‘Namgomar kry kwotas op bedrieglike wyse’

ACC se hoofondersoekbeampte getuig

22 November 2021 | Howe
Jemima Beukes – Die hoofondersoekbeampte van die Teenkorrupsiekommissie (ACC), mnr. Andreas Kanyangela, het Vrydag in die hoërhof in Windhoek gesê die visvangkwotas vir 50 000 metrieke ton maasbanker is op ’n bedrieglike wyse aan Namgomar Pesca Limitada toegeken.

Volgens hom het die voormalige prokureur-generaal (PG), mnr. Albert Kawana, die oudminister van visserye, mnr. Bernard Esau, aangeraai om die voorlopige bilaterale vissery-ooreenkoms af te gradeer nadat dit aan die lig gekom het die Angolese wou nie ‘n bindende ooreenkoms aangaan nie.

Met die hulp van mnr. Ricardo Gustavo is hierdie bilaterale ooreenkoms afgegradeer na ‘n memorandum van verstandhouding (MoU) wat uiteindelik in Julie 2015 in die Staatskoerant gepubliseer is, maar die Namgomar Pesca-visvangkwotas is ingevolge die aanvanklike bilaterale ooreenkoms toegeken. Dít ondanks die feit dat die bilaterale ooreenkoms wat nié gepubliseer is nie, reeds op 18 Junie 2014 onderteken is, wat aandui die kwotas wat aan Namgomar Pesca Namibia gegee is, is onregmatig toegeken. Kanyangela het verduidelik voor die bekragtiging van hierdie ooreenkoms, het ’n afvaardiging verskeie vergaderings in beide lande bygewoon waarvan mnre. James Hatuikulipi, Tamson Hatuikulipi, Ricardo Gustavo, die fluitjieblaser Jóhannes Stefánsson en die voormalige minister van justisie en die enigste regeringsamptenaar, Sacky Shanghala, deel was. Die Hatuikulipi’s en Gustavo was nooit in diens van die Namibiese regering nie en dus nie in ’n posisie om die MoU tussen twee soewereine regerings te onderhandel nie.

Geen bewyse bestaan dat die kwotas wat in Namibië gewissel is, inderdaad na Angola uitgevoer is ten bate van Namgomar nie, nóg is daar bewyse dat hierdie kwotas of vis in Namibië verkoop is ten bate van die Namibiese mense, het Kanyangela gesê.

“Daar is duidelik in die MoU aangedui dié ooreenkoms is aangegaan om voedselsekerheid te verseker en om werk te skep vir die landsburgers van die twee regerings, en ons het op geen dokumente afgekom wat wys Namgomar Pesca Namibia het ooit Namibiërs in diens geneem of vis aan die plaaslike bevolking voorsien nie.”

Volgens die ACC het Namgomar Pesca Limitada SA tussen Julie 2014 en 2019 ’n totaal van 50 000 metrieke ton ontvang – volgens ‘n ooreenkoms wat deur Gustavo en Esja Holdings vir ‘n tydperk van tien jaar gestel is. Hierdie gebruiksooreenkoms het die prys van ’n metrieke ton op N$500 bepaal terwyl Esja Holdings terselfdertyd verskeie visvangooreenkomste met Fishcor aangegaan het – waar die prys van ’n metrieke ton tussen N$1 500 en N$3 000 beloop het.

Intussen het Kanyangela aan die hof gesê ingevolge die memorandum van verstandhouding tussen Namibië en Suid-Afrika, sou Namgomar Pesca Namibia ’n gesamentlike onderneming stig wat uit Namibiërs en Angolese sou bestaan. Geen bewyse het tot dusver aan die lig gekom dat hierdie gesamentlike onderneming wel op die been gebring is nie.

“’n Mens kan dus tot die gevolgtrekking kom dat die kwotas wat Namgomar Pesca Limitada SA ontvang het, bedrieglik ontvang is of bedrieglik toegeken is – net tot voordeel van Gustavo se medebeskuldigdes – wat ook die bewering kan bevestig dat kernsakelui en topstaatsamptenare hierdie memorandum van verstandhouding op ’n korrupte manier gebruik het om hulself te bevoordeel,” het Kanyangela gesê. - [email protected]

Soortgelyk

 

Oorvol Oranje sorg vir skade

2 ure gelede | Omgewing

Toerismebestemmings geleë op die oewers van die Oranjerivier in die Suide van die land, is aan die ontvangkant van die oorvloei van water. Monique Adams...

21 sterftes, 373 nuwe gevalle

2 ure gelede | Gesondheid

Covid-19-sterftes styg met 21 tot 3 804. Geen van die gevalle was ingeënt nie. Gister is 373 nuwe gevalle aangemeld, 'n positiwiteitskoers van 13,4%....

Landless People's Movement onttrek twee raadslede van Keetmanshoop-munisipaliteit

5 ure gelede | Regering

Twee raadslede van die Keetmanshoop-munisipaliteit wat die Landless People's Movement verteenwoordig het, is met onmiddellike effek verwyder en hul verteenwoordiging opgehef. Sydney Skakana en Willie...

Drie van Okahandja se bestuurskomitee vas vir korrupsie

7 ure gelede | Misdaad

Die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC) het drie lede van die bestuurskomitee van die munisipaliteit op Okahandja vir korrupsie vasgetrek. Die drie, Gideon Uwu-Khaeb (voormalige voorsitter),...

Graad 11- en 12-uitslae middel Februarie verwag

9 ure gelede | Gesondheid

Die uitslae van voltydse kandidate vir die Nasionale Senior Sekondêre Sertifikaat Gewone Vlak (NSSCO) en Gevorderde Vlak (AS) sal in middel-Februarie vrygestel word. Volgens 'n...

Boggelrug rus teen die rotse

17 ure gelede | Omgewing

'n Boggelrugwalvis het gister laatmiddag by Langstrand Uitbreiding 1 tussen Swakopmund en Walvisbaai uitgespoel. Volgens 'n inwoner het die dooie walvis met laegety teen 'n...

Geen toetse vir ingeëntes

17 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Namibië het gister ’n reusetree gegee om in pas te kom met die nuwe wêreldneiging waar reise deur inentingstatus eerder as ’n...

Families getraumatiseer ná verkeerde liggaam begrawe word

17 ure gelede | Mense

Adam Hartman op Swakopmund – Twee families in rou is verder getraumatiseer nadat hul geliefdes se liggame per ongeluk omgeruil is – klaarblyklik by die...

Risikoskaal vir boere swaar gelaai

17 ure gelede | Landbou

Ronelle Rademeyer - Skerp stygings in insetkoste, ’n “ontploffing” in veediefstalle en onsekerheid oor of die reënval vanjaar voldoende sal wees vir goeie weiding, is...