Namibiërs takel 250 km deur woestyn

Twee langasems van Windhoek gaan die Namib in die hoogsomer aanpak.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Twee dapper Windhoekers, mnre. Wim Steenkamp (34) en Hannes Smit (46) sien in die hoogsomer kans vir ’n moordende ultramarathon in die woestyn.

“Dis soos ’n stadige dood en ’n baie ambisieuse doelwit om in die versengende hitte in November met ’n vol rugsak in die woestyn te hardloop,” sê Steenkamp van die Desert Ultramarathon, wat deel is van die Beyond the Ultimate-reeks.

“Eendag gaan ek nie die tyd onthou wat ek op kantoor deurgebring het nie, maar wel hoe ek in die woestyn gesweet het,” sê die Windhoekse argitek.

Hy en Smit spring op 22 November saam met dapper drawwers van 15 ander lande by Spitzkoppe weg om vyf dae en 250 km later by die Save the Rhino Trust (SRT) Namibia se hoofkantoor in Palmwag te eindig.

Die grootste uitdaging van die Desert Ultramarathon is dat deelnemers daagliks met ’n rugsak vol kampeertoerusting, kos en 2,5 l water moet hardloop.

“Daar is ’n voorgeskrewe lys goed wat jy moet saamvat, anders word jy gepenaliseer,” sê Steenkamp.

Die Namibiër mnr. Lourens Rademeyer het verlede jaar aan dié moordende marathon deelgeneem en het dit as “verskriklik” beskryf.

Smit het drie jaar gelede uit altesaam 212 deelnemers aan die 4 Deserts Race in die Skedelkuspark 48ste­ geëindig, Rademeyer 52­ste en mnr. Alfeus Haushona 62ste.

In 2017 was Smit en die krieketspeler Tobias Verwey die enigste Namibiese deelnemers en hulle het onderskeidelik 21ste en 10de uit 103 deelnemers geëindig.

Op ’n vraag aan Steenkamp of hy dit sal oorweeg om volgende jaar aan die 4 Deserts deel te neem, het hy gesê hy hardloop liewer in droë, warm toestande as in nat, mistige weer.

“Jou klere raak nooit droog nie.”

AVONTURIERS

Steenkamp en Smit is albei geharde avonturiers.

“Ek het aan verskeie plaaslike en internasionale veldlope en bergfietsresiese deelgeneem. Ek het ’n voorkeur vir ’n veelvoudige dagformaat,” sê Steenkamp, maar eintlik is bergklim sy kos.

Twee jaar gelede het hy die rekordtyd vir die klim van Brandberg met meer as twee uur verbeter.

Van die basis tot by Königstein as hoogste spits en terug het dit die Windhoekse argitek net 5 uur, 56 minute en 56 sekondes geneem. Daarmee het hy stof in die oë van ervare Alpe-bergklimmers geskop.

Dit was een van Steenkamp se hoogtepunte. Einde Oktober het hy die lengte (30 km) van die Auasberge in die vinnigste bekende tyd van 9 ure en 24 minute deurkruis.

Steenkamp het ook die staproetes van die Visrivier, Otter en Khomas Hochland in een dag kafgedrag.

Hy het met ’n bergfiets oor die lengte van Spanje al langs die Pireneë gery – van die Meditereense See af tot by die Atlantiese Oseaan.

Smit, ’n verhoudingsbestuurder by Santam, spog met 10 Comrades-marathons in 10 opeenvolgende jare.

Buiten dat hy twee keer aan die 4 Deserts deelgeneem het, het hy ook die vierdaagse Namaqua Quest Trail Run gedoen, asook die Afrika Ysterman-kampioenskap in Port Elizabeth en die Visriviercanyon se 100 km-ultramarathon.

Wat fietsry betref, het Smit die speke oor drie dae in die Desert Dash, Namib Quest en Namaqua Quest laat sing.

VOORBEREIDING

Steenkamp sê hy het sowat ses maande vir die ultramarathon voorberei.

“Naweke hardloop ek met ’n rugsak en gewigte en deur die week korter afstande,” sê hy.

Smit se voorbereiding was om met sy rugsak vir twee dae in ’n ry te draf, een keer ’n week “spoed en bulte”, en naweke het hy lang afstande gehardloop en twee keer ’n week kragoefeninge gedoen.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Leicester City 2 vs 1 West Bromwich Albion English Championship: Leicester City 2 vs 1 West Bromwich Albion Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!