NBC verdrink in skuld

Die minister het 'n beroep op werknemers gedoen om geduldig te wees en het interne kostebesparingsmaatreëls voorgestel.
Augetto Graig
Augetto Graig



Die voortslepende arbeidsgeskil by die nasionale uitsaaier (NBC) besorg mnr. Stanley Simataa, minister van inligting en kommunikasietegnologie, hoofbrekens, het hy gesê.

“Die NBC verdrink amper en die omstandighede raak net erger. As portefeuljeminister gee dit my slapelose nagte.

“Ek verstaan hul pleidooi. Ek wens ek het die geld gehad,” het Simataa gesê.

Die minister het erken die nasionale uitsaaikorporasie se finansiering is gebrekkig.

“Dit is die werklikheid,” meen hy.

“Die NBC word nie voorsien van die finansiële hulpbronne wat hulle nodig het om hul mandaat te handhaaf nie,” het die lynminister gesê.

Boonop is die nasionale uitsaaier ook met geskiedkundige skuld belas, wat uitstaande bydraes tot werknemers se pensioenfondse, mediese fondse en inkomstebelasting insluit.

“Die bietjie wat die NBC inwin, word aan die werknemers se vergoeding bestee. Daarná is niks oor nie,” het hy gesê.

Tog dring verskeie vakbonde en verteenwoordigers van NBC-werknemers aan op salarisverhogings waarop twee jaar gelede reeds ooreengekom is. Verteenwoordigers van die werknemers, wat al by verskeie geleenthede voor die uitsaaier se hekke betoog het, sou Vrydag met arbeidsbemiddelaars vergader om duidelikheid te kry oor watter vorme van protes aangeteken mag word.



bemiddeling uitgestel

Dié vergadering is volgens me. Toucy Tjijombo, woordvoerder van die NBC-werknemers, tot Vrydag uitgestel.

Simataa het 'n beroep op werknemers en vakbonde gedoen om die huidige ekonomiese omstandighede in ag neem en met hom saam te werk om die NBC van gewisse ineenstorting te red.

“Die omstandighede is dieselfde vir almal, maar wees geduldig en gaan voort om saam met ons diens te lewer,” het hy gesê.

Volgens Simataa wil hy nie toekyk hoe Namibië in die duisternis van geen beskikbare radio- of televisie-inhoud gedompel word nie.

“Die aard van die dienste wat hulle verskaf, is noodsaaklik. Ek doen 'n beroep op hulle (werknemers) om bedryfsaksie te vermy, al is dit hul reg. Dit sou Namibiërs van toegang tot noodsaaklike inligting weerhou,” het hy gesê.

Die minister en die bestuur van die NBC ondersoek die moontlikheid van die verbetering van doeltreffendheid deur die oordra van sekere verantwoordelikhede.

Ná 'n onlangse besoek aan PowerCom by Gross Hertzog, by wie die NBC, Telecom Namibia en MTC almal geriewe huur, het die minister gesê PowerCom kan die instandhouding van tegniese departemente en uitsaaitorings beter behartig.

“Dit val nie onder die NBC se sleutelfunksies nie,” het hy gesê.

“Dit is selfs nie 'n sleuteldiens van MTC nie. PowerCom is egter 'n voorbeeld van die soort inligtingskommunikasie-infrastruktuurmaat­skappy wat die regering wil stig.

“Die NBC en Telecom verskaf dienste en moet meeding op die gebiede van diensverskaffing en inhoud, maar almal het groot tegniese departemente.

“Die besit van torings en hul instandhouding kan deur iemand anders behartig word. Ons sal egter nie roekeloos daarmee te werk gaan nie,” het hy gesê.

Uitgawes verbonde aan die instandhouding van groot ingenieursafdelings kan só ingeperk word, meen hy.

“Dít is die opsies, en dit is een waarsonder die NBC kan klaarkom,” het hy gesê.

Volgens Simataa maak die uitsaaier staat op die regering omdat hy nie self genoeg geld inwin nie.

“Wat is beter: om mense af te dank, of om die omstandighede te beheer sodat mense hul werk kan hou? Ons probeer die verhoging van die vergoedingsrekening voorkom, terwyl werksgeleenthede beskerm word,” het hy gesê.

Simataa het gesê die NBC kan binne twee of drie maande 'n finansiële hupstoot in die vorm van 'n bykomende toelaag van die regering verwag.

“As ons nie genoeg geld kan voortbring nie, sal die eerste opsie wees om nie deeltydse werknemers se kontrakte te hernu nie.”

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!