'Noodlanding' onverklaarbaar
'Noodlanding' onverklaarbaar

'Noodlanding' onverklaarbaar

'n Vliegtuigongeluk verlede jaar in die Skedelkuspark is in omstredenheid gehul.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Die vlieënier van Scenic Air se Cessna 210L-vliegtuig het “beheer oor haar bewustheid van die situasie verloor, wat veroorsaak het dat sy onopsetlik in die grond vasgevlieg het”.

Dít is volgens die ongeluksverslag van die direktoraat van vliegtuigongelukondersoeke in die ministerie van werke en vervoer die oorsaak van die vliegtuigongeluk op 5 Augustus 2016 omstreeks 16:40 in die woestyn, sowat 20 km noordoos van Hentiesbaai in die Skedelkuspark.

Die Namibiese vlieënier, me. Shannon Duff (toe 40), het aanvank­lik te kenne gegee dat sy 'n noodlanding uitgevoer het toe sy van Doro Nawas af Swakopmund toe gevlieg het.

Daar was geen passasiers aan boord nie.

Volgens die verslag is die drie bydraende faktore tot die ongeluk onvoldoende monitering van veilige hoogte bo die grond, verontagsaming van standaard- en veiligheidsregulasies en 'n oordeelsfout wat betref die vliegtuig se verhouding tot die grond of 'n hindernis.

Adj.dir. Theo Shilongo was die hoofondersoekbeampte van die ongeluk waarby die vliegtuig, met registrasiemerk V5-JET, betrokke was.

“Die vlieënier het gesê sy het 'n groot slag gehoor wat daartoe gelei het dat die enjin gestaak het. Die vliegtuig het glo erg begin vibreer en later het die skroef baie stadig begin draai,” lui die verslag.

Volgens die verslag het die vlieënier nie openbaar dat die vliegtuig aanvank­lik die grond vantevore getref het nie.

Die aanvanklike impak van die vliegtuig was 'n afstand van 2,1 km.

“Daar was geen aanduiding dat die skroef die grond getref het waar die landing uitgevoer is met die onderstel wat aan die buitekant was nie. Daar was geen skroefmerke wat ooreenstem met die skade wat aan die vliegtuig aangerig is nie,” lui die verslag.

Die skade aan die vliegtuig dui aan dat dit die grond baie hard getref het sonder dat die onderstel aan die buitekant was terwyl die enjin nog normaal gefunksioneer het.

“Hoewel die vlieënier verskeie vrae gevra is oor die volgorde van gebeure tydens die vlug van Doro Nawas tot Swakopmund, het sy gesê sy kan nie onthou dat sy enigiets getref het voor die vliegtuig die grond getref het nie.”

Volgens die verslag het die vliegtuig die grond met die skroef eerste getref, gevolg deur die buik.

Bewyse op die grond dui aan dat die onderstel aan die binnekant opgetrek was met die eerste impak.

“Die afstand van die eerste impakpunt met die skroef en die buik is sowat 18 meter lank en nege skroeflemmerke was sigbaar. Volgens berekeninge het die vliegtuig die grond teen sowat 140 knope getref,” lui die verslag.

Die regterkantste uitlaatpyp is 125 meter van die aanvanklike impakpunt af gevind.

“Die beskadigde skroef is op die ongelukstoneel verwyder en met 'n ander een vervang en die vliegtuig kon weer aanskakel en het normaal sonder enige probleme geluier.”



VEILIGHEIDSAANBEVELINGS

Veiligheidsaanbevelings is dat vlieëniers te alle tye waaksaam moet wees en 'n veilige hoogte moet handhaaf.

Daar word ook aanbeveel dat operateurs hul vlieëniers moet aanmoedig om 'n kultuur te kweek van verslagdoening oor ongelukke of voorvalle tydens 'n vlug, sodat die ondersoekproses nie vertraag word nie.

Duff se vlieglisensie en mediese sertifikaat was geldig en sy het toe reeds meer as 5 039,5 vliegure gehad met

1 171 ure in dié tipe vliegtuig.

Die vliegtuig, wat behoort aan Botha Aircraft Hire CC, se sertifikaat van lugwaardigheid en registrasie was ook geldig.

Die laaste verpligte inspeksie wat op die vliegtuig voor die ongeluk uitgevoer is, was op 12 Mei 2016.

Volgens die verslag was dit ten tyde van die ongeluk mooiweer met geen beperkte sigbaarheid nie.

Twee maande ná hierdie ongeluk het nóg 'n vlieënier van Scenic Air, mnr. Wesley Thompson (toe 26), op 6 Oktober 2016 'n noodlanding met 'n Cessna, met registrasiemerk V5-JAG, langs die begraafplaas in Pionierspark in die hoofstad gedoen waartydens hy ernstig beseer is.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!