVolgens ’n Namibiese polisieverslag is sewe mans in hegtenis geneem in verband met ’n aantal gewapende rooftogte in Windhoek.Die mans het hulself glo die...

Massavrekte van robwelpies ondersoek

11 ure gelede | Omgewing

Elvira Hattingh – ’n Ondersoekspan het begin om ongewone vrektes onder Kaapse pelsrobbe te ondersoek nadat klaarblyklik duisende wyfies vanjaar hul welpies teen die Namibiese...

Vier ton vis by Swakoppoort gekonfiskeer

11 ure gelede | Misdaad

Ronelle Rademeyer en Kristien Kruger – Sowat vier ton gedroogte vis en groot hoeveelhede visnettte en vislyn, asook die vlotte wat gebruik is om dit...

Stigma rondom Covid-19 neem af

11 ure gelede | Gesondheid

Jana-Mari Smith – Die normalisering van Covid-19 die afgelope jaar het veroorsaak dat stigmatisering weens die coronavirus besig is om af te neem, maar kenners...

Duitsland steun nasionale parke

11 ure gelede | Omgewing

Francoise SteynbergNóg 'n mylpaal is vir omgewingsbewaring behaal met die Duitse regering deur KfW wat sedert 2006 sowat N$1,4 miljard (75,5 euro) in Namibiese nasionale...