Nam studente se toekoms onseker
Nam studente se toekoms onseker

Nam studente se toekoms onseker

#FeesMustFall kan tot eksamens beïnvloed
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Duisende Namibiese studente wat aan universiteite in Suid-Afrika studeer, hou asem op oor die naderende eindeksamens wat weens die #FeesMustFall-veldtog in die gedrang kan kom.

Dit kan beurshouers se beursvoorwaardes in die gedrang bring, terwyl studente wie se studiepermitte die einde van die jaar verstryk, waarskynlik nie betyds vir nuwe permitte sal kan aansoek doen indien hulle volgende jaar uitgestelde eksamens moet skryf nie.

Verder kan studente wie se uitslae weens die uitstel van eksamens na vroeg aanstaande jaar, die gevaar loop dat hulle nie betyds vir studielenings sal kan aansoek doen nie.

Uitslae moet ingedien word voordat banke studielenings vir die nuwe akademiese jaar goedkeur en uitbetaal. Namibiërs, soos ander buitelandse studente, moet tydens registrasie hul klasgelde vir die nuwe jaar ten volle betaal.

Finalejaarstudente wat reeds werkaanbiedinge ontvang het, weet ook nie of hulle hul grade gaan ontvang en die aanbiedinge kan aanvaar nie.

Die verwerking van ’n studiepermit duur gemiddeld agt weke, terwyl studente ook weke lank kan wag om eers polisieklaring te kry wat ’n vereiste vir die toekenning van die studiepermit is.

Volgens ’n Namibiese student verbonde aan die Universiteit van Kaapstad is studente “amper seker” dat hulle nie dié akademiese jaar sal kan voltooi nie.

“Ek wil nie eens praat van die finansiële implikasies nie”, het mnr. Janee Karuaihe, ’n finale jaar student in die regte, gesê.

Daarmee saam is daar die omslagtige en tydrowende proses om aansoek om ’n studiepermit te doen.

“Dit terwyl hulle deeglik daarvan bewus is dat ons nie die proses betyds sal kan afhandel om volgende jaar na Suid-Afrika terug te keer om die akademiese jaar te voltooi nie.”

Volgens hom het verskeie finalejaarstudente werkgeleenthede gekry wat aanstaande jaar vir hulle wag.

“Ons is bekommerd dat ons ons plekke sal verloor. Ons poste by verskeie regsmaatskappye is ook in die gedrang.”

Karuaihe sê voorts studente het eenstemmigheid dat nie net die Suid-Afrikaanse regering nie, maar ook Afrika-regerings hulle nie ernstig opneem nie. Volgens hom sien Suid-Afrikaanse studente die #FeesMustFall-veldtog as ’n stryd teen alle basiese kwessies en wat insluit die skuld aan instellings “waarin studente gedwing word”.

“Hoe kan ons die samelewing verander waarin ons leef, as ons vir tot tien jaar hierdie skuld terugbetaal?’

Hy het voorts gesê die betogings is nóú verbind met “swart belasting waar ons ouers skuld moet aangaan om ons tersiêre onderrig te laat ontvang”.

Na afloop van hul studies, sê Karuaihe, word kinders as die broodwinners vir die res van die familie gesien.

“Ons as studente wil gratis onderrig hê en ons wil dit nou hê.”

Karuaihe erken Namibiese studente en ander internasionale studente weet nie waar hulle staan nie.

“Kampusse is oorlogsones, studente vrees vir hul lewens, veral dié wat op kampus bly.”

Intussen sê ’n Namibiese ouer van twee studente by UCT, hulle is “ontmoedig en gefrustreerd” deur dit wat op die kampus aangaan.

Volgens mnr. Eduard Mouton is albei sy kinders eerstejaars en studeer in onderskeidelik BSc Konstruksiebestuur en BSc Genetika. Hy betaal self vir hul studies wat saam met akkommodasie reuse bedrae beloop.

“Internasionale studente kwalifiseer nie vir koshuisverblyf of beurse nie.”

Volgens Mouton sou die studente weer vandag met klasse begin het en begin die eksamens op 9 November. Sou studente dit nie kan aflê nie, moet hulle dit in Januarie aanstaande jaar aflê.

’n Groot kommer is studente se veiligheid, sê Mouton, met studente wat nie altyd kan onderskei tussen wie student en wie betoger is nie.

“Om te betoog is een ding, maar vandalisme en geweld is ’n hele ander storie.”

Die graadkursusse wat sy kinders volg, word nie in Namibië aangebied nie.

“Sou daar dié opsie wees, sou ek dit aanbeveel. Studente het egter nie ’n kampuslewe hier nie.”

Volgens hom is studente wat wíl studeer, “hoogs geïrriteerd” omdat klasse ontwrig is.

“Hulle het heel jaar hard gewerk en alles ingesit en is klaar onder geweldige druk vir die eksamen. Dit word nou net verder vererger.”

Sou klasse op UCT gister (Maandag 17 Oktober) wel begin, sê die universiteit op sy webtuiste kan onderrig nog “gered” en eksamens tussen 7 en 25 November afgelê kan word. Sou dit nie gebeur nie, is die “akademiese termyn verlore en die gevolge ernstig, m.a.w ons het uit tyd gehardloop.”

Alternatiewe reëlings is dat klasse vir voorgraadse studente opgeskort is, met alle fakulteite en departemente wat sal sorg die beplande leerplan aan studente beskikbaar gestel word. Eksamens geskied dan steeds op die beplande datums.

By die Universiteit van Pretoria (UP) sal studente net op die kampus toegelaat word, sou reëlings vooraf hiervoor getref is. Eksamens begin op 14 November en duur tot 3 Desember. Finalejaarstudente wat ’n werksaanbod vir aanstaande jaar het, word aangemoedig om dit te aanvaar.

Die Universiteit Stellenbosch (US) sê in ’n verklaring lesings eindig Vrydag (21 Oktober), met die eksamen wat Dinsdag (25 Oktober). Reëlings is getref vir dosente om hul uitgestelde lesings elektronies op te neem en op SUNLEARN vir studente beskikbaar te stel. Sigbare sekuriteit sal ook deurgaans op die kampus wees.

Die Universiteit van die Vrystaat (UFS) se Bloemfontein- en Suid-kampusse is tot 28 Oktober gesluit om “noodsaaklike en komplekse reëlings” in plek te stel om die akademiese kalender aan te pas. Onderrig vir voorgraadse en honneurstudente begin weer in die eerste week in November, maar wel deur ’n kombinasie van gedrukte en opgeneemde lesings en studiemateriaal.

Klasse by die Tshwane-Universiteit van Tegnologie (TUT) se Pretoriase kampusse het Maandagoggend hervat ná byna drie weke se gewelddadige protesaksie oor klasgeld.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!