Noodlot ry Namibiese gesin

Op lughawe gestrand

04 December 2019 | Ministeries
Denver Kisting



Terwyl 'n tienerdogter sukkel om haar ma se dood te verwerk, was aanduidinge gister dat sy nie Donderdag eens haar ma se begrafnis in Engeland sal kan bywoon nie.

Dít kom nadat immigrasieowerhede geweier het dat die 14-jarige Aesha Tjikongo Maandag 'n aansluitingsvlug uit Doha Engeland toe haal.

Die beamptes wou ook nie hê Aesha se sewejarige neef, Liam Tjikongo, moet saam met hul grootouers, twee groottantes en Liam se ma, me. Charmaine Tjikongo, verder reis nie.

Me. Simone Sayer (39) is op 9 Oktober in Engeland oorlede.

Sy het daar saam met haar Engelse man, mnr. Darren Sayer, en twee ander dogtertjies, Chloe en Courtney, gewoon.

Aesha, wat haar ma 'n paar jaar gelede laas gesien het, sou nou vir die eerste keer haar twee halfsussies ontmoet.

Simone sou op 8 November 40 geword het.

Volgens 'n neef van haar, mnr. Mervin Kensington, is Sayer in haar slaap oorlede.

Die presiese oorsaak van haar dood is na wat verneem word nog nie bepaal nie, sê hy.

Toe die Sayer-egpaar destyds in Namibië getrou het, het Simone glo gesê wanneer sy eendag sterf, wil sy graag in haar geboorteland begrawe word.

Darren het toe na bewering voor die bruilofgaste onderneem om haar wens te eerbiedig en haar oorskot te repatrieer.

Maar, sê Kensington, Darren weier die afgelope twee maande sedert Simone se dood om dié belofte na te kom.

Kensington sê Darren voer aan hy en Simone het ses weke voor haar heengaan oor die dood gepraat, waartydens sy glo sou gesê het sy wil haar laaste rusplek in Engeland vind.

Die neef sê Simone was nie siek nie, hoewel sy met haar gewig gesukkel het.

Die familie in Namibië moes sedertdien bontstaan om vlugkaartjies vir Simone se bejaarde ouers, mnr. Louik en me. Violine Tjikongo, haar dogter, suster, dié se seun en twee tannies, mee. Asnath !Nuwuses en Meriam Kangootui, te koop.

Namibiërs wat in Brittanje woon, het ook onder mekaar geld ingesamel om die gesin finansieel by te staan toe dit bekend word haar oorskot sal nie Namibië toe geneem word nie.

Charmaine het besluit om die twee minderjarige kinders nie alleen op Doha agter te laat nie.

Kensington sê hulle sou na verwagting 02:00 vandag gedeporteer word.

Hy sê die twee minderjariges se dokumente was volledig, hoewel Aesha se pa se besonderhede nie op haar geboortesertifikaat aangedui word nie.

Volgens hom weet hulle nie wie haar pa is nie.

Wyle Simone se ouers en tannies het die aansluitingsvlug na Engeland gehaal en sal die begrafnis Donderdag na verwagting bywoon.

Kensington het 'n brief verskaf waarin die toe waarnemende uitvoerende direkteur van internasionale betrekkinge en samewerking, me. Sabine Böhlke-Möller, hul Britse en ander eweknieë oor die rede vir die reis inlig.

Böhlke-Möller het ook gevra die amp­tenare moet die bedroefde familie help waar hulle bystand benodig.

Kensington sou ook saamgereis het, maar moes weens 'n ander sterfgeval in Namibië agterbly, sê hy.

Amb. Selma Ashipala-Musavyi, die uitvoerende direkteur van interna­sionale betrekkinge en samewerking, was gister geskok om van die tragedie te verneem.

Sy het gesê sy was vroeër uitstedig en was nie van die dilemma bewus nie.

Ashipala-Musavyi het onmiddellik kontak met die Namibiese diplomaat in Pretoria, amb. Veicco Nghiwete, gemaak om met hul Katar-kollegas te skakel om die situasie te beredder.

Teen druktyd was dit nog onduidelik of die ingrypingspogings vrugte sou afwerp.

Kensington was gistermiddag in trane oor al die hulp wat hulle uit verskeie oorde ontvang.

Republikein het op Facebook na mnr. Darren Sayer uitgereik.

Hy het teen druktyd nie op bood­skappe gereageer nie.

 - [email protected]

Soortgelyk

 

Covid-19-gevalle styg met 96 tot 1 618

13 ure gelede | Gesondheid

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) dr. Kalumbi Shangula sê die aantal Covid-19-gevalle het met 96 tot 1 618 gestyg. Hiervan is 75...

Verkeer tussen Namibië, Kaap weens Covid-19 ontwrig

19 ure gelede | Vervoer

Ronelle Rademeyer - Vragverkeer tussen Namibië en die Wes-Kaap kan sedert Donderdagaand nie langs die kortste roete oor die Oranjerivier plaasvind nie, aangesien Suid-Afrika sy...

24-year-old ensuring safety via TaxiConnect

1 dag gelede | Mense

MICHELLINE NAWATISESTaxiConnect is a locally developed ride-hailing company founded in April 2020. TaxiConnect offers an interactive and smart technology of taxi booking for customers and...

Te min isolasie, suurstof vir Walvis se episentrum

1 dag gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Walvisbaai, Hentiesbaai en Swakopmund het nie genoeg isolasie- en kwarantyngeriewe om die toenemende stygende aantal positiewe Covid-19-gevalle en -kontakte te isoleer nie....

Rehoboth verenig in rou

1 dag gelede | Misdaad

Denver Kisting op Rehoboth – Die rou snikke van ’n 20-jarige ma van Rehoboth, me. Roseline Moss, kon gister deurgaans gehoor word toe haar twee...

Weer, Vrydag 24 Julie 2020

1 dag gelede | Weer

WEERWAAK: Oosweertoestande sal oor die Namib en kusareas voorkom. Tref voorsorg.BINNELAND: Koud aanvanklik, andersins sonnig en matig tot warm. 'n Taamlik sterk tot sterk noordoostelike...

Vakbonde tree in bresse vir fabriekswerkers

1 dag gelede | Visserye

Erongo-span – Die president van die Vakbondkongres van Namibië (Tucna), mnr. Paulus Hango, het gesê vakbonde wat werkers in die vissersbedryf verteenwoordig, is bekommerd oor...

Bou van ambassade stort miljoene in ekonomie

1 dag gelede | Infrastruktuur

Kristien Kruger – Die oprigting van die nuwe Amerikaanse ambassadekompleks in Klein-Windhoek het gister 'n sooispitseremonie bereik waartydens dié land se ambassadeur in Namibië, me....

SA trek beampte vas wat visumbedrog uit Windhoek pleeg

1 dag gelede | Misdaad

Die Suid-Afrikaanse departement van binnelandse sake het 100 visums teruggetrek wat na bewering deur een van sy beamptes wat by die hoëkommissariaat in Windhoek geplaas...