Namibië se eerste vroulike visstokmaker

Excalibur op Hentiesbaai is nie jou gewone aas- en visvang­winkel nie.
Tanja Bause
Tanja Bause



In 'n klein werkswinkel op Hentiesbaai sit me. Karen Swartbooi en maak 'n visstok volgens 'n kliënt se spesifikasies.

Sy is 'n persoonlike visstokmaker, en nie sonder kwalifikasie nie. Swartbooi het 'n diploma in dié kuns aan The Custom Rod Builders Guild in Amerika verwerf. Sy is die enigste vrou in Namibië en moontlik Afrika met dié kwalifikasie. “Ek bou nou al die afgelope 12 jaar verpersoonlikte visstokke,” sê sy.



Hoe dit begin het

Toe dié boorling van Hentiesbaai haar graad 10-jaar gedruip het, het sy Windhoek toe getrek om dit te herhaal.

Ná die eksamen is sy terug Hentiesbaai toe om vir haar uitslae te wag.

“Die papiere het in die pos verdwyn. Ek het by die huis gesit en op hulle gewag. 'n Vriendin van my het vir my van Excalibur Tackle vertel en dat hulle mense leer hoe om visstokke te bou. Dit het my aandag getrek en ek is soontoe vir opleiding,” sê Swartbooi.

Excalibur Tackle behoort aan mnr. Jeri Drake en sy vrou, Sue.

Jeri is 'n gekwalifiseerde siviele ingenieur en Sue 'n regsekretaresse en persoonlike assistent.

Beide is passievolle hengelaars.

Hulle het hul eie visstokke gemaak sodat hulle hul passie kon uitleef oorsee en in die Verenigde Konink­ryk (VK), waar hulle gewoon het.

Hulle het ook 'n baie suksesvolle program om haaie te vang en te merk in die VK op die been gebring.

“Dit is juis dié program wat hengelaars in Namibië se aandag getrek het. Hulle het ons genader en gevra ons moet 'n soortgelyke program in Namibië begin. Dit is hoe ons in Namibië beland het. Ons het verskeie kere per jaar kom kuier en uiteindelik besluit om te emigreer,” sê Jeri.

Hulle het dieselfde haaiprogram plaaslik op die been gebring, maar dit het weens 'n tekort aan terugvoering van rolspelers deur die mat geval.

“Ons het in 2004 met Excalibur Tackle op Walvisbaai begin en in 2007 op Hentiesbaai.”

“Ons was boothengelaars en het nog nooit regtig van die strand af visgevang nie, maar ons het geleer,” sê Jeri.

Omdat hy oor 'n diploma van The Custom Rod Builders Guild beskik het, het hy besluit om self ­visstokke te begin maak. Terselfdertyd wou hy iets vir die gemeenskap beteken.

“As ek eendag sterf, sterf my kundigheid saam met my, so ek het besluit om mense op te lei en my kennis met hulle te deel.”

Jeri het tot dusver drie vroue opgelei, wat Swartbooi insluit.

“Sy moes 'n visstok bou en vir haar fisieke toets oorsee stuur, en sy moes 'n toets in Engels skryf, wat 'n uitdaging was. Maar sy het sonder kommentaar geslaag, wat beteken dit was só goed hulle het niks gehad om te sê nie.”

Nadat Jeri haar diploma ontvang het, het hy vir Swartbooi gevra om 'n visstok in Namibië se kleure vir iemand spesiaal te bou.

“Ons het gedink die stigters­president, dr. Sam Nujoma, verdien 'n visstok wat in Namibië deur die eerste gekwalifiseerde Namibiese visstokbouer in die land se kleure gemaak is – 'n 100% Namibiese visstok.”

Swartbooi het die visstok gemaak en is na Nujoma se huis genooi om dit aan hom te oorhandig.

“Dit was vir my 'n baie trotse oomblik, maar ek het nie verwag hy gaan my diploma aan my oorhandig nie. Ek was sprakeloos en só trots,” sê sy.

Volgens Jeri word hul visstokke op die tradisionele manier gebou.

“Ons gebruik gare om die stok die gewensde kleure te gee. Die kliënt kies watter kleure hy wil hê en ons maak die stok vir hom sonder enige bykomende kostes vir die kleure.”

Jeri en Sue beveel aan dat ­voornemende kliënte eers saam met hulle na die oop vlakte voor hul winkel gaan en verskillende stokke in die water gooi.

“Ek wil sien hoe goed en hoe ver jy kan gooi en daarvolgens kies ons 'n stok vir jou. Dan besluit ons op die kleur, en of jy jou afrondings van gare of verf wil hê. Ons kan jou naam in gare op die stok sit; enigiets is moontlik. Omdat ek 'n ingenieursagtergrond het, verstaan ek die meganika van hoe 'n stok en katrol werk.

“Ek ontwerp die stok volgens wat die kliënt wil hê, kan doen en wil bereik. Die vroue bou die stok. Hulle is die skeppende deel van die 100% handgemaakte Namibiese visstok,” sê hy.

“As jy by Excalibur met jou visstok uitstap, het jy die beste een wat jy kan kry. Ek kan niks doen om vir jou 'n beter stok te gee nie. Die absolute genot wat iemand wat sy stok vir die eerste keer sien op sy gesig het, maak alles die moeite werd,” sê Jeri.

Hy en sy span van Excalibur kan visstokke ook herstel en verstel.

“Ek sit my hart en siel in elke stok wat ek maak en ek kan nie een kies wat uitstaan nie. Hulle is almal spesiaal, want hulle is vir een spesifieke persoon volgens hul wense en spesifikasies gemaak,” sê Swartbooi.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!