Nege aangehou ná rooftogte

Die nasionale polisiewoordvoerder het verlede week uitgebrei oor uitstaande sake waaraan die Namibiese polisie en die Teenkorrupsiekommissie aandag skenk.
Augetto Graig
Augetto Graig – Die Namibiese polisie (Nampol) het verlede week nege ver­dagtes in hegtenis geneem wat na bewering by twee rooftogte in Okahandja betrokke was.

Volgens adj.komm. Kauna Shi­kwambi, die nasionale polisiewoordvoerder, het die eerste rooftog op Vrydag 14 Januarie plaasgevind. 'n Namibiese man (68) het saam met sy 27-jarige werknemer na 'n bank by die Okahandja-inkoopsentrum gegaan om N$30 830 te deponeer. Terwyl die duo uit hul voertuig geklim het, het drie mans glo na hulle gehardloop, die sak met die geld gegryp en in 'n silwer sedanvoertuig op die vlug geslaan.

Agra Okahandja is in die tweede voorval geteiken. Drie verdagtes het 'n 27-jarige sekuriteitswag aangeval toe hy kontant na Agra se hoofwinkel aan die ander kant van die straat geneem het. Terwyl die wag met die mans gestoei het, is hy met 'n mes in die rug gesteek. Volgens die polisie se misdaadverslag het 'n tweede wag op die voertuig geskiet toe die verdagtes in 'n silwer Volkswagen-sedanvoertuig op die vlug geslaan het. Een verdagte is raakgeskiet. Altesaam N$524 726 is gebuit.

Shikwambe sê 'n 28-jarige verdagte is in hegtenis geneem en beslag is op die sedanvoertuig gelê. Bloed is in die voertuig gevind. Die vermeende baasbrein – 'n 49-jarige man – is in Okahandja se Vyf Rand-nedersetting vasgetrek, en beide verdagtes word ook aan Vrydag se voorval verbind.

Nóg twee mans van onderskeidelik 26 en 27 jaar oud is op 19 Januarie in verband met die saak vasgetrek. Een van die verdagtes het 'n skietwond aan sy skouer waarvoor hy tans behandeling in die Okahandja-staatshospitaal ontvang. Nog vier mans van onderskeidelik 26, 26, 27 en 28 jaar oud is dieselfde dag in Windhoek in hegtenis geneem, terwyl nog 'n 27-jarige man – vermoedelik die eienaar van die ander voertuig wat in die rooftog betrokke was – op Karibib vasgetrek is.



GRUONGELUK OP 10 DESEMBER

Shikwambi het ook oor die gruonge­luk van 10 Desember 2021 uitgebrei waarin 15 mense verkool het.

Nampol kan steeds nie doodsertifikate uitreik nie. Dit ten spyte van die bekendmaking van die slagoffers se name vroeg hierdie maand.

Shikwambi sê Nampol se Instituut vir Forensiese Wetenskap (NPFSI) het 'n agterstand van meer as 4 000 sake waar DNS-bewyse benodig word. Sonder die DNS-uitslae kan Nampol nie die nodige doodsertifikate uitreik nie, sê sy.



DRIE POLISIELEDE VOOR HOF

Die Teenkorrupsiekommissie (ACC) het verlede Dinsdag aangekondig drie polisiebeamptes het verlede Maandag (17 Januarie) in die landdroshof in Katutura verskyn.

Konstabels Erastus Hashipala, Gilbert Owoseb en Pinehas Ikanda word daarvan beskuldig dat hulle buitelanders – wat onwettig in Namibië is – afgepers en vir omkoopgeld gevra het.

Die ACC het 'n lokval op 13 Januarie vir die verdagtes gestel. Hashipala en Owoseb is tydens die operasie vasgetrek terwyl Ikanda die volgende dag in hegtenis geneem is.

Daar word beweer dat hulle gedreig het om buitelanders sonder geldige dokumentasie in hegtenis te neem en aan te hou sonder om strafregtelike sake aanhangig te maak.

Die verdagtes het sowat tien buitelanders só uitgebuit teen omkoopgeld van tussen N$1 000 en N$3 000, volgens die kommissie. Die beskuldigdes verskyn weer op 30 Maart in die hof.



BELONING

Die polisie bied 'n beloning van N$20 000 aan vir enige inligting in verband met die moord van konstabel Talamondjila (Shiponga) Petrus in Augustus verlede jaar.

Sy oorskot is in die rivier agter Wimpy in Mariental gevind. Die vermoede is dat hy gedurende die uitvoer van sy pligte tussen 17 en 21 Augustus vermoor is. Enigiemand met inligting kan insp. Gert Boois by 081 259 8664 of hul naaste polisiekantoor kontak.

[email protected]

FOTO’s verskaf
Nampol bied N$20 000 vir inligting wat kan help om die moord op konstabel Talamondjila Petrus verlede jaar Augustus op Mariental op te los.
Konstabel Erastus Hashipala is deur die Teenkorrupsie Kommissie in hegtenis geneem.
Konstabel Gibert Owoseb moet op 30 Maart op klagte van korrupsie in die hof antwoord.
Konstabel Pinehas Ikanda is beskuldig dat hy onwettige buitelanders vir geld afpers.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!