N$245 m. vir nuwe lughawebaadjie

Leake Hangala sê oor regrukplan

08 November 2018 | Plaaslik
Ronelle Rademeyer - Aanstaande jaar dié tyd sal die Internasionale Lughawe Hosea Kutako ’n nuwe N$245 miljoen-baadjie dra om as vlagskip van die land se lughawens aan internasionale standaarde te voldoen en ’n beter reiservaring vir besoekers te bied.

Dít was die aankondiging gister toe dr. Leake Hangala sy eerste nuuskonferensie gehou het om joernaliste op die hoogte te bring van vordering met die oplossing vir die lughawekrisis en ander sake by die Namibiese Lughawensmaatskapppy (NAC).

Hy is verlede maand deur mnr. John Mutorwa, minister van werke en vervoer, as die NAC se nuwe voorsitter aangewys. Dit is allerweë as 'n ingrypingsmaatreël gesien om die NAC reg te ruk.

Kerry McNamara Argitekte is reeds aangestel om die ontwerp te doen, en beide die ou en nuwe eindpuntgeboue sal deel van die opgegradeerde lughawe uitmaak.

Volgens Hangala het dié argiteksfirma ’n internasionale lugvaartkundige betrek om met die ontwerp te help. Simuleringsprogramme sal gebruik word om te bepaal hoeveel méér besoekers jaarliks deur die voorgenome ruimtelike verbeterings geakkommodeer kan word, sê hy.

Die argitek se planne sal teen einde Desember voltooi wees, waarna die kontrakteur aangestel sal word om teen Maart met die werk te begin.

Die lughawe soos dit tans ingerig is, kan net 250 000 passasiers jaarliks hanteer. Sedert 1985 toe die bouwerk voltooi is, het dié syfer tot 1 miljoen passasiers per jaar opgeskiet.

“Die lughawe het sy limiet in terme van kapasiteit bereik en moet dus dringend uitgebrei en opgradeer word om vir die toename in vliegtuig- en passasiergetalle, asook die veel strenger internasionale sekuriteits- en veiligheidstandaarde voorsiening te maak,” sê Hangala.

SEKURITEITSOUDIT

Verder, sê hy, is Namibië gereed vir die Internasionale Burgerlugvaartorganisasie (Icao) se sekuriteitsoudit van 18 tot 28 November.

Namibië is die eerste land wat ingevolge nuwe standaarde geëvalueer gaan word nadat Icao wysiging 16 by aanhangsel 17 van die Konvensie op Internasionale Burgerlugvaart gevoeg het, sê hy.

Benewens dat daar tydens die vorige Icao-sekuriteitsoudit van Namibië in 2010 kwessies geïdentifiseer is, het die Internasionale Lughaweraad (ACI) se sekuriteitsprogram vir lughawe-uitmuntendheid (Apex) in Desember verlede jaar ook leemtes by Hosea Kutako gevind, sê hy.

Dit is intussen deur die NAC en ander belanghebbendes getakel en groot vordering is gemaak, het Hangala verseker.

Van die maatreëls behels ’n groter skanderingsruimte, meer skanderingsmasjiene en personeel, en verbeterde skandering om plofstof en ploftoestelle te vind.

Van vandag af sal passasiers ook met busse tussen die eindpuntgebou en vliegtuie vervoer word.

Mnr. Lot Haifidi, waarnemende uitvoerende hoof van die NAC, het aan joernaliste gesê tydens ’n skynoudit as oefenlopie in Mei vanjaar, het Namibië 65% gekry. Die internasionale gemiddeld is 72%.

Volgens hom sal Namibië met die werklike oudit oor tien dae aansienlik beter vaar.

Hangala het ook aangekondig die aanstelling van “’n substantiewe uitvoerende hoof” by die NAC sal teen einde Desember afgehandel wees.

Soortgelyk

 

Polisie konfiskeer kerk se luidsprekers in Oshakati

10 ure gelede | Plaaslik

Die polisie het luidsprekers wat aan die New Jerusalem Ministry in Oshakati se informele nedersetting Oneshila behoort, vandeesweek ná klagtes van rusverstoring gekonfiskeer.Volgens inspekteur Thomas...

Olifante beskadig optiese kabels naby Khorixas

10 ure gelede | Plaaslik

‘n Trop olifante het inwoners in die Noorde van die land sonder landlyn- en selfoonverbinding gelaat, nadat die optiese kabel tussen Omatjete en Khorixas Donderdagmiddag...

Skietklub lê weer aan

13 ure gelede | Howe

Denver Kisting - Mnr. Norman Tjombe, die regsverteenwoordiger van die Rehoboth-skietklub, het vanoggend (Vrydag) bevestig sake is terug na normaal.Dít kom nadat die Namibiese weermag...

'Boere se veglus verdwyn'

23 ure gelede | Landbou

Ronelle Rademeyer en Elvira Hattingh - Twee bekende boere van die Suide sê die droogte het boere op hul knieë.“Ek was gister by ’n veiling...

Egpaar herontdek skaars plantjie

23 ure gelede | Omgewing

Denver Kisting – ’n Dekaan by die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust), dr. Rolf Becker, en sy vrou, me. Alma Moller, het verlede...

Kalender 18 Januarie

23 ure gelede | Kuns en vermaak

Nou aan die gang» Die Nasionale Kunsgalery van Namibië (NAGN) bied met trots Unam se beeldende kunste-uitstalling vir 2018 aan. Dié uitstalling is tans...

'DRK maak staat op ons'

23 ure gelede | Politiek

Inwoners van die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) maak staat op lande deel van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) om die land weer op die...

Operasie Hornkranz: Meer misdaad aangemeld

23 ure gelede | Misdaad

Augetto Graig Die Namibiese polisie het Woensdag by die Israel Patrick Iyambo-polisiekollege in Olympia terugvoering gegee aan die visepresident, mnr. Nangolo Mbumba, en die...

Weer vir 18 Januarie

23 ure gelede | Weer

BINNELAND: Sonnig en warm tot baie warm in die //Kharasstreek, andersins gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm met 'n paar tot geïsoleerde donderbuie in...