Nóg ’n bloedbad

Twee kinders moes vir hul lewens vlug toe hul oom gisteroggend glo met ’n panga verwoesting in die Epatululo-nedersetting in die Noorde gesaai het.
Ileni Nandjato
Ileni Nandjato op Onghuno - Twee kinders (9 en 7) moes gisteroggend na hul bure se huis hardloop om hul dood te ontkom ná hul oom berserk gegaan het en glo hul ouma, oom, niggie en verskeie diere met ’n panga doodgekap het.

Die tragedie het in die vroeë oggendure in die Epatululo-nedersetting naby Onghuno in die Ohangwenastreek plaasgevind.

Die 26-jarige man is in hegtenis geneem, maar sy naam kan nie gepubliseer word nie omdat hy nog nie in ’n hof verskyn het nie.

Hy het na bewering sy ma, me. Vilgenia Teofelus (61), sy broer, mnr. Simon Petrus (30), en sy eenjarige niggie, Ndapandula Hafeni, vermoor.

Petrus het glo probeer om sy ma tydens die panga-aanval te red.

’n Tweejarige kind is ernstig gewond toe die verdagte glo haar linkerbeen en twee vingers aan haar linkerhand afgekap het.

Nie eens die familie se troeteldiere en vee is gespaar nie. Die man het die hond en agt bokke glo met dieselfde panga afgemaai voor hy die twee oorlewende kinders na die bure se huis gevolg het.

Volgens die polisie sal die man van moord, poging tot moord en wreedheid teenoor diere aangekla word.

Die polisie sê die drie slagoffers is verskeie kere met die panga oor die kop getref.

Die liggame van die verdagte se ma en broer is op die grond in hul huisie gevind, terwyl dié van die twee kinders in die slaapkamer was.

‘ONSIGBARE MENSE’

“Die motief vir die misdaad is volgens sy (die verdagte se) suster, me. Olivia Petrus, onbekend. Die verdagte het glo sedert Sondag vertel hy sien baie mense om die huis. Hy het glo teen dié onsigbare mense met ’n panga baklei,” het die polisie gesê.

“Ons het die moordwapen in die Okelemba-nedersetting gevind waar dit weggesteek was.”

Volgens die polisie is die ernstig beseerde tweejarige meisie na die Engela-distrikshospitaal geneem, waarná sy na die Oshakati-staatshospitaal gehaas is.

Die twee ander oorlewende kinders is tans in die sorg van ’n maatskaplike werker.

Volgens hul buurvrou, me. Losalia Ndakalako, is sy omstreeks 05:00 deur die twee kinders wakker geskree wat by haar huis vir hulp ingehardloop het.

“Hulle het aan my vertel dat hul oom mense in hul huis met ’n panga aangeval het. Hulle het gesê hy het in die kamer ingekom waar hulle saam met hul ouma geslaap het,” het die buurvrou vertel.

“Hulle het vertel hy het die panga onder die ouma se bed uitgehaal en hulle beveel om die huis te verlaat. Toe hulle uitgegaan het, het die ouma glo probeer om die panga van die verdagte af te neem,” het Ndakalako gesê.

‘KINDERS VREESBEVANGE’

“Hulle moes oor die ingang van die huis klim om te ontsnap, want dit was styf toegemaak. Ons het hulle in ’n kamer ingevat, maar hulle was vreesbevange en wou nie alleen wees nie.

“Ek het die twee kinders se ma in Windhoek gebel om die polisie te bel. Later het ons hom in ons huis hoor inkom om na die kinders te soek. Ons het onsself in die kamer toegesluit en hy het weggegaan.”

Ndakalako het gesê hulle was te bang om die huis te verlaat en het sowat ’n uur vir die polisie gewag om op te daag.

Volgens die streekkommissaris van die Namibiese polisie, komm. Simeon Shindinge, het polisiebeamptes die verdagte in die pad sien loop en hom in hegtenis geneem.

“Toe ons die nuus kry, het ons soontoe gejaag en ’n span is oral in die nedersetting ontplooi. Ons kon daarin slaag om die verdagte te vang voor ons by die huis gekom het waar alles gebeur het. Ons het die drie liggame in die huis gevind,” het Shindinge gesê.

“Ons het verneem hy was verlede pas by die huis ná hy vir ’n ruk nie daar was nie. Ons vermoed hy het dwelms en alkohol misbruik,” het Shindinge gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 18km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 18km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 24km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!