NLU wil werk vind vir droogteboere
Ronelle Rademeyer - Tot soveel as 1 000 boere sit letterlik op moedverloor se vlakte nadat die droogte hulle al sedert 2013 verrinneweer.
Die Namibië Landbou-unie (NLU) gaan nou ingryp en vir van die boere werk probeer vind.
“Die droogte is op baie plekke in die land rééds ’n nasionale krisis. Dis nie meer net in die proses om een te word nie, dit is kláár een,” sê mnr. Roelie Venter, uitvoerende bestuurder van die NLU.
Hy het gister aan Republikein gesê die unie se uitvoerende raad het verlede week vergader om planne te beraam waarmee die uitgelewerde boere bygestaan kan word, deur vir hulle werk te vind sodat hulle ’n inkomste het.
“Baie van hierdie boere gaan reeds van 2013 af onder droogte gebuk en bewusmakingsaksies gaan van stapel gestuur word om die regering en die publiek in te lig oor hoe sleg dit gaan,” sê hy.
Die dele suid van Karasburg in die Warmbad-omgewing, kolle in die Grünau-gebied, die dele wes van Keetmanshoop by Bethanie en Helmeringhausen asook suid van Maltahöhe het geen weiding nie.
Net so is daar plase in die westelike dele van die Khomas Hochland, asook by Usakos, Karibib, Omaruru en selfs Kalkfeld en Kamanjab waar boerderytoestande ellendig is.
Hy sê in van hierdie distrikte het dit verlede jaar goed gereën, maar is die boere ná een jaar van herstel opnuut midde-in ’n droogte. “Hulle kontant-reserwes is uitgeput en hulle moes reeds hul kuddes verklein het.”
Venter sê verder word verwag dat minder hooi vanjaar vanweë hierdie nasionale droogte beskikbaar sal wees om boere by te staan.
“Ons moet dus eerder fokus op alternatiewe maniere om hierdie boere te help oorleef. Daarom is besluit om boere te versoek om CV’s op te stel met inligting oor hul opleiding, vaardighede en belangstellings en aan die NLU se streeksverteenwoordigers te stuur. Ons sal dan kyk of ons vir hulle werk kan kry,” sê hy.
Ofskoon dit baie moeilik is om te beraam hoeveel boere gehelp moet word, meen Venter dit kan tot 100 kommersiële boere en 1 000 opkomende en kommunale boere wees wat hulle in hierdie penarie bevind.
Mnr. Jaco Engelbrecht, ’n boer van Karasburg, het die naweek op Nambië Boere se Facebook-blad met die volgende plasing baie boere se nood verwoord: “Ek sit vanaand hier in my huis en luister hoe die suidwestewind om die huis se hoeke waai en ek sit met ’n beklemming in my. Ek is bang, baie bang! Nóg ’n droogtejaar. En ek weet ek sal dit nie hierdie jaar weer maak nie. Vorige droogtejare het die finansies (al) geknou.
“Dank God vir die bietjie reën wat al geval het. Here, ek is nie ondankbaar nie, ma’ dis te min. My medeboere in (die) Suide, sommer hier naby, het nog niks gehad nie. Ons is by middel-Maart en nog niks. Medeboere loop met sleepvoete. Mismoedig. . . God, wees ons genadig!”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie