Navorsing werp lig op rare raaiselvis

Navorsers het nog twee poele in die Aigamas-grotstelsel ontdek waarin Namibië se blinde spelonkbaber in klein getalle voorkom.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Baanbrekersnavorsing het onlangs meer lig gewerp op die uiters rare raaiselvis wat sy lewe lank in Otavi se stikdonker watergrotte vertoef.

Daar is ontdek dat Namibië se blinde spelonkbaber op meer plekke binne die Aigamas-grotte voorkom as wat voorheen gedink is, maar ook dat dit dalk nóg meer bedreig is as wat ooit besef is.

Die spelonkbaber (Clarias cavernicola; Trewavas 1963), is bekend daarvoor dat dit nog nêrens anders in die wêreld as in slegs een grot naby Otavi gevind is nie – dit is dus endemies aan Namibië. Dit maak dit die raarste visspesie in Suider-Afrika en een van die mees bedreigde spesies in die wêreld.

’n Navorsingsartikel met die nuwe bevindinge deur die Namibiese navorsers dr. Francois Jacobs (ministerie van visserye en mariene hulpbronne), mnre. Gerhard Jacobs (SLR Environmental Consulting), Clinton Hay (Universiteit van Namibië/Namibia Nature Foundation) en die Noorweegse Tor Naesje (Norwegian Institute for Nature Resource) het op 22 September in die African Journal of Aquatic Science verskyn.

Dantica Diving se mnre. Reuben Engels en Chris Steenkamp was ook by die navorsing betrokke.

Dit volg nadat hulle in Februarie en Mei verlede jaar ’n grot in die Aigamas-grotstelsel wat minder verken is, besoek het. Ook is daar vir die eerste keer ooit ’n doelbewuste sensus van die rare spelonkbaber gedoen.

Danksy dié inligting kon die bewaringstatus van die spesie herevalueer word volgens kriteria deur die Internasionale Unie vir Natuurbewaring (IUCN).

“Die navorsing bevestig die spesie kwalifiseer inderdaad vir die status as kritiek bedreig, weens die beperkte geografiese gebied waarin dit voorkom (sowat 4 km2), asook talle bedreigings, wat insluit die moontlike uitermatige onttrekking van ondergrondse water, besoedeling en dat dit onwettig vir akwariums gevang word,” het die navorsers bevind.

AIGAMAS-GROTTE

Die navorsers sê die Aigamas-grot het vyf bekende ingange, wat die sonlig toelaat om die eerste grot gedeeltelik binne te dring. Dié grot is tot dusver nog net tot op ’n diepte van 94 m verken. Dit is wel dieper.

“Die eienaar van die plaas waar die Aigamas-grot geleê is, mnr. Axel Bauer, het egter geweet van ’n ingang na nog ’n grot in dié stelsel, wat minder verken is. Hy woon reeds sowat 30 jaar op die plaas.

“Die nuwe ingang, genaamd E3, is sowat 120 m noordwes van die meer bekende Aigamas-grotingang geleë.

“Volgens Bauer is daar net een maal vantevore probeer om hier ’n ekspedisie van stapel te stuur, maar dit was onsuksesvol. Volgens literatuur blyk dit dat vorige verkenners nie die watervlakke bereik het nie,” het die navorsers in hul jongste artikel geskryf.

Dit is baie moeilik om ingange tot die Aigamas-grotstelsel te vind, omdat daar tot dusver nie werklik koördinate, tekeninge of genoegsame beskrywings daarvan bestaan nie.

Jacobs en die ander navorsers het egter by E3 ingegaan en afgeklim tot op ’n derde vlak, voor hulle die keer ’n ietwat meer suidoostelike rigting as vorige ekspedisie-spanne ingeslaan het. Hulle het toe op twee nuwe poele afgekom wat sowat 87 m onder die grondoppervlak is. Die poele lê teen ’n diepte van 1 263 m bó seevlak.

Hulle sê die eerste poel was sowat 8 m lank en 2 m breed. Daarvandaan loop ’n nou ingang na ’n tweede poel. Hierdie een is sowat 9 m breed en 1,5 m lank.

“Die diepte van die poele is nie verken nie. Daar was ook nie, op die oppervlak, enige sigbare verbintenisse tussen dié twee poele of met die meer bekende Aigamas-grot nie, maar hulle is in alle waarskynlikheid hidrologies verbind,” het die navorsers geskryf.

VISSE TEL

Die navorsers het besluit om die visse visueel te tel omdat dit die minste indringende metode vir die hoogs bedreigde spesie is. Boonop is die metode gepas omdat die blinde visse met hul pienk tot goue kleur maklik identifiseerbaar is, hul beweegruimte beperk is en hulle kalm en traag voorkom.

“Data van visuele tellings sal dus in alle waarskynlikheid goeie skattings van die bevolkings bied in die gebiede wat verken is,” het die navorsers geskryf.

Twee professionele duikers het die poele tot op ’n diepte van 40 m verken. Die spelonkbaber is egter nie dieper as 17 m opgemerk nie, met die meeste wat klaarblyklik verkies om in die boonste 3 m van die water te bly.

’n Maksimum van 119 spelonkbabers is in die Aigamas-grotte getel, wat daarop dui dat vorige bevolkingskattings van 400 individue ’n oorskatting was.

Die spelonkbaber kwalifiseer dus as kritiek bedreig volgens die kriteria in die IUCN se kategorie-D, waarvolgens ’n spesie in ’n baie klein gebied voorkom en waarvan daar minder as 250 volwasse individue is.

Boonop het die getalle tydens die twee verskillende sensusopnames met tot 60% verskil. Die navorsers meen dit dui moontlik aan dat die spelonkbabers tussen seisoene dalk na ander gedeeltes van die poele of heeltemal ander poele verskuif, wat nog nie deur mense ontdek is nie.

Hulle vermoed dat al die spelonkbabers in die verskillende poele deel van ’n enkele bevolking vorm.

Die navorsers het ook gesien dat die spelonkbaber jag maak op die endemiese isopode (Namibianira aigamasensis; Kensley 1995), wat volop in die grot voorkom. Hulle het ook opgemerk dat die babers fotofobia, of ’n uiterste sensitiwiteit vir lig, toon en sterk wit ligte probeer vermy het.

NAVORSING BROODNODIG

In ’n vorige artikel deur die Namibia Nature Foundation se Hay, wat oorspronklik in Conservation Namibia verskyn het en toe in September vanjaar wéér in Africa Geographic Travel, skryf hy die spelonkbaber se totale bevolking is waarskynlik minder as 200 individue. Dit is die minimum geneties lewensvatbare populasiegrootte wat nodig is vir enige spesie om te kan oorleef.

Hy meen om dié rede is navorsing op die visspesie dringend en noodsaaklik.

Die navorsers verduidelik party spelonkbabers het geen oë nie, terwyl ander s’n tot verskillende stadiums ontwikkel is.

“Die klein baber, wat op die langste sowat 17 cm meet, het met die verloop van tyd sy oë verloor. Boonop het dit geen pigmentasie nie, wat vir die donker velkleur onder ander baberspesies sorg nie.

“In die stikdonker grot is eienskappe soos oë en pigmentasie oorbodig, daarom het dié visspesie waarskynlik hiervan ontslae geraak as deel van sy oorlewingstrategie,” skryf Hay. “Om jou energie so goed as moontlik te bewaar, is belangrik, veral as kos skaars is.”

“Dit blyk dat die spelonkbaber ook van insekte en ander ongewerwelde diertjies oorleef wat in die grot inval,” het Hay geskryf. Hy spekuleer ook dat die spelonkbaber waarskynlik die guano van vlêrmuise in die grot benut.

Hay meen egter daar is nog baie wat oor dié blinde barber se voortplanting, groeikoers en voerstrategie nagevors moet word.

“Die spelonkbaber blyk naby familie te wees van die slangkopbaber wat in die Kunene-, Kavango- en Zambezirivier aangetref word.

“Omdat dié baber ’n inloop van water en vloede nodig het om broei te stimuleer, maak ons die aanname dat die spelonkbaber ook van dieselfde toestande afhanklik is om te kan broei.

“Tydens Namibië se reënseisoen wat donderstorms bring, stroom water die grot binne, wat dit waarskynlik aanmoedig om te broei.

“Ons het gevind dat die wyfies sowat 50 deurskynende, taaierige eiers dra, met ’n groenerige dooier (kern).

“Tydens ’n meer onlangse duiksessie in die grot, het ons kleiner individue gevind wat sowat 5 cm lank is, wat ’n aanduiding is die visse kon waarskynlik suksesvol voortplant in die afgelope paar jare. Tog is daar min bekend oor die groeikoers van die spesie.

OORLEWING

“Die water in die grot is kristalhelder, maar sou dit verander, kan dit dalk die skaars vis se vermoë raak om voort te plant. Dit omdat die taaierige eiers dalk versmoor kan word deur stukkies materiaal in die water wat daaraan vasklou en dan die eiers se toegang tot suurstof kan verminder.

“Die pas uitgebroeide larwe van die spelonkbaber is baie klein, wat beteken hul kos moet nóg kleiner wees.

“Die larwes van ander baberspesies eet groot soöplankton, maar ons weet nog nie wat die spelonkbaber se kleintjies eet nie en hierdie is een van ons toekomstige navorsingsvrae,” het Hay geskryf.

Hy sê hul duiksessies in die spelonkbaber se grotte moet met die grootste sorg gedoen word, vanweë die vis se skaarsheid en kwesbaarheid.

Hay meen die babers verkies waarskynlik om naby die oppervlak van die water te leef, omdat kos daar makliker beskikbaar is.

“Om dié rede is die spelonkbaber ook baie kwesbaar daarvoor as die watertafel sak. Dit, omdat baie van hul kos versamel op plekke wat dan nie meer toeganklik vir hulle sal wees nie.”

Navorsers is ook bekommerd oor wat die uitwerking van onder meer klimaatsverandering en minder reën op die visse se voortbestaan kan hê.

“Die oorlewing van dié blinde grotvis is sterk afhanklik van ’n balans in die groter ekostelsel. Enigiets wat die ekostelsel rondom die grot negatief beïnvloed, kan uiteindelik die spelonkbaber beïnvloed.

“Dit is dus baie belangrik dat die omgewing rondom die grotte beskerm word, terwyl klimaatsverandering internasionale bewaringspogings sal vereis.”

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!