Namibië veg voor in kankerstryd

Gelyke toegang tot behandeling

05 February 2019 | Gesondheid
Henriette Lamprecht - Die unie vir internasionale kankerbeheer (UICC) het die Kankervereniging van Namibië (CAN) as vanjaar se Country Champion aangewys.

Die doel van die UICC Country Champions-program is om ‘n wêreldwye leiersorganisasie vir kanker te kies en met internasionale eweknieë saam te werk om doeltreffende, nasionale veldtogte saam te stel wat as drukgroep vir beter, gelyke toegang tot kankerdienste wêreldwyd dien.

”Uit die meer as 100 organisasies sal CAN hom nou by 16 ander organisasies uit elke streek in die wêreld in 2019 as Country Champions aansluit en verbind bly om met hul onderskeie regerings in gesprek te tree vir verbeterde, gelyke toegang tot kankerdienste wat op die vier kernpilare, naamlik inligting, vroeë opsporing en ondersteunende, palliatiewe sorg gebaseer is,” sê mnr. Carry Adams, uitvoerende hoof van die UICC.

As deel van die nasionale aktivering van die Behandeling vir Almal-veldtog, sal Namibië as Country Champion leiding en geteikende, tegniese ondersteuning ontvang, wat die land in staat sal stel om met die regering saam te werk om enige ongelykhede te takel. Sodoende word alle Country Champions leiers van die wêreldwye Behandeling vir Almal-veldtog.

“Wêreldwyd het ons ons daartoe verbind om die voortydige sterftes weens kanker en ook nasionale sterftes as gevolg van die siekte teen 2025 met 25% te verminder. Die werk van dié Country Champion-organisasies sal ‘n bydrae lewer tot die werklike impak wat ons wil sien. Daar is geen tyd om te mors om wêreldwye beloftes in nasionale optrede om te skakel nie,” het Adams gesê.

Danksy ‘n aanlyn kursus en gids wat van Maart af beskikbaar is, sal lande kan saamwerk om ‘n doeltreffende nasionale Behandeling vir Almal-veldtog saam te stel wat ingedien sal word voor die beraad vir Wêreldkankerleiers wat in Oktober in Kazakstan plaasvind.

Gebaseer op die behoeftes van die 16 Country Champions sal die UICC ondersteuning aan elkeen bied om vaardighede op die gebied van onder meer kommunikasie, fondsinsameling en monitering te verbeter.

CAN se uitvoerende hoof, mnr. Rolf Hansen, sal namens die organisasie as Country Champion ook ‘n werkwinkel by die beraad bywoon, wat op gelyke toegang tot behandeling fokus. Hansen sal tydens dié geleentheid ook steun by die wêreldwye gemeenskap vir beleggings werf om die vroeë opsporing van kanker in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) te bevorder.

“Ek is ongelooflik trots op dié prestasie. Die hele CAN-span en die Namibiese gemeenskap verdien die eer. As ‘n gemeenskap van hoop wat hom beywer om ‘n verandering in lewens te maak, is ons deur die wêreldgemeenskap erken vir wat ons doen, en wat ons bereid is om te doen. Ons beloof om nou selfs meer te doen om die toekoms positief te verander,” het Hansen gesê.

Namibië sluit hom nou by die eerste drie Country Champions, naamlik die Indonesië-kankerstigting, Salvati A.C. in Mexiko, en die Uganda-kankervereniging aan in ‘n gesamnetlike poging om die las van kanker in dié onderskeie lande te verlig.

“Dit was ‘n geweldig kompeterende proses en ons is verheug om saam met vanjaar se Country Champions te werk,” het me. Micaela Neumann van die UICC gesê.

Die laaste sewe jaar het die UICC die kankergemeenskap verenig om die siekte op die agenda van wêreldgesondheid en -ontwikkeling te plaas.

Kanker en nie-oordraagbare siektes is ook in 2015 in die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte vervat, wat gelei het tot die suksesvolle aanvaarding van ‘n kankerresolusie tydens die Wêreldgesondheidsvergadering in 2017.

Die Behandeling vir Almal-veldtog het ten doel om onder meer die gehalte van kankerdata te verbeter, die aantal mense met toegang tot vroeë opsporing en akkurate kankerdiagnoses te verhoog, om gehalte behandeling betyds te verskaf en om basiese ondersteunende en palliatiewe sorg vir alle lyers te verseker.

Soortgelyk

 

NIDA antwoord voor parlementêre staande komitee

3 ure gelede | Regering

NIDA, die nywerheidsontwikkeling agentskap wat die vorige NDC- en ODC-organisasies oorgeneem het, antwoord voor die parlementere staande kommittee op openbare rekeninge. Aan die woord is...

Windhoek se beursie leeg

19 ure gelede | Regering

Denver Kisting – Die verlies van die Windhoekse stadsraad (CoW) vir sy 2018-boekjaar is ’n kortkop duskant ’n miljard – meer as N$814,4 miljoen.Dié bedrag...

Man sterf in bootbrand

19 ure gelede | Ongelukke

‘n Brand wat Saterdagoggend op die Ocean Tide-stokvisboot ontstaan het, het die lewe van ‘n man geëis, het die polisie gister bevestig. Die boot was...

Kalahariwoestyn II skop skiet-skiet af

19 ure gelede | Polisie

Leandrea Louw op Walvisbaai – Twee sake van poging tot moord is die afgelope naweek langs die kus aanhangig gemaak.Dié sake hou verband met die...

Henties hou weer dié fees

19 ure gelede | Byvoegsels

Die organiseerders van die Hentiesfees sê vanjaar sal daar nog meer besoekers by die geleent­heid as vorige jare wees. Op 23 en 24 Augustus gaan...

Weer, Maandag 19 Augustus 2019

19 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en warm in die Verre Suide. Elders sal dit sonnig en warm tot baie warm met winderige toestande wees.KUS: Gedeeltelik bewolk en...

Nida moet sê oor groot geld

19 ure gelede | Plaaslik

Augetto Graig – Die soeklig val vanmiddag op die geldsake van die enorme agentskap vir nywerheidsontwikkeling in Namibië (Nida) wat in beheer van sowat N$2...

Opposisie: Verwyder Katrina

19 ure gelede | Politiek

Catherine Sasman – Die jeugliga van die Popular Democratic Movement (PDMYL) het ‘n beroep gedoen dat die veroordeelde oudgoewerneur van die Hardapstreek en oudminister van...

Raak liries oor 'Suidwes'

19 ure gelede | Byvoegsels

Die vyftiental Suid-Afrikaanse ­musikante wat die verhoog gaan deel by hierdie jaar se Hentiesfees, sluit onder andere die sangeres Jezelle, bekend vir haar liedjie “Suidwes”,...