Namibië steeds in Stefan Ludik se bloed

Verruil vermaaklikheidsbedryf vir Otjiwarongo

16 January 2019 | Mense


Elvira Hattingh - Stefan Ludik, die bekende Namibiër wat groot naam in Suid-Afrika as ‘n akteur en sanger gemaak het, gaan die vermaakbedryf ná 15 jaar finaal groet en met sy gesin na sy geboorteland terugkeer.

Hulle sal na verwagting van volgende maand terug in die land wees en hulle op Otjiwarongo vestig, waar Ludik vir Theo Superspar gaan werk en onder meer die besigheid se bemarking hanteer.

Dit kom nadat hy en sy aktrisevrou, Anelle Bester, in Oktobermaand verlede jaar die ouers van klein Leonard geword het, en hulle besluit het die belangrikste dinge in hul lewe is ‘n goeie lewensgehalte en veiligheid.

“Ek het nog altyd die plan in my kop gehad om terug te keer Namibië toe, maar die werk was so lekker aan hierdie kant! Gauteng is dié plek om te wees as jy in die musiek- en televisiebedryf is,” het hy gister tydens ‘n telefoniese onderhoud aan Republikein gesê.

“As jy ‘n Namibiër is, bly dit in egter jou bloed. ‘n Mens vergelyk jou land die heeltyd met al die ander plekke en ek weet: Ons het die beste land in die wêreld.

“Daar is vir my geen ander keuse nie. My vrou is ook baie lief vir Namibië en vir haar was daar ook geen twyfel oor die besluit nie,” het hy gesê.

Ludik sê niks het hom gedruk om besluite te maak nie. “Ek geniet my werk, my passie is musiek en televisie, maar om ‘n ouer te raak, verander alles – ook jou prioriteite.

“Dis ‘n seën om nou die fase van ons lewe in te gaan,” het Ludik oor ouerskap gesê.

VAARWEL

Hy sê die afskeid van die vermaaklikheidsbedryf was bittersoet, maar dat hy nou die musiek- en televisiebedryf heeltemal gaan agterlaat.

Ludik sê dit was swaar om van die mense afskeid te neem met wie hy al jare lank gewerk het, maar dat dit ‘n voorreg was om so lank musiek te kon maak.

“Met Elvis se Seun het ons vir vyf jaar baie lekker konserte gehou en mense het ons so goed ontvang. Ek was so ‘n bietjie hartseer toe ek met ons laaste optrede verlede jaar my span moes groet.

“Toe die nuwe jaar egter aanbreek en ons aan die vooruitsigte dink, het ons geweet dat ‘n opwindende pad voorlê.”

Ludik sê sy vrou kom van Pretoria en hy was aanvanklik effens bekommerd oor hoe hulle, van Johannesburg, op Otjiwarongo sal aanpas.

“Dit is egter hoekom ek lief vir haar geraak het. Sy is nie vol fiemies nie en ons het dieselfde passies in die lewe - vir mense en die natuur. Boonop ken sy reeds vir Swakopmund en Windhoek en is lief vir dié dele.

“Ek self het grootgeword op Grootfontein en Keetmanshoop, so ek ken die klein dorpies.”

Ludik sê sy vrou sien uit na die skuif, want sy het ook ‘n uitdagende werk gehad. “Sy is vreeslik kunstig en nou kan sy huismoedertjie op Otjiwarongo met Leonard en die drie honde speel.”

ELVIS-LEGENDE LEEF VOORT?

Ludik sê sy aanhangers kan nog sy Facebookblad dophou, wat hy vir nou aan die gang sal hou.

“Ek maak ook nog ‘n verskyning in ‘n fliek wat in Februarie vanjaar op kykNET uitgesaai sal word.

“Terwyl ek nie meer in Suid-Afrika is nie, gebeur sekere dinge nog steeds. Van die nuwe Elvis se Seun-enkelsnitte wat ons onlangs vrygestel het, word tans baie op die radio gespeel.

“Dit gaan vir mense lyk asof alles nou nuut gebeur, terwyl ek nie meer in die bedryf betrokke is nie,” sê hy.

Ludik sê hy sien uit na die nuwe jaar en nuwe uitdagings, en wens alle Namibiërs ‘n geseënde jaar toe.

OUMA GESELS

Susan Ludik, Stefan se ma wat in Windhoek woon, het gesê sy is baie bly dat hulle Namibië toe kom, veral omdat sy haar kleinkind meer dikwels sal kan sien. “Hierdie ouma sal definitief die pad Otjiwarongo toe déúr ry,” lag sy.

Sy sê Stefan het al tien jaar gelede vir haar gesê: “Ma, as ek trou en kinders kry, kom ek terug. Dit was dus nie ‘n oornagbesluit nie.”

Ludik sê gesin en familie is baie belangrik vir haar seun. “Hulle hele lewe draai om ‘n gesin - en dalk is dit hoe dit hoort.”

Soortgelyk

 

NSFAF sluit ooreenkoms met Bank Windhoek

6 ure gelede | Onderwys

Die Finansiële Hulpfonds vir Namibiese Studente (NSFAF) en Bank Windhoek het vandag ʼn ooreenkoms aangegaan vir ʼn nuwe stelsel waardeur geld aan kwalifiserende studente gestuur...

Chinees Dinsdag in hof ná werker se skietdood

6 ure gelede | Misdaad

Die man wat gister na bewering deur sy Chinese werknemer in die Andara-nedersetting doodgeskiet is, is as mnr. Andreas Hausiku (32) geïdentifiseer.Hausiku was ‘n inwoner...

Twintig jaar tronkstraf vir verkragter

7 ure gelede | Howe

‘n 34-jarige man van Otjiwarongo is gister 20 jaar tronkstraf opgelê nadat hy skuldig bevind is aan die verkragting van ‘n minderjarige. Die dogter was...

Taking charge

18 ure gelede | Mense

Mariselle Stofberg Anthea van Heerden decided to take a leap of faith to start her own company in Windhoek.She is the managing director and...

Moontlike deurbraak

18 ure gelede | Misdaad

Denver KistingDie man wat gisteroggend weens Maandag se bloedbad op Arandis aangekeer is, het glo vir etlike ure geweier om met die polisie saam te...

Só staan sake in die Namibiese huis

18 ure gelede | Regering

Denver KistingPres. Hage Geingob het gistermiddag gesê sy boodskap van “welvaart vir almal” moenie verkeerd verstaan word nie.Volgens hom was die bedoeling nooit om oordaad...

Kabajani blossoms at GIPF

18 ure gelede | Mense

Michelline Nawatises Annette Likeleli Kabajani is a holder of a bachelor’s degree from the University of Namibia (Unam). She has also attained several management and...

Baking a name for herself!

18 ure gelede | Mense

Ester Kamati At the age of 28, Alma Tangi Nakanduungileh is climbing the entrepreneurial ladder and adding sweetness to her clients’ lives. A qualified...

A passion to unlock potential

18 ure gelede | Mense

Ester KamatiJustina Mulokoshi is a chartered accountant (CA) at PwC who has big dreams and is constantly on the lookout for new ways to improve...