Namibiese droogte weerklink in Hannover

Duisende woon Agritechnica 2019 by

13 December 2019 | Landbou
Deon Schlechter in Hannover, Duitsland - Namibië se uitmergelende droogte het verlede maand weerklank gevind in Hannover, Duitsland, tydens Agritechnica 2019 - die grootste handelskou vir landboutegnologie ter wêreld.

Ek het as gesant van die Duitse ambassade in Windhoek ‘n geleentheid gekry het om tydens paneelbesprekings verslag te doen oor die haglike situasie waarin my heimat hom bevind ten opsigte van voedselonsekerheid in die maande wat voorlê.

Agritechnica is die toonaangewende handelskou vir die globale landboutegnologiesektor en forum vir toekomstige verwikkelinge ten opsigte van plantproduksie en voedselvervaardiging in die stryd om hongersnood uit te wis en voedselsekerheid te probeer waarborg.

Die unieke geleentheid het homself voorgedoen enkele maande nadat die Duitse ontwikkelingsminister, Gerd Müller, die noordelike gebiede van Namibië besoek het om homself te vergewis van die rampspoedige situasie met ‘n geskatte 350 000 Namibiërs wat nou voedseltekorte ondervind.

Die verbysterende skaal waarop die jongste tegnologie tydens die skou ten toon gestel is, is nie van toepassing op Namibiese landbou nie, maar besoeke aan Duitsland se grootste organiese plaas naby Hannover sowel as die voortreflike waterkultuurplaas in die hartland van Berlyn was wel.

Tydens my voorlegging het ek uitgewys geleenthede soos Agritechnica koppel kopers en verkopers, kundiges en leke, en Namibië aan die res van die wêreld. Omdat sowat 70 persent van Namibiërs regstreeks of onregstreeks afhanklik is van landbou, het ek uitgewys hoe belangrik sulke geleenthede is om landelike armoede uit te skakel. Diversifisering van landbou help inwoners om droogte te beveg en bykomende inkomste vir boere te skep.

Die slagspreuk van die byeenkoms was tereg “Globale landbou – Plaaslike verantwoordelikheid”. Uitstallers van meer as 50 lande en sowat 500 000 besoekers van 130 lande het die byeenkoms oor sewe dae bygewoon.

Die amptelike opening is waargeneem deur die Duitse minister van voedsel en landbou, Julia Klöckner. Voor dit was ek bevoorreg om gesprekke te hê met die lede van die DLG (Deutsche Landwirtschafts-Gesellschaft/ Duitse Landbouvereniging), asook lede van die federale ministerie van voedsel en landbou, federale ministerie vir ekonomiese samewerking en ontwikkeling, en vele kenners. Hulle is almal regstreeks betrokke by toekomstige verwikkelinge, geleenthede en hekkies in die pad van innoverende landbou, soos om die globale voedselvoorsieningsketting te verseker deur die gebruik van moderne tegnologie, volhoubare bestuursmetodes om kweekhuisgasse te reguleer, die potensiaal van verhoogde organiese boerdery te ondersoek en omgewingsbeskerming doeltreffend toe te pas om te verseker dat kleinskaalse boere ook toegang tot landbou-ontwikkeling het.

Afgesien van die modernste plaastoerusting en landbouwerktuie, was die skou gekenmerk deur innoverende produkte, deurtastende oplossings en asemrowende tegnologie vir water- en energieopwekking, asook besparing daarvan, en konsepte vir volhoubare bestuur en die toekoms van plantproduksie.

WONDERWêRELD VAN WATERKULTUUR

In die hartland van ‘n sakesentrum in Berlyn, langs ‘n brouery uit vervloë dae, lei ‘n netjiese klipstraat jou deur grasgroen glooiings na ‘n 1 800 vierkante meter ‘plaas’ bestaande uit warm en koue kweekhuise en ‘n waterkultuurkamer.

Die ECF-plaasstelsel is uniek: Dis ‘n binnestadsplaas vir die kunsmatige kweek van vis en groente wat sy ontstaan in 2015 gehad het.

