'Niemand was gereed vir misdaadsindikate'
'Niemand was gereed vir misdaadsindikate'

'Niemand was gereed vir misdaadsindikate'

Die minister sê daar is 'n groot verskil tussen die volhoubare gebruik van en plundering van natuurlike hulpbronne.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Niemand was voorbereid daarop toe georganiseerde misdaadsindikate Namibië in die vorm van wildstropery en -smokkelary en die plundering van ons woude getref het nie.

Só het die Teenkorrupsiekommissie (ACC) se ondersoekhoof, mnr. Nelius Becker, Donderdag tydens 'n slypskool oor wild- en bosboumisdaad in Windhoek gesê.

"Toe renoster- en olifantstropery in alle erns begin, was die ministerie van die omgewing en toerisme nie opgewasse teen georganiseerde misdaad nie. Dieselfde geld vir die plundering van ons hout. Toe die Chinese besef die houtpryse is verouderd en ons bome begin plunder, was bosbou- en doeanebeamptes nie behoorlik opgelei nie," het Becker gesê.

"Ons doeanebeamptes het in 'n baie lang tyd geen opleiding ontvang nie. Van ons ken nie eens die verskil tussen 'n renosterhoring en 'n olifanttand nie. By die hawe moet 'n bosboubeampte eers die hout inspekteer om te bepaal of die houtspesie wettig uitgevoer mag word," het 'n doeanebeampte van die ministerie van binnelandse sake en immigrasie gesê.

Die goeie nuus is dat 'n gesamentlike hawe-eenheid gevestig gaan word.

Goeie vordering wat gemaak is volgens komm. Barry de Klerk, hoof van die Namibiese polisie se eenheid vir beskermde hulpbronne, is wetgewing wat gewysig is om swaarder boetes en vonnisse vir wildmisdadigers moontlik te maak.

Die slypskool is deur die ACC, in samewerking met die ministerie van die omgewing en toerisme, asook die Verenigde Nasies se Kantoor oor Dwelms en Misdaad (Undoc), aangebied om belanghebbendes oor die hulppakket teen wild- en bosboumisdaad in te lig.

Dit is 'n tegniese hulpbron wat deur die Internasionale Konsortium oor die Bekamping van Wildmisdaad (ICCWC) ontwikkel is om lande te help om wild- en bosboumisdaad te analiseer en te voorkom, veral op die gebied van wetstoepassing.

Die minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, het gesê die aanvraag na renosterhorings en ivoor sal altyd bestaan, en die markprys is hemelhoog.

SINDIKATE
"Sindikate het geld. Die hele misdaadketting tot by eindgebruiker het geld. As jy die mark wil sluit, moet jy seker maak die produk gaan nie die grense binne nie," verduidelik hy.

Daarom meen hy renosterhoring is oesbaar.

Dit is in aanvraag en Namibië en Suid-Afrika kan aan die mark voorsien.

"Gebruik dan hierdie geld vir bewaring. Private renostereienaars gee op, want dit is baie duur om renosters te versorg en te onthoring. Daar moet onthoring, geoes en aan die mark voorsien word, anders gaan stropers 'n manier vind om die laaste renoster uit te roei."

Shifeta sê daar is 'n groot verskil tussen die volhoubare gebruik van en die plundering van natuurlike hulpbronne.

"Stel jou voor dit wat eens ‘n woud was, is daarna heeltemal vernietig. Die Noorde was ‘n woud met wilde diere; vandag is dit amper ‘n woestyn," het hy gesê.

Shifeta sê: "Ons verwoes alles asof daar geen môre is nie. Die geslagte ná ons, gaan ons ernstig kwalik neem en meen ons is baie onverantwoordelik.”

Hy meen wetstoepassers op voetsoolvlak en in die hofsaal moet vir die suksesvolle verhoor en vervolging van misdadigers baie goed saamwerk.

Amerika se ambassadeur, me. Lisa Johnson, het gesê dit is 'n innoverende projek wat in verskeie lande met uitstekende uitslae geïmplementeer is.

Die Europese Unie (EU) se ambassadeur, me. Jana Hybaskova, het gesê georganiseerde misdaad sal voortduur solank daar wins daaruit te make is, en as misdadigers nie vervolg word nie, sal die misdaadketting nie stop nie.

"Daar moet samewerking tussen die polisie en aanklaers wees, want as misdadigers nie vervolg word nie, gaan ons nêrens kom nie."

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Leicester City 2 vs 1 West Bromwich Albion English Championship: Leicester City 2 vs 1 West Bromwich Albion Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!