Nóg skedels kom huis toe

Gesteelde Witbooi-Bybel op pad terug

23 August 2018 | Politiek
Catherine Sasman - Altesaam 26 skedels van Nama- en Herero-oorsprong sal op 31 Augustus met die derde repatriasie van Namibiese menslike oorskot van Duitsland af huis toe kom.

Dít is deur me. Veno Kauaria, adjunk- permanente sekretaris van onderwys, kuns en kultuur, bevestig.

Me. Katrina Hanse-Himarwa, minister van onderwys, kuns en kultuur, sal dié afvaardiging na die Charité-universiteit in Berlyn lei, waar die skedels tans gehou word.

Die skedels is by vyf of ses instellings gekry, en volgens bronne is dit nie die laastes nie, maar wel die laastes wat tot dusver geskiedkundig geïdentifiseer kon word.

Die Duitse nieregeringsorganisasie, Berlin Post-Kolonial, het gesê Hendrik Witbooi se Bybel, 'n kulturele voorwerp van nasionale belang wat tydens die koloniale era gesteel is, sal terselfdertyd na Namibië terugkeer.

Kauaria het gesê die Namibiese afvaardiging bestaan uit amptenare van 10 verskillende staatsinstellings, asook 25 mense van tradisionele owerhede van geraakte gemeenskappe.

Die Duitse ambassade het bevestig dit sal die 25 tradisionele leiers se reiskoste dek. Die ambassade het Dinsdag gesê dit sal 50 000 euros (sowat N$837 813 teen die huidige wisselkoers) hiertoe bydra.

Kauaria het gesê die staatsafvaardiging se reis- en verblyfkoste sal nie meer as N$200 000 beloop nie.

Die Namibiese afvaardiging sal op 29 Augustus die skedels tydens 'n Christelike gedenkdiens by die Franse katedraal in Berlyn ontvang.

Met hul terugkeer op 31 Augustus sal die skedels in die Parlementstuine tydens 'n diens uitgestal word.

Kauaria het gesê die skedels sal dan by die Nasionale Museum van Namibië saam met die ander skedels gehou word, wat onderskeidelik in 2011 en 2012 terugbesorg is.

Sy het gesê die regering en geraakte gemeenskappe sal later vergader om te besluit hoe die skedels voortaan hanteer sal word.

OMSTREDENHEID

Volgens anonieme bronne is die grootte en samestelling van die Namibiese afvaardiging nie sonder kwessie nie.

Hulle het gesê die voorsitter van die Nama- Tradisionele Leiersvereniging (NTLA), mnr. Willem Konjore, het beweer die regering het NTLSA-verteenwoordiging vir die reis oordryf.

Kauaria het egter gesê alle haakplekke is vreedsaam uitgestryk.

Berlin Post-Kolonial het ook gesê die alliansie genaamd No Amnesty For Genocide verwelkom die langverwagte repatriasie van menslike oorskot en die terugkeer van die Witbooi-Bybel.

Die alliansie is egter sterk gekant teen die manier waarop die beplande kerkseremonie in Berlyn aangebied gaan word.

Hulle maak beswaar teen die feit dat die geleentheid nie oop vir die publiek sal wees nie, en dat dit in ’n godsdienstige konteks geplaas gaan word.

Hulle sê “dit word bederf deur die feit dat verskeie belangrike leiers van die slagoffergemeenskappe nie genooi is nie".

Die uitgesluite leiers is dié wat Duitsland in New York voor die hof gedaag het omdat hulle nie by vergoedingsonderhandelinge tussen regerings ingesluti is nie, het die alliansie gesê.

“Waarom het die Duitse regering die repatriasie van ons mishandelde voorvaders op die Protestantse Kerk afgeskuif? Ons eis 'n staatsgeleide repatriasieseremonie in die Duitse parlement," het die Herero-aktivis, mnr. Israel Kaunatjike, wat in Berlyn woon, gesê.

"President (Frank-Walter) Steinmeier, wat 'n verskoning van Duitsland versoek het toe hy opposisieleier was, moet nou uiteindelik vir die Herero- en Nama-mense om vergifnis vra."

Die alliansie het ook van die Duitse regering en federale state vereis om die "ontelbare" hoeveelheid menslike oorblysels terug te besorg wat van voormalige Duitse kolonies soos Togo, Kameroen, Tanzanië, Rwanda, Burundi en Papoea-Nieu-Guinee, gesteel is.

Soortgelyk

 

Kobra saai paniek by konstruksieterrein

3 ure gelede | Omgewing

‘n Agressiewe en beseerde Anchieta-kobra, ook bekend as die Angolese kobra, het vroeër vandag vir paniek gesorg by ‘n konstruksieterrein op Otjiwarongo waar werkers besig...

Kraam buite kliniek - verpleegsters geskors

19 ure gelede | Ministeries

Henriette Lamprecht – Twee verpleegsters wat ‘n hoogswanger vrou by die Okuryangava-kliniek glo weggewys het, is in opdrag van die minister van gesondheid en maatskaplike...

Lewenslank vir Suide-verkragters

19 ure gelede | Howe

Elvira Hattingh en Ronelle Rademeyer - Twee mans wat vroue op Mariental en Tses verkrag en vermoor het, is gister in twee afsonderlike sake vonnisse...

Schlettwein sê oor TIPEEG, FOCAC

19 ure gelede | Regering

Denver Kisting – In die eerste plek is Namibië se ekonomie besig om aan te pas by ’n nuwe pad van groei nadat dit een...

Weer vir 19 September

19 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en warm in die Suide met enkele buie in die verre Suide. Elders sal baie tot bloedig warm in die Noorde wees.KUS:...

TransNamib op soek na nuwe direksie

19 ure gelede | Vervoer

Catherine Sasman Die ministerie van werke en vervoer het in 'n openbare kennisgewing aangekondig dat nuwe direksielede vir TransNamib gesoek word. Die huidige direksie se...

Esau: Visvangkwotas kan nie verkoop word

19 ure gelede | Ministeries

Leandrea Louw Die minister van visserye en mariene hulpbronne, mnr. Bernard Esau, het gewaarsku visvangkwotas kan nie verkoop word “om vinnig geld te maak nie”....

Help soek na vermistes

19 ure gelede | Misdaad

Tanja BauseDie Namibiese polisie vra die publiek se hulp in die opsporing van twee vermiste mense. Die 14-jarige Niita Fillemon word sedert 19:00 verlede Woensdag...

Grond: Wit boere wíl praat

19 ure gelede | Ministeries

Elvira HattinghDie president van die Namibië Landbou-unie (NLU), mnr. Ryno van der Merwe, sê dit is onwaar dat wit kommersiële boere nie in gesprek tree...