Necsa: Atoombom van bewerings oor bestuur, finansies
Necsa: Atoombom van bewerings oor bestuur, finansies

Necsa: Atoombom van bewerings oor bestuur, finansies

Die korporasie se hele direksie het oornag bedank, en dit klink of die hy moontlik nie in Januarie salarisse sal kan betaal nie.
Elvira Wood – ’n Atoombom van bewerings en gebeure het Woensdag by die Kernenergiekorporasie van Suid-Afrika (Necsa) ontplof.

Buiten die nuus vroegoggend dat die hele direksie oornag bedank het, het twee bronne met goeie kennis van wat by Necsa aangaan, aan Netwerk24 gesê dit klink asof die korporasie moontlik nie in Januarie salarisse sal kan betaal nie.

Dele van ’n brief wat Necsa se direksie glo op 9 Januarie aan Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, gestuur het, en wat Netwerk24 onder oë gehad het, bevestig dié bewering.

Luidens dié brief het Necsa op 3 Januarie vanjaar net R9 015 719 se kontantreserwes gehad.

“Necsa het betalingsverpligtinge van R25 768 539 wat verskuldig is tussen 3 Januarie en 7 Januarie 2020, wat ’n kontanttekort van R16 752 819 laat,” lui die brief.

Necsa skuld ook lR5,3 miljoen aan krediteure.

“Necsa het verdere finansiële verpligtinge ten bedrae van ongeveer R197 miljoen wat betaalbaar is tussen 7 Januarie en 31 Maart 2020. Dit sluit in, maar is nie beperk nie tot werknemers se salarisse, statutêre verpligtinge en krediteure soos Eskom,” lui die brief.

’n Woordvoerder van Necsa kon nie bevestig of salarisse betaal gaan word of nie.

'n Bron het aan Netwerk24 gesê die direksie het moontlik bedank juis omdat salarisse nie betaal kan word nie.

Mantashe het vroegoggend in ’n video op Twitter gesê hoewel hy nie die bedankingsbriewe gesien het nie, kan die direksielede “loop as hulle wil”, hy gaan hulle nie keer nie.

Chris Yelland, energiekenner, het nuus oor die bedanking Woensdagoggend eerste op Twitter bekend gemaak.

Volgens Yelland het hulle glo bedank omdat daar geen behoorlike verhouding tussen Necsa en Mantashe is nie.

Mantashe is ook glo volgens hulle onwillig om die finansiële probleme by Necsa te help uitstryk.

Oor die direkteure se bewering dat Mantashe hulle nie ondersteun wat die finansiële probleme by Necsa betref nie, sê Mantashe in die video: “Daar kan nie finansiële prestasie wees sonder goeie bestuur nie.”

Luidens TimesLive het Pulane Kingston, dr. Pulane Molokwane, Mathlodi Ngwenya en Bishen Singh bedank.

Dr. Rob Adam, wat voorheen voorsitter was, het reeds in Junie 2019 bedank.

Adam het reeds in Maart 2019 aan die parlement se portefeuljekomitee oor energie gesê hoewel Necsa toe ’n lopende saak was, sou dit nie so bly indien sake op dieselfde trant sou voortgaan nie.

Reaksie

Zolani Masoleng, voorsitter van die vakbond Nehawu se lede wat by Necsa werk, het Woensdag in ’n telefoniese onderhoud aan Netwerk24 gesê as die nuus waar is dat die direkteure bedank het, is dit “baie goeie nuus”.

“Hulle hardloop nou net weg, en blameer die minister vir die probleme by Necsa,” sê hy.

Masoleng sê die vakbond probeer al ’n jaar lank om die direksie uit die kussings te lig. “Hulle was in die eerste plek nie veronderstel om daar te wees nie. Hulle is aangestel nadat Jeff Radebe, voormalige minister van energie, die vorige direksie onwettig afgedank het.

“Tog het hulle nie ná die hofuitspraak bedank nie en is hulle nou onwettige begunstigdes weens hul aanstelling,” sê hy.

Masoleng verwys na die hooggeregshof in Pretoria se uitspraak in Augustus 2019 waarin bevind is dat die aanstelling onwettig was en ter syde gestel moes word.

Masoleng beskuldig die direkteure ook daarvan dat dit juis hul skuld is dat Necsa hom in ’n groot finansiële verknorsing bevind.

“Hulle is roekeloos,” sê hy.

Hy sê die voorstel om Necsa te likwideer maak nie sin nie.

“Jy kan nie ’n perseel waar daar met kernkrag gewerk word net likwideer en sluit nie. Jy kan ook nie die bedrywighede net aan ’n ander maatskappy verkoop nie. Dit werk nie so nie,” sê hy.

Necsa vervaardig mediese isotope by sy vervaardigingsafdeling Nasionale Tegniese Produkte (NTP). Dié isotope word gebruik vir die behandeling van kanker.

Dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en woordvoerder oor minerale hulpbronne en energie, sê in ’n verklaring die gebeure by Necsa is “ ’n groot bron van kommer”.

“Die mediese produkte wat deur die NTP vervaardig word, is ’n belangrike verdiener van buitelandse valuta. Daarom is probleme in hierdie deel van die onderneming skadelik vir die Suid-Afrikaanse ekonomie,” sê hy in ’n verklaring.

Kevin Mileham van die DA sê Mantashe moet so gou moontlik verantwoording doen aan die parlement se portefeuljekomitee oor minerale bronne en energie oor die bedankings en beweringe wat gemaak word.

“Mantashe het ’n gewetenlose aanvanklike reaksie op hierdie bedankings gelewer, soos blyk uit sy kommentaar op sosiale media,” sê Mileham in ’n verklaring.

“Hiervolgens gaan hy glo net die direksie van Necsa ‘aanvul’. Dit is nog ’n duidelike aanduiding dat Mantashe geheel en al ongevoeg is om aan die behoeftes en eise van sy amp te voldoen.

“Daar is geen twyfel dat hy geen beheer het oor die entiteite wat hy veronderstel is om te bestuur nie. Mantashe word steeds deur vakbonde aan die neus gelei, in plaas daarvan om te verseker dat ons energiesektor funksioneel bestuur word.”

Mantashe sê in die video op Twitter “ons is besig om die bestuur stap-vir-stap in staatsondernemings op te bou. As jy nie goeie bestuur het nie, is daar groot finansiële risiko’s.”

Die departement van minerale bronne en energie sê in ’n verklaring hy neem kennis van die direkteure se besluit om te bedank. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!