Enige Namibiër (waterkultuur is nog ‘n embrio in Namibië) se mond sal oophang as hy sy neus teen die glaspanele van die kweekkamer druk en ‘n verskeidenheid van kleurvolle en watertandgroente van lowergroen wingerde sien hang.

En dit raak nog interessanter as jy vanaf ‘n ysterleer in die 8 000 liter-vistenks kan staar na honderde talapia (ook bekend as roosbaars oor die pienk kleur).

ECF het hul visse die “hoofstadbaars” gedoop. Die hoofbeampte van ECF, Nicolas Leschke, wys die voordele van waterkultuur uit met die groetslag: Landbou is verantwoordelik vir 70 persent van globale wateronttrekking en 24 persent van kweekhuisgasvrylating, terwyl 77 persent van globale visbronne, gemonitor deur die Verenigde Nasies se voedsel- en landbouorganisasie, uitgeput of oorbenut is – met een present van die bronne besig om te herstel.

“Waterkultuur bied ‘n veel meer onderhoubare model aan,” voeg hy by terwyl hy die doel van ECF uitstippel. “Ons wil die planeet met waterkultuurstelsels bedek – op die dakke van woonhuise en alle stedelike geboue.

“ECF is twee dinge: ‘n Lewende, asemhalende waterplaas in die Schöneberg-woonbuurt waar David Bowie and Iggy Pop in die sewentigs gelewe het. ECF lewer meer as 30 ton vis en meer as 30 ton groente per jaar. Die ECF-plaas is ook ‘n bewys van die konsep dat stedelike waterplase werk. Met ‘n volledige bestuursplan, opleiding en volle besigheidsondersteuning, help ECF met die beplanning en konstruksie van waterkultuurplase in Duitsland vir mede-entrepreneurs.”

‘n Waterkultuurplaas kombineer visteling en waterkultuur (die kweek van plante uit water pleks van grond). Die kweek van groente en teling van vis komplementeer mekaar perfek.

Die proses begin in vier varswaterspoelbakke wat reënwater opvang. Van daar gaan die water na die vistenks met ‘n kapasiteit van tussen 3 000 en 8 000 liter, met relatiewe digthede vanaf 95 persent water tot vyf persent vis.

Die vis skei ammoniak in die water af wat deur ‘n biofilter in nitrate omskep word. Die nitraterykwater sirkuleer dan na die vistenks terwyl dit ook plante in die kweekhuis voed.

Besproeiingsdruppers lewer die water aan plante en sirkuleer nie terug na die vistenks nie omdat visse en plante verskillende pH-vlakke benodig.

Leschke wys uit dat koolstofdioksied ‘n bekommernis is omdat vis CO² in die atmosfeer vrystel. ECF los die probleem op deur warm CO²-verrykte lug in die kweekhuis te pomp waar dit deur die plante omskep word in suurstof en dan teruggepomp word na die vistenks.

“Ons het begin deur 250 Berlyners van groentehouers te voorsien. Binne ‘n week het ons ‘n waglys van vier maande gehad,” sê Leschke, wat na hom en sy sowat meer as 100 werkers as die “plaasseuns” verwys.

Die skema se eie plaaswinkel is in Markthalle Neun in Kreuzberg geleë wat jaarliks duisende besoekers lok.

Daar kan hulle tussen die kosstalletjies van Egiptiese, Jemenitiese en Japannese uitstallers ook die ECF Berlyn-plaas se vis en groente koop.

Benewens hul diens aan groothandelaars en restaurante in Berlyn en elders, het ECF ook verbruikers bereik deur hulle van ‘n vis-en groentedis te voorsien wat hulle self tuis kan voorberei.

Leschke sê ECF doen deurlopend beplanningstudies. Hulle word oorval deur aansoeke vir die oprigting van waterkultuurplase en het al agt sulkes in 2018-’19 opgerig.

