Neserhuis - middestad se misbaksel

Rommel en haweloses dreig om gebou in ashoop te omskep.
Yochanaan Coetzee
Yochanaan Coetzee - Inwoners van die mini­sterie van werke en vervoer se Neserhuis-woonstelblok in Windhoek sit letterlik in sak en as.

Dié woonstelblok in Ausspanplatz in die middestad, is 'n steen des aanstoots weens swak vullisverwydering, beweer inwoners.

Hulle sê hulle sal die kompleks beter in stand kan hou as daar meer beheer oor toegang tot die gebou is.

Die kompleks bestaan uit ses geboue met ongeveer 150 woonstelle. Baie van die woonstelle huisves minstens vier tot vyf mense.

“Daar bly baie mense in die kompleks, maar niemand pla mekaar rêrig nie. Die grootste probleem is daar is nie genoeg dromme vir vullis nie en dit word nie gereeld leeggemaak nie.

"Omdat daar ook nie hekke is nie, kom bly haweloses op die perseel en krap in die dromme. Dan waai die wind die rommel oral rond,” sê me. Queen Kashihakumwa, wat die afgelope 10 jaar reeds saam met haar gesin hier bly.

Sy sê daar was onlangs 'n poging om 'n elektriese motor by die hoofingang se hek te laat installeer, maar dit het gesloer en die motor is intussen gesteel.

Die tekort aan toegangsbeheer is duidelik. Van die ses ingange wat Republikein gesien het, was net een gesluit.

Nog 'n probleem is die tekort aan sekuriteit. Daar is talle donker hoekies wat 'n teelaarde vir misdaad, dwelmgebruik en aanvalle kan wees, sê inwoners.

“Dit is baie onveilig op sekere plekke omdat van die kragbeheerkamers se deure oopgebreek is en mense daar slaap. Wie weet wat anders hulle daar doen?” het 'n inwoner wat anoniem wil bly, gesê.

“Die ministerie en die munisipaliteit is behulp­saam wanneer jy herstelwerk onder hul aandag bring, maar ons wil ook die woonstelblokke en openbare terrein verbeter. Dit begin by die beheer en verskaffing van diens wat doeltreffend sal wees vir die aantal mense wat hier bly,” het hy gesê.

Mnr. Ronnie Golgota, rommelbeheerbeampte van Windhoek se munisipaliteit, het inwoners aangeraai dat die bestuur van die woonstelkompleks aansoek om meer dromme moet doen en meer gereelde vullisverwydering.

Pogings om met die ministerie van werke en vervoer se instandhoudingsafdeling te skakel, was teen druktyd nie suksesvol nie.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 18km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 18km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 24km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!