'Nimt-moordenaar' sê sy bekentenis was vals

Polisie dreig glo om vrou in hegtenis te neem

14 June 2019 | Howe
Erwin Leuchner op Swakopmund



Die ambagsdosent wat aangekla is van die dubbele skokmoord op Arandis sê hy het net 'n bekentenis aan die polisie afgelê omdat speurders hom gedreig het.

Mnr. Ernst Joseph Lichtenstrasser (58) het gister opnuut sy onskuld aangevoer tydens 'n formele borgtogaansoek in Swakopmund se landdroshof.

Die beskuldigde het getuig die polisie het gedreig om sy vrou in hegtenis te neem. “Ek wou my vrou beskerm en het daarom die moorde beken,” het die man gesê wat na bewering op 15 April vir mnre. Eckhart Mueller en Heimo Hellwig koelbloedig voor die Namibiese Instituut vir Mynboutegnologie (Nimt) afgemaai het. Volgens Lichtenstrasser het die polisie sy bekentenis aan hom gedikteer.

Adjunk-aanklaer-generaal Antonia Verhoef het aangevoer die beskuldigde moet in aanhouding bly. Sy het gesê 'n vlugrisiko bestaan, borgtog is nie in openbare belang nie en die klagte is baie ernstig.

Lichtenstrasser het getuig hy het voor 1990 reeds as vryheidsvegter na die land gekom weens sy weersin in apartheid. Hy word daarom deur die regering as oorlogsveteraan erken. Volgens Lichtenstrasser het hy inligting ingesamel vir PLAN, Swapo se miliêre vleuel, maar het hy nooit aan enige skermutselings deelgeneem nie.

Volgens die beskuldigde het hy sy vakleerling­skap in Stetten, Oostenryk voltooi en werk hy reeds langer as tien jaar vir Nimt op Tsumeb.

Lichtenstrasser het erken hy was deel van 'n groep wat besorgd oor Nimt se bestuur was. Volgens hom het hy egter nie net met Mueller vasgesit nie, maar met almal.

Hy het getuig hy was die noodlottige Maandag “iewers in die woestyn” in die omgewing van Arandis omdat hy die Sondag rusie met sy vrou gehad het. Hy het haar ingelig hy gaan sy vriend Jason, 'n voormalige Nimt-werknemer, op Swakopmund besoek.

Volgens Lichtenstrasser het hy soos gewoonlik 'n .38-revolver en ammunisie op sy reis saamgeneem.

Iewers tussen Usakos en Arandis, het hy getuig, moes hy weens “moegheid en verwarring” van die pad trek. Dit was volgens hom die uitwerking van sterk pynmiddels wat hy vir skouerpyn moes neem.

Lichtenstrasser het getuig hy het Maandagoggend verward in sy voertuig wakker geword. “Vir veiligheidsredes het ek 'n bietjie dieper die woestyn in gery, waar ek weer aan die slaap geraak het,” het hy aangevoer.

Dinsdag het hy besluit om na Tsumeb terug te keer. Hy het volgens hom oor die radio van die moorde gehoor en is toe op Karibib in hegtenis geneem.

Mnr. Trevor Brockerhoff verskyn namens Lichtenstrasser. Die saak duur vandag voort.

Meer as 2 000 mense het 'n klagskrif teen die toestaan van borgtog onderteken. Dit is by die hof aan Verhoef oorhandig.

Soortgelyk

 

Man vas oor lewende ietermagô

14 ure gelede | Misdaad

'n Man is Donderdag by 'n vulstasie op Okahandja glo met 'n lewende ietermagô in sy besit in hegtenis geneem. Volgens die woordvoerder van...

Polisieman skiet eks glo

16 ure gelede | Misdaad

'n Polisiebeampte sal Maandag in Walvisbaaise landdroshof op klagte van poging tot moord verskyn ná hy gister glo sy eksmeisie met sy dienspistool geskiet het....

Specialising in skin

1 dag gelede | Gesondheid

Dr Elisah Agaba is a consultant dermatologist at the Ongwediva Medipark university teaching hospital.He is also a senior adjunct lecturer of dermatology at the University...

Resessie slag Namibië

1 dag gelede | Ministeries

Jo-Maré Duddy – Net sowat N$25,5 miljard teen bestendige pryse het die afgelope kwartaal deur die Namibiese ekonomie gevloei – die minste in vyf jaar.Syfers...

Getuie sê Dippenaar het gejaag

1 dag gelede | Howe

Erwin Leuschner – Die saak teen die moordbeskuldigde mnr. Jandré Dippenaar is tot volgende jaar uitgestel.Woensdag het die laaste staatsgetuie in die streekhof op Swakopmund...

Wateraanleg staan twee weke stil

1 dag gelede | Regering

Elvira Hattingh – Windhoek kon vir langer as twee weke geen drinkwater uit rioolwater herwin nie – hoofsaaklik omdat daar te veel chemikalieë, vette, olies...

Kalender 20 September

1 dag gelede | Kuns en vermaak

Nou aan die gang» Die Culture Invasion Festival skop vandag by die sportterrein op Rundu af. Tydens die twee dae lange fees sal verskillende kunstenaars...

Weer vir 20 September 2019

1 dag gelede | Weer

BINNELAND: Sonnig en baie warm in die sentrale Noorde en Noordooste. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en baie warm wees.KUS: Bewolk en koel tot...

Jol in Japan

1 dag gelede | Kuns en vermaak

Lloyd Zandberg Japan is een van daai lande waaroor mense praat. Nie noodwendig die heeltyd nie. Maar in baie gesprekke, veral om die...