Hy sê die hartklop van die stelsel is die monitortegnologie: “Dit dien as ‘n slimverbintenis wat al die prosesse analiseer en doeltreffende beheer oor die innoverende stelsels waarborg.

“Dit verseker die gesondste vis en groente, asook konstante opbrengste. Die koste van varswater- en plantbemestingstowwe word aansienlik verlaag deur hierdie slim konneksie,” voeg hy by.

“Jy raak bedrywig in twee groeiende markte en skep ‘n wye fondament vir jou besigheid. Die produksieproses vir die kweek van groente en vis is baie dieselfde. Jy kan jou personeel roteer en jou werkersmag heeljaar optimaal benut.”

OKODORF: ORGANIESE HEMEL

Dis ‘n nat en koue, mistroostige Novemberoggend toe ek op die grootste organiese plaas in Duitsland, Ökodorf Brodowin, in die noordooste tussen Berlyn en Braunschweig aankom.

Meer as 220 melkkoeie en 200 kleinvee wei rustig op die 1 250 hektaar lowergroen lande. Oesimplemente van enige grootte dreun deur die oggendstilte.

Hier maak sowat een persoon per 100 hektaar en 140 voltydse werkers ‘n benydenswaardige bestaan, en word alles van brood, melk, kaas, botter, vleis, eiers, voer vir die lewende hawe, heuning, vrugtesappe en ‘n verskeidenheid van vrugte en groente vir die Berlynse markte geproduseer.

Die toergids en woordvoerder vir die plaas, Suzanne Poinke, groet vriendelik by die ingang. Oomblikke later maak my mistroostigheid plek vir ‘n warm gevoel in my binneste toe ek begin uitvind presies hoe produktief hierdie “familie” is.

Net langs die moderne melkery met groot glaspanele, staan ‘n moderne plaaswinkel waar produkte gekoop kan word.

Hier is koffie en koek die antwoord op warmer dae, terwyl sop bo-aan die lys op die spyskaart is op koue dae.

Die plaas het gedurende die voormalige Oos-Duitse regering aan die staat behoort, maar ná die val van die Berlynse muur het ‘n skatryk sakeman en belegger die plaas gekoop en dit beskikbaar begin stel aan die regmatige eienaars – familie van die onderdrukte Oos-Duitsers.

Suzanne wys daarop dat organiese boerdery baie meer intensief is, maar dis presies wat hulle wil hê, want dit verskaf meer werk aan mense van die omgewing.

Die plaas lewer hul produkte regstreeks of aanlyn aan Berlynse restaurante, huishoudings en besighede.

Infrastruktuur was in ‘n haglike toestand, maar is mettertyd gemoderniseer en vandag is dit in alle opsigte ‘n spogplaas.

Sy hou ‘n produk in die lug en sê: “’n Hele besending hiervan gaan vandag Altes Europa toe.”

Die stereotiepe beelde van Oos-Duitse plase met verrottende infrastruktuur, besoedelde water en spookdorpe het verdwyn en is hier vervang met ekovriendelike nedersettings soos Okodorf Brodowin, Mecklenburg-Vorpommern en Sachsen.



Dieter Woidke, Brandenburg se minister van landbou, die omgewing en verbruikersbeskerming, het gesê organiese boerdery staan in volle blom.

Organiese boerdery is groot besigheid en nêrens meer as in Oos-Duitsland nie, het hy opgemerk.

Brandenburg, die voedselmandjie van Berlyn, is aan die voortou van die rewolusie met die hoogste hoeveelheid landbougrond in Duitsland. Dit het met net 20 organiese plase in 1990 begin en nou is daar meer as 800 plase met ‘n totale oppervlakte van meer as 140 000 hektaar.

Al die plase produseer hoërwaardetoegevoegde voedselprodukte, is almal ekovriendelik en bied fietstoere en staptogte aan. Besoekers kan selfs help oes as hulle kans sien vir harde werk.

In Eberswalde, 'n voorstad tussen Berlyn en Brodowin, kan studente ‘n BA- en meestersgraad in organiese plaasbestuur by die plaaslike kollege verwerf.

“Om organiese etikette te bekom en te behou, verg reusebeleggings in moderne en energiedoeltreffende toerusting. En ondanks die kollege is daar steeds ‘n gebrek aan kundigheid in die vakrigting, het Woidke gesê.

“Maar die grootste uitdaging is logistiek. Dis een ding om ‘n vragmotor vol produkte aan te ry na Berlyn, maar dis ‘n heel ander storie om boere aan die nasionale landbouverspreidingsnetwerk te koppel wat steeds deur Wes-Duitse kommersiële boere oorheers word.

“Boere benodig goeie treinspoornetwerke, verkoelingsgeriewe, boerebanke en meer markte.“

Met my vertrek neem ek nog ‘n paar foto’s en besef vir nou is die aanvraag uit Berlyn groot genoeg om hierdie familie besig en gelukkig te hou, maar ek besef ook hulle is bekommerd oor kompetisie uit die euro-markte en bekommerd oor klimaatsverandering en die droogte wat hulle tans ondervind.

Ek ry by die plashek uit en ek dink aan my eie Namibië waar droogte ‘n gans ander betekenis het, maar ek weet ook selfs in die woestynland kan vasberadenheid soos dié op Okodorf Brodowin ‘n magdom probleme oorkom.

Soos Suzanne dit stel: “Ons is net bly dat mense toenemend die belangrikheid van organiese boerdery verstaan en die waarde van organiese produkte begryp.

“Uiteindelik begryp hulle dis baie beter as Maggi.”

*Deon Schlechter is 'n vryskut-landboujoernalis en voormalige redaksielid van Republikein.

Soortgelyk

 

Covid-19: 5de nuwe geval binne 4 dae

17 ure gelede | Gesondheid

‘n Vragmotorbestuurder in Walvisbaai het gister positief vir Covid-19 getoets.Dit is die vyfde positiewe geval sedert Woensdag. Al die persone was in kwarantyn.Persone waarmee die...

‘80% van skole gereed’

3 dae gelede | Onderwys

Henriette Lamprecht – Sowat 80% van die 1 920 staatskole oraloor in die land is gereed om leerlinge volgens verpligte gesondheidsregulasies te ontvang wanneer hulle...

Nog leerlingdokters wag om uitgeplaas te word

3 dae gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Meer as 100 leerlingdokters wag glo reeds maande om vir internskappe by staatshospitale oraloor in die land uitgeplaas word. Die 166 leerlingdokters...

Stadspolisie van hardhandigheid beskuldig

3 dae gelede | Misdaad

Denver Kisting – ’n Inwoner van Groot Aub, mnr. Richard Davids, voer aan ’n beampte van die stadspolisie, waarnemende sersant Erwen Katiti, het hom Dinsdaglaatmiddag...

Weer vir 22 Mei 2020

3 dae gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltleik bewolk en warm in die streke van ||Kharas en Hardap. Elders sal dit sonnig en warm tot baie warm wees.KUS: Gedeeltelik bewolk en...

‘Vervoer van drank nie ’n misdaad’

3 dae gelede | Misdaad

Francoise SteynbergDie blote vervoer van drank is nie ’n misdaad nie en kan nie as redelike gronde gebruik word vir agterdog van die koop of...

Vroue in kwarantyn toets positief vir Covid-19

3 dae gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Twee vroue het in kwarantyn positief vir Covid-19 getoets. Dit bring Namibië se totaal bevestigde Covid-19-gevalle op 18 te staan. Volgens die...

Ebikes: vinnig, goedkoop en groen

3 dae gelede | Mense

Tanja Bause Nie te veel besighede kan sê dat hulle in die Covid-19-tyd so goed aangepas het dat hulle nuwe werknemers moes aanstel nie. Ebikes4Africa...

Market Watch Covid page - snippets

3 dae gelede | Gesondheid

The Namibia Football Association (NFA) executive committee has yet to decide what to do with funds it expects to receive from the Federation of International...