Namangol-baas in getuiebank

Beleggings-mallemeule ontvou

20 March 2017 | Howe
Jacqueline Louw - Die eienaar van die beleggingsmaatskappy Namangol Investments (Namangol), mnr. Nico Josea, het verlede week in Windhoek se hoërhof verduidelik wat van die Maatskaplike Voorsorgkommissie (SSC) se beweerde N$30 miljoen-belegging in Avid Investment Corporation (Avid) geword het.

Josea het voor regter Christie Liebenberg verskyn in die verhoor waarin hy en ses medebeskuldigdes van die wanbestuur van die SSC se belegging in Avid beskuldig word.

Gedurende sy getuienis het Josea aan die hof gesê: “Ek het geen besigheid met Avid gedoen nie en ek het geen geld aan Avid geskuld nie.”

In getuienis gelei deur sy regsverteenwoordiger, mnr. Slysken Makando, het Josea gesê: “Ek het nooit van SSC gesteel nie.”

Volgens Josea het hy slegs met wyle mnr. Lazarus Kandara, voormalige besturende direkteur van Avid, besigheid gedoen. Beleggings is volgens Josea in Kandara, wat hom glo aan Josea voorgestel het as 'n besigheidsman met baie besighede in Namibië en die omringende buurstate, se persoonlike kapasiteit gedoen.

In 2004 het Josea 'n forex handelaarskursus gedoen en op grond van sy verduideliking van handel in ver­skeie handelsware het Kandara N$10 miljoen aan Josea betaal om deur 'n Suid-Afrikaanse aandelehandelaar, ene Alan Rosenberg, belê te word. Die rente op dié belegging sou 60% beloop, het Josea getuig. In Desember 2004 wou Kandara sy geld terughê en N$11 miljoen is glo aan hom terugbetaal.

Lazarus kandara

Daarna het Kandara hom weer genader om N$30 miljoen te belê, het Josea aan die hof vertel. N$29,5 miljoen is toe van Avid se rekening af in Namangol se rekening inbetaal. Kandara se instruksies was glo dat N$20 miljoen daarvan deur Rosenberg en ene Frik Blaauw in Suid-Afrika belê moes word en dat die balans onder Josea se beheer moes bly.

Rosenberg het net sowat N$15 miljoen van daardie geld aan Josea terugbetaal in Maart 2005, het die hof gehoor.

Teen die einde van Mei 2005 was Avid nie in staat om die N$30 miljoen-belegging en beloofde rente van N$1,4 miljoen aan die SSC terug te betaal nie, wat tot 'n hofondersoek na die beleggingstransaksie en die lot van die SSC se geld gelei het. Na die ondersoek is Josea, me. Inez /Gâses en vyf medebeskuldigdes formeel deur die staat aangekla.

Kandara het homself buite Windhoek se sentrale polisiekantoor op 24 Augustus 2005 geskiet, kort nadat hy in hegtenis geneem is in verband met die beweerde ­verduistering van

die SSC se belegging van N$30 miljoen.

Josea en vier voormalige direkteure van Avid – die voormalige sekretaris van Swapo se jeugliga en adjunkminister Paulus Kapia, prokureurs Sharon Blaauw en Otniel Podewiltz, en 'n Swapo-kollega van Kapia, Ralph Blaauw - asook afgetrede brigadier van die Namibiese weermag en Avid-aandeelhouer, Mathias Shiweda, se verhoor het in Mei 2014 voor Liebenberg begin.

Kapia, /Gâses, die Blaauw-egpaar en Podewiltz staar klagte van bedrog en die roekelose of bedrieglike bedryf van besigheid in die gesig. Josea staan tereg op klagte van diefstal en die roekelose of bedrieglike bedryf van besigheid, terwyl Shiweda aangekla word van die roekelose of bedrieglike bedryf van besigheid.

Die verhoor sal op Woensdag 22 Maart voortgesit word.

Soortgelyk

 

Dagboek vir die landbouer

8 ure gelede | Landbou

Wildfees- en ­veiling vind dié naweek plaasDie Outjo Wildsfees vind hierdie naweek by die Sophienhof Lodge buite Outjo plaas. Die wildsveiling, aangebied deur Du Preez...

Noorde in greep van erge waterkrisis

18 ure gelede | Omgewing

Ronelle Rademeyer - Skade weens verspoelings aan die kanaal wat water vanaf Calueque tot by Oshakati en omliggende dorpe in die sentrale Noorde, ...

Karibib skud!

19 ure gelede | Omgewing

‘n Aardbewing wat 3,4 op die Richeterskaal geregistreer het, het knap voor middernag suid van Karibib plaasgevind.Volgens ‘n mediaverklaring van die ministerie van myne en...

Twee mans sterf op Hochfeldpad

1 dag gelede | Ongelukke

Twee mans het gistermiddag in ‘n motorongeluk op die pad tussen Okahandja en Hochfeld gesterf.Die sedanvoertuig waarin hulle gereis het, het ‘n slaggat getref en...

Shaningua 'het uit vrees geskiet'

1 dag gelede | Howe

Jacqueline Louw – Mnr. Rodney Shaningua (47) wat van die moord op ’n Finse burger twee jaar gelede beskuldig is, het gister aan ’n hoërhofregter...

Premier gee oorsig oor staatsdiens

1 dag gelede | Regering

Estelle de Bruyn - Met die uitsondering van die uniformmagte en politieke ampsdraers, is daar 67 835 staatsamptenare in Namibië van wie 534 buitelanders is.Dit...

Weer vir 28 April 2017

1 dag gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm met enkele buie oor die Zambezistreek. Dit sal winderig oor die binneland wees, behalwe oor die verre...

Reg op repliek: Safari Hotels

1 dag gelede | Plaaslik

Op 10 Maart 2017 het Republi­kein 'n onderhoud geplaas wat gevoer is met mnr. Johnnie Hamman, voormalige besturende direkteur van Safari Hotels (Edms. Bpk.), onder...

Sentrale Aankoperaad in hoërhof ingehuldig

1 dag gelede | Howe

Die nuwe Sentrale Aankoperaad is gister amptelik deur regterpresident Petrus Damaseb in die hoërhof ingehuldig. Die voorsitter van die nuwe raad, mnr. Patrick Swartz, het...