Namcol: Slegs 10% slaag Engels bevredigend

Deeltydse uitslae ‘meer as bevredigend’

12 January 2018 | Onderwys
Elvira Hattingh - Uit die 20 333 NSSCO-inskrywings vir Engels tweede taal by die Namibiese Kollege vir Afstandonderrig (Namcol), kon slegs 10% ’n D-simbool of hoër behaal. Terselfdertyd het ’n verdere 10% van kandidate nie hul kursus voltooi nie.

NSSCO staan vir die Namibiese Senior Sekondêre Sertifikaat-eksamen op gewone vlak. Namcol is die land se grootste instituut vir afstandsonderrig in graad 10- en 12-vakke en het verlede jaar weer 95% van alle deeltydse graad 10- en 12-kandidate geakkommodeer.

Dr. Heroldt Murangi, Namcol se direkteur het gister tydens ’n mediakonferensie gesê hoewel graad 12-kandidate uitsonderlik goed in huistale gepresteer het en 50% ’n D-simbool of beter behaal het, bly Engels tweede taal ’n doring in die vlees.

“Boonop is dit kommerwekkend dat sowat 2 000 kandidate nie hul kursus voltooi het nie – wat meestal gebeur omdat hulle nie vir hul mondelinge eksamens opdaag nie of omdat hulle nie vir die skryf van al die vraestelle opdaag nie,” het hy gesê.

“Terselfdertyd blyk dit dat 12 000 voltydse kandidate, asook 18 000 deeltydses, nie meer as ’n D-simbool vir Engels tweede taal kon behaal nie – die algemene afsnypunt om toelating vir tersiêre onderrig te kry.

“Dit beteken moontlik meer as 30 000 kandidate kan in 2018 by Namcol probeer inskryf in ’n poging om hul punte in dié vak te verbeter. Terselfdertyd het ons slegs die kapasiteit om 18 000 kandidate vanjaar te akkommodeer,” het hy gesê.

Hy het gesê Namcol kan nie alleen geblameer word vir swak resultate nie en dat die probleem met Engels grootliks van die formele onderrigstelsel oorgeërf is.

BETER AS 2016

Murangi sê Namcol se graad 12-leerlinge het in die algemeen beter as verlede jaar gepresteer.

Meer deeltydse NSSCO-kandidate het vanjaar A+- tot G-simbole behaal as verlede jaar en die feit dat 2,6% meer leerlinge gegradeer het, is Woensdag deur die minister van onderwys, kuns en kultuur, Katrina Hanse-Himarwa, as “meer as bevredigend” beskryf.

Volgens hom het JSC-kandidate in 2017 beter as in 2016 gepresteer en meer kandidate het vanjaar A+- tot B-simbole behaal, asook F- tot G-simbole, terwyl minder ’n C- of ’n E-simbool kon behaal.

“Hoewel prestasie in A- en B-simbole bevredigend was, is dit kommerwekkend om die swakker prestasie in C- en D-simbole te sien. Boonop het meer kandidate nie vanjaar gegradeer nie. Verlede jaar was dit sowat 6,8%; vanjaar is dit 10,9%,” het hy gesê.

Hy sê vir 15,5% JSC-vakinskrywings is daar nie ’n eksamen geskryf nie en altesaam 10 000 NSCCO-vakinskrywings is ook nie voltooi nie.

UITSAKSYFERS

“Dit kan wees omdat hulle werk elders gevind het, maar sommige kandidate kom registreer slegs by Namcol om maatskaplike voordele te kan kry.

“Hulle kom lê dus nooit eksamens af nie, maar kom registreer om voordeel uit pensioenfondse te trek of om nog op hul ouers se mediese fondse te kan wees. Dit raak ons uitslae negatief,” het hy gesê.

Hy het gesê ’n studie sal gedoen word om vas te stel waarom kandidate nie hul kursusse voltooi nie.

Namcol wil byvoorbeeld met pensioenfondse soos GIPF en mediese fondse saamwerk sodat die instansies ook studente se eksamenuitslae vereis voordat dekking of voordele aan hulle gebied kan word.

“Dit sal help om die skuiwergat toe te maak,” het hy gesê.

Kandidate kan voorts tussen 15 Januarie en 7 Februarie vir die nuwe akademiese jaar by 138 Namcol-registrasiepunte dwarsoor die land inskryf. By sommige punte word alle inskrywings aanlyn gedoen.

BEURSE

Namcol het vanjaar ook landswyd beurse ter waarde van N$300 000 vir 2018 aan 250 kandidate toegeken. Twintig kandidate uit die Khomasstreek het tydens die mediakonferensie hul beurse ontvang.

Terselfdertyd het die ministerie onlangs ook ’n verdere N$36 miljoen aan Namcol toegestaan.

Soortgelyk

 

Kobra saai paniek by konstruksieterrein

4 ure gelede | Omgewing

‘n Agressiewe en beseerde Anchieta-kobra, ook bekend as die Angolese kobra, het vroeër vandag vir paniek gesorg by ‘n konstruksieterrein op Otjiwarongo waar werkers besig...

Kraam buite kliniek - verpleegsters geskors

20 ure gelede | Ministeries

Henriette Lamprecht – Twee verpleegsters wat ‘n hoogswanger vrou by die Okuryangava-kliniek glo weggewys het, is in opdrag van die minister van gesondheid en maatskaplike...

Lewenslank vir Suide-verkragters

20 ure gelede | Howe

Elvira Hattingh en Ronelle Rademeyer - Twee mans wat vroue op Mariental en Tses verkrag en vermoor het, is gister in twee afsonderlike sake vonnisse...

Schlettwein sê oor TIPEEG, FOCAC

20 ure gelede | Regering

Denver Kisting – In die eerste plek is Namibië se ekonomie besig om aan te pas by ’n nuwe pad van groei nadat dit een...

Weer vir 19 September

20 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en warm in die Suide met enkele buie in die verre Suide. Elders sal baie tot bloedig warm in die Noorde wees.KUS:...

TransNamib op soek na nuwe direksie

20 ure gelede | Vervoer

Catherine Sasman Die ministerie van werke en vervoer het in 'n openbare kennisgewing aangekondig dat nuwe direksielede vir TransNamib gesoek word. Die huidige direksie se...

Esau: Visvangkwotas kan nie verkoop word

20 ure gelede | Ministeries

Leandrea Louw Die minister van visserye en mariene hulpbronne, mnr. Bernard Esau, het gewaarsku visvangkwotas kan nie verkoop word “om vinnig geld te maak nie”....

Help soek na vermistes

20 ure gelede | Misdaad

Tanja BauseDie Namibiese polisie vra die publiek se hulp in die opsporing van twee vermiste mense. Die 14-jarige Niita Fillemon word sedert 19:00 verlede Woensdag...

Grond: Wit boere wíl praat

20 ure gelede | Ministeries

Elvira HattinghDie president van die Namibië Landbou-unie (NLU), mnr. Ryno van der Merwe, sê dit is onwaar dat wit kommersiële boere nie in gesprek tree...