‘Net één goudmyn sal wins maak met Eskom-plan’
William Horne – As Eskom se nuwe tariefverhogings goedgekeur word, sal daar binne twee jaar, teen 2021, slegs een goudmyn oorbly wat nog ekonomies lewensvatbaar is.
Derduisende mense sal hul werk verloor.
So meen die Mineraleraad van Suid-Afrika (MCSA), wat Woensdag sy verslag oor die ekonomiese impak van Eskom se tariefaansoek van 15% per jaar oor die volgende drie jaar in Johannesburg bekend gestel het.
Volgens Henk Langenhoven, hoofekonoom by die MCSA,
is die mynbedryf só kwesbaar en werk met so ’n dun winsgrens dat die hoër tariewe 80% van alle goudmyne ekonomies onlewensvatbaar sal maak.
“As dit gebeur, gaan Eskom talle van sy mynboukliënte verloor,” sê Langenhoven. Dus, verduidelik hy, sal die verlies aan kliënte eintlik tot ’n netto inkomsteverlies vir Eskom lei.
“Waar hy hoop om sy inkomste hier van R24 miljard tot R50 miljard op te stoot, sal dit dan inderwaarheid daal tot slegs R19 miljard.
“Eskom versnel eintlik net sy eie doodspiraal,” sê Langenhoven.
Roger Baxter, uitvoerende hoof van die MCSA, het verwys na die breër impak van die hoër tariewe, gegewe dat die mynbedryf in effek sou ineenstort en Eskom dan nog verder in die skuld sou wees.
Volgens hom is die eintlike netto verhoging meer as 50% ná die derde jaar van jaarlikse 15%-verhogings, en as alle verwante prysverhogings van elektrisiteit ingereken word, is die netto verhoging teen 2021 nader aan 70%.
“Die mynbedryf sal nie die hoër tariewe kan handhaaf nie. As talle myne sluit, sal dit Jan Alleman wees wat Eskom se tekorte moet finansier, en daar sal dan waarskynlik nóg verhogings moet wees wat die verbruiker ook sal takel,” het Baxter gesê.
Volgens Langenhoven is dit veral goud- en platinummyne wat sal swaarkry onder die voorgestelde tariewe omdat hul diep myne (4 km en 3 km, onderskeidelik) die afhanklikste is van elektrisiteitstoevoer. Ander hulpbronne benodig eers in later stadiums groot hoeveelhede krag, veral vir smelting.
Baxter noem dat al is die impak op verwerking en smelting ook enorm, verskuif mynmaatskappye al jare lank hul smelters oorsee om weg te kom van die onbetroubare en duur elektrisiteit in Suid-Afrika.
“Ons het plaaslike mynmaatskappye wat hul eie smelters eerder in Maleisië gaan bou het, want dit maak ekonomies meer sin om die erts al die pad tot daar te vervoer vir verwerking as om dit hier te doen,” sê Baxter.
Langenhoven verduidelik met betrekking tot ’n hulpbron soos mangaan, is 30% van alle erts in 2007 plaaslik verwerk. “Vandag staan daai syfer op slegs 3%.
“Dit beteken daar is ’n meer as R25 miljard-geleentheidskoste wat prysgegee word, en dis hoofsaaklik weens onbetroubare toegang tot elektrisiteit en die voortdurende toename in kragtariewe.”
As die laaste verwerking van ander hulpbronne dan na die buiteland skuif, is die myne self al waarop die bedryf sal staat maak. Maar die myne self sal nie oorleef met dié tariewe nie, sê Baxter.
“Dit is die eerste keer sedert ongeveer 1906 wat ons goudmyne minder as 100 000 werkers het,” sê hy.
Baxter verduidelik dat die enorme verlies aan werksgeleenthede gepaardgaande met die effektiewe ineenstorting van ’n groot deel van die ekonomie ’n krisis sal veroorsaak.
“Ons is almal in dieselfde bootjie met betrekking tot Eskom, en as sy bootjie sink, dan sink ons almal,” sê hy. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie