Nigeriese president vandag in SA
Sarel van der Walt - Enkele weke ná die gewelddadige aanvalle op buitelanders in Suid-Afrika sal pres. Muhammadu Buhari van Nigerië vandag ’n staatsbesoek aan Suid-Afrika bring.
Hy sal by die Uniegebou in Pretoria deur pres. Cyril Ramaphosa ontvang word.
Die besoek is lank voor die aanvalle gereël en is die eerste staatsbesoek deur ’n buitelandse staatshoof sedert die verkiesing in Mei.
Ramaphosa het ná die aanvalle twee spesiale gesante, oudminister Jeff Radebe en dr. Khulu Mbatha, die president se spesiale raadgewer oor internasionale betrekkinge, na onder meer Nigerië gestuur om die leiers daar te gaan paai oor die onlangse aanvalle in Suid-Afrika.
Die eiendom van Suid-Afrikaanse maatskappye in Nigerië is uit protes teen die aanvalle op buitelanders in Suid-Afrika beskadig. Die Suid-Afrikaanse hoë kommissariaat en die konsulaat in dié land moes tydelik gesluit word ter wille van die veiligheid van die personeel.
’n Groot getal Nigeriërs het ná die aanvalle van Suid-Afrika na Nigerië teruggekeer.
Buhari se staatsbesoek is gister deur ’n bilaterale vergadering van dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, en haar Nigeriese ampsgenoot, Geoffrey Onyeama, voorafgegaan. Dié vergadering is by die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) se hoofkantoor in Pretoria gehou.
Die binasionale kommissie tussen dié twee lande, waar sake van gemeenskaplike belang op politieke, ekonomiese, maatskaplike en tegniese gebied bespreek word, is vanjaar 20 jaar oud. Daar is reeds meer as 30 amptelike ooreenkomste tussen die twee lande, wat in verskillende fases van implementering is, sê die presidensie.
Die presidensie sê verder in ’n verklaring Suid-Afrika en Nigerië het sedert 1994 noue bande op politieke, ekonomiese en maatskaplike gebied. Verskeie Nigeriese maatskappye doen hier sake – van telekommunikasie en toerisme tot die landbou en die mynbedryf. Op sy beurt voer Suid-Afrika hoofsaaklik masjinerie, meganiese toerusting, mynboutoerusting en chemiese middels na Nigerië uit.
Die handel tussen die twee lande het verlede jaar byna R51 miljard beloop, sê die presidensie. Suid-Afrika voer ook heelwat goedere en produkte uit Nigerië in.
Ramaphosa sal gedurende die staatsbesoek deur Pandor en verskeie ander ministers bygestaan word. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie