Namibiërs gee kontrakte weg
Die minister sê die regering is besig met planne om te verseker dat kapasiteit ontwikkel word.
Catherine Sasman
Hoewel meer as 80% van alle staatsboukontrakte die afgelope drie jaar aan Namibiese maatskappye toegeken is, word so te sê 100% van die werk deur hierdie maatskappye gesubkontrakteur aan buitelandse maatskappye.
Die minister van werke en vervoer, mnr. Alpheus !Naruseb, het dié week in die Nasionale Vergadering gesê dié tendens is kommerwekkend omdat subkontraktering sonder die wete van die ministerie óf die tenderraad plaasvind.
“Hierdie reëlings word op 'n onwettige manier tussen Namibiërs en buitelandse maatskappye aangegaan,” het !Naruseb gesê, en bygevoeg dit word gewoonlik gedoen deurdat 'n eenmalige fooi aan die betrokke eienaars van die Namibiese entiteite uitbetaal word.
Die minister het gesê hierdie soort reëlings kom algemeen voor en veroorsaak dat plaaslike kapasiteit nie opgebou word nie. Dit bevoordeel ook slegs individue en word nie weer in die plaaslike boubedryf teruggeploeg nie, sê hy.
Dieselfde geld glo ook vir gesamentlike vennootskappe.
Die ministerie is daarom tans besig om reëlings te hersien om billike winsdeling, die oordrag van vaardighede en kennis, en werkskepping te verseker, het !Naruseb gesê.
Volgens statistieke van die ministerie is sowat 83% (90 uit 108) van alle staatsprojekte sedert April 2014 aan Namibiese maatskappye toegeken.
Sewe (6%) gesamentlike vennootskappe het kontrakte gekry en slegs 11 (10%) is aan buitelandse maatskappye toegeken.
Die waarde van die bouprojekte aan Namibiese maatskappye is 48% (of meer as N$2 miljard) van die totale bedrag wat aan bouprojekte toegeken is. Gesamentlike vennootskappe het projekte van 30% (of meer as N$1,2 miljard) gekry en buitelandse maatskappye het meer as N$920 miljoen (22%) van alle werk gekry.
STAATSKONTRAKTE DRA BOUBEDRYF
Volgens 'n opname deur die Federasie vir Konstruksiebedrywe (CIF) is meer as 70% van boumaatskappye afhanklik van staatsprojekte.
Ondanks die “skouspelagtige opbloei” van dié sektor oor die afgelope jare word dit tans deur die regering se begrotingstekorte benadeel.
Sedert Desember verlede jaar skuld die regering kontrakteurs meer as N$1 miljard, wat beteken dat bykans 75% van dié maatskappye kontantvloeiprobleme ervaar.
Dit het ook daartoe gelei dat werk op van die projekte vertraag óf gestaak is.
Tussen September en die einde van November het 1 008 werkers van 115 maatskappye hul werk verloor, en teen die einde van Desember is gevrees dat 'n verdere 604 hul werk sou verloor.
!Naruseb het gesê die regering het gedurende die laaste kwartaal van die 2016-'17 finansiële jaar besluit om 'n aansienlike bedrag aan kontrakteurs uit te betaal.
Hy het gesê die regering sal voortgaan om die private boubedryf te ondersteun ongeag die drastiese besnoeiing op kapitaalprojekte vir die 2017-'18 finansiële jaar.
Die boubedryf moet diversifiseer en alternatiewe bronne van inkomste vind om die maer jare te oorleef, sê hy.
!Naruseb het ook gesê meer ondernemende Namibiërs moet gebruik maak van die wetsontwerp op openbare-private-vennootskappe (PPP) om hul projekte te finansier.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie