’n Vars invalshoek

Yandi Du Plessis
Namibia Book Market bederf boekwurms met nuwe leesstof op hul rake; van misdaadfiksie tot kinderboeke en natuurgidse tot geskiedkundige joernale. Daar is iets vir almal.

Changes in Direction – a Journal deur Laura Horelli

N$290

Changes in Direction – a Journal verskaf veelduidige en transnasionale Afrika-Europese stellings oor huidige debatte oor dekolonialisme vanuit verskillende perspektiewe. Die Fins-Duitse kunstenaar Laura Horelli neem die traumatiese en komplekse geskiedenisse van kolonialisme en internasionale solidariteit tussen Oos-Duitsland, Finland en Namibië in oënskou, en plaas mikro-historiese ingrypings in openbare ruimtes in die kollig. Die kunstenaar se samestelling van navorsing, onderhoude en gesprekke in hierdie tweetalige Duits-Engelse bundel word verryk deur bydraes deur die Namibiese uitvoerende kunstenaar Nashilongweshipwe Mushaandja, die Duitse teoretikus Doreen Mende en die Finse skrywer Olli Löytty. Wat aanvanklik ’n uitstallingsprojek en rolprentvertonings in Berlyn, Freiburg, Malmö, Helsinki en Windhoek was, het Horelli en die kurator Heidi Brunnschweiler in ’n bundel gekombineer wat kuns as ’n proses vier en krities daaroor besin.

A Glance at Our Africa (herdruk van South West News/Suidwes Nuus, 1960) saamgestel deur Dag Henrichsen

N$200

Dié boek bevat die faksimilee-herdruk van die eerste Afrikaanse koerant wat in Namibië gepubliseer is: South West News – Suidwes Nuus.

Dit is in 1960 in Windhoek uitgegee en kan as die vroegste voorbeeld van onafhanklike Afrika-joernalistiek in Namibië beskou word. South West News was destyds die enigste koerant in Namibië met ’n nie-rassige en nasionalistiese uitkyk. Dit was ook ’n gemeenskapsblad vir die Ou Lokasie-woongebied in Windhoek, wie se inwoners met gedwonge uitsettings gedreig is.

Die koerant is kort ná die skietery by die Ou Lokasie in Desember 1959 bekend gestel. Dit het verklarings deur Hosea Kutako, Swanu sowel as OPO/Swapo en die getuienisse van Mburumba Kerina, Jariretundu Kozonguizi en Sam Nujoma by die Verenigde Nasies (VN)-komitee oor Suidwes-Afrika in New York gepubliseer. Dit het berig oor gemeenskapsgeleenthede in die Ou Lokasie, op die Maharero-dag in Okahandja en oor die begrafnis van hoofman Josaphat Kambazembi.

South West News was een van die min publikasies wat Afrika-kwessies met Afrikane self en die koloniale samelewing in Namibië in die algemeen gedeel het. Vandag is die koerant grootliks vergete. Hierdie boek maak die publikasie weer toeganklik en ondersoek die geskiedenis en inhoud daarvan.

Zedekia Ngavirue (1933–2021) was ’n medestigter en voormalige redakteur van South West News (1960). Hy was destyds die enigste maatskaplike werker in die Ou Lokasie en een van die Swanu-leiers. Twaalf jaar later het hy sy PhD aan die Universiteit van Oxford verwerf oor die politieke geskiedenis van Namibië. Ná Namibië se onafhanklikwording in 1990 het hy talle regerings- en diplomatieke posisies beklee.

Dag Henrichsen is ’n Namibiese historikus by die Basler Afrika Bibliographien (BAB) Namibia Resource Centre in Switserland.

The Living Deserts of Southern Africa deur Barry Lovegrove

N$430

Oor die geslagte heen het die woestyne van Suider-Afrika wetenskaplikes en reisigers geprikkel. Dié oënskynlik onvrugbare woestynland wemel in werklikheid van lewe – van miere tot olifante, klipplante tot die welwitschia, klein dik-dikkies tot gemsbokke, en wawiel-spinnekoppe tot kewers. Hoe hanteer hulle skaars hulpbronne, onvoorspelbare reënval en uiterste temperature? Hoe beskerm hulle hulself teen roofdiere? En wat is die impak van klimaatsverandering op hierdie wesens en hul habitatte?

Die boek is gebaseer op ’n uitgawe wat in 1993 gepubliseer is en waarin die bioloog Barry Lovegrove hierdie vrae beantwoord en baie van die raaisels wat verband hou met lewe in die woestyn ontrafel. Hy beskryf vier dorre biome van Suid-Afrika, Namibië en Botswana: woestyn, droë savannas, sukkulente Karoo en Nama-Karoo, en verduidelik hoe en hoekom so ’n groot verskeidenheid van plante, insekte, soogdiere, reptiele en voëls suksesvol hier oorleef. Die teks word ondersteun deur die mees onlangse navorsing, skouspelagtige foto’s en diagramme en kaarte.

Living Deserts of Southern Africa is ‘n boeiende, in-diepte leesstuk wat toeganklik is vir beide die ernstige student en akademikus sowel as die belangstellende natuurliefhebber.

The Handbook on the Native Pass Tokens of German South West Africa deur Gordon McGregor

N$195

“Oor baie jare se navorsing oor hierdie ‘permitte’ van Duits-Suidwes-Afrika – wat gebruik is om die inheemse bevolking gedurende een van die ergste tydperke van die Duitse besetting te beheer – het ek baie inligting versamel en talle aantekeninge gemaak.

“Die afgelope tyd, toe ek deur hierdie lêers blaai, het dit by my opgekom dat hierdie notas ’n waardevolle bron van inligting vir versamelaars en navorsers kan wees. Vandaar hierdie boek.”

Hierdie boek is sonder twyfel ’n noodsaaklikheid op die boekrak van enige versamelaar of navorser binne hierdie veld, vertel die skrywer.

Vamama's History and Heritage deur Shampapi Shiremo

N$250

Die skrywer van hierdie boek is ’n Namibiër wat in 1979 by Mamono Royal Village, naby die Nyangana Rooms Katolieke-sendingstasie, gebore is. Tydens sy formele primêre onderwys het hy ook tradisionele onderwys ontvang, in die vorm van onder meer vee op pas, koeie melk, saaiboerdery, visvang, jag en die bou van tradisionele hutte.

Shampapi Shiremo het in 2003 as onderwyser aan die Universiteit van Namibië (Unam) gekwalifiseer. Tussen 2003 en 2006 het hy by Rundu- en Linus Shashipapo Senior Sekondêre Skool skoolgehou. In 2009 het hy 'n meestersgraad in kunsgeskiedenis aan Unam verwerf en in 2013 ’n BA-graad in regte. Tussen 2009 en 2010 het Shiremo by die Nasionale Argief van Namibië as ’n projekbeampte vir die Argief van Teenkoloniale Weerstand en die Bevrydingstrydsprojek gewerk.

Hy is ’n passievolle historikus wat daarvan hou om navorsing te doen, