Nu00f3g u2019n politieke party sou nie help, su00ea Maimane
Nu00f3g u2019n politieke party sou nie help, su00ea Maimane

Nóg ’n politieke party sou nie help, sê Maimane

Die leier van die One South Africa Movement sê die feit dat daar meer as 1 600 onafhanklike kandidate vir die komende plaaslike verkiesings is, is ’n bewys die land is moeg vir politiek op plaaslike regeringsvlak.
Sarel van der Walt – In lande waar daar verandering ten goede was, was dit te danke aan die burgerlike samelewing wat self dié verandering teweeggebring het. Dit was nie politieke partye nie, sê Mmusi Maimane, leier van die One South Africa Movement en voormalige DA-leier.

Hy het op Netwerk24 se gespreksreeks oor die plaaslike verkiesings op 1 November gesê net soos wat swart en wit Suid-Afrikaners destyds die United Democratic Front (UDF) gestig het om saam te werk om van apartheid ontslae te raak, moet Suid-Afrikaners van alle taal- en bevolkingsgroepe nou weer hande vat om die verval in die land stop te sit en ongedaan te maak.

Gemeenskappe is leierloos en moet toegelaat word om self die leiding en verantwoordelikheid vir hul eie toekoms te neem, meen hy.

Dit is hoekom hy ná sy bedanking uit die DA in 2019 besluit het om nie soos Herman Mashaba, voormalige DA-burgemeester van Johannesburg wat in dieselfde tyd uit die DA gestap het, nóg ’n politieke party te stig nie.

“Ek is bevrees politiek het ’n ‘elite-sport’ geword wat net tot voordeel van ’n paar aan die bopunt is.

“Om dus net nóg ’n politieke party te stig, sou myns insiens sake net nog meer gekompliseerd gemaak het en bydra tot die probleem van gemeenskappe wat agtergelaat word,” het Maimane aan Gert van der Westhuizen, Netwerk24 se Stemme-redakteur en die gespreksleier, gesê.

“Dit is waarom ek besluit het ons moet ’n beweging begin waarbinne die burgerlike samelewing, die sakewêreld en alle ander sektore kan saamwerk om ’n doelwit te bereik.”

Die huidige stelsel van politieke partye op plaaslike vlak fragmenteer net die land.

“Ek sal graag in gesprek wil tree met ’n verskeidenheid van burgerlike groepe – insluitende AfriForum – om te vra wat hul voorstel is om ’n Suid-Afrika tot voordeel van almal te bou – en hoe ons dit saam kan doen,” sê Maimane.

“Wat nodig is, is ’n voetsoolvlak-beweging van aktiviste.”

Plaaslike regering in die land is in ’n krisis omdat dit deur politieke partye gekaap is. Om dit te beëindig moet die beheer aan die burgers teruggegee word, sê Maimane.

Ek is bevrees politiek het ’n ‘elite-sport’ geword wat net tot voordeel van ’n paar aan die bopunt is.

Hy meen die feit dat daar meer as 1 600 onafhanklike kandidate vir die komende plaaslike verkiesings is, is ’n bewys daarvan dat die land moeg is vir politiek op plaaslike regeringsvlak. One South Africa steun ’n diverse groep van onafhanklike kandidate.

Daar is drie dinge wat gedoen moet word om munisipaliteite reg te ruk: Dié regeringsvlak moet weggeneem word uit die hande van politieke partye en teruggegee word aan gemeenskappe.

In die tweede plek moet korrupte burokrasieë reggeruk word.

Derdens moet die kapasiteit van plaaslike regering uitgebrei word sodat hulle hul werk behoorlik kan doen.

Daar sal ook indringend gekyk moet word na hoe plaaslike regerings gefinansier word, sê Maimane.

Eugene Botha, lid van die Patriotic Alliance (PA) se nasionale komitee, het op sy beurt gesê die PA kan in die komende verkiesing beter vaar as in 2016. Die magsbalans in verskeie munisipaliteite kan selfs van dié party afhang, meen hy.
– Netwerk24

FOTO
Mmusi Maimane, leier van die One South Africa Movement en voormalige DA-leier. Foto Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

SerieA: Genoa 0 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Southampton 3 vs 0 Preston North End English Championship: Southampton 3 vs 0 Preston North End Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 26km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:25, High tide: 13:40, Low Tide: 19:24, High tide: 01:48 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:38, Low Tide: 19:22, High tide: 01:46 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 36km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:37, Low Tide: 19:22, High tide: 01:45 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!