NBC 'glo' regering sal met miljoene help
Die voorsitter van die NBC sê die regering is reeds om hulp genader en hulle wag op terugvoering.
Jo-Maré Duddy
Die pensioenfonds waaraan die NBC behoort, moet tans van hul reserwes gebruik om te vergoed vir die nasionale uitsaaier se versuim om werknemers se maandelikse bydraes oor te betaal.
Die voorsitter van die NBC se direksie, mnr. Sven Thieme, het gister die agterstallige pensioenbydraes bevestig. Die NBC het met die trustees en administrateurs van die pensioenfonds oor oorbruggingsmoontlikhede tot Augustus vanjaar onderhandel.
“Ons glo die regering sal die finansiële posisie van die korporasie herstel,” sê Thieme.
Intussen moet die pensioenfonds van sy eie reserwes gebruik maak om enige risiko te verminder wat uit die NBC se wanbetaling kan spruit.
Thieme sê die regering is reeds rakende 'n kontantinspuiting genader. Hy wou nie sê hoeveel dié reddingsboei beloop nie. Om die status quo by die uitsaaier te handhaaf, is “miljoene dollar” egter nodig, aldus Thieme.
Dié geld sal nie net met die agterstallige pensioenbydraes help nie, maar ook met werknemers se mediesefondsbydraes wat sedert Februarie vanjaar ook nie aan Namibia Medical Care (NMC) oorbetaal is nie.
Dié uitstaande bedrag beloop N$15 miljoen en die NBC het aangebied om weekliks N$50 000 aan NMC te betaal terwyl hulle op terugvoering van die regering wag, sê Thieme. NMC het egter sy dienste aan die NBC van môre af opgeskort.
Thieme het beweringe ontken dat die NBC met werknemers se huispaaiemente by handelsbanke agterstallig is.
Sedert die regrukstrategie by die NBC etlike jare terug, dra die uitsaaier bykans 50% tot sy bedryfsuitgawes by, aldus Thieme. Inkomste het van N$84 miljoen in 2015-'16 tot N$102 miljoen in 2016-'17 gegroei. Die regering se subsidie aan die NBC het egter die afgelope twee jaar met N$200 miljoen gekrimp.
Thieme sê die indruk moenie geskep word dat die NBC die enigste instelling is wat tans deur moeilike tye gaan nie. “Baie ander besighede het personeel weens moeilike ekonomiese omstandighede afgelê,” sê hy.
“Ons verwag en glo die regering sal die NBC help om voortgesette dienslewering aan Namibië te verseker en om die uitsaaier in staat te stel om sy wetlike mandaat te vervul,” sê Thieme.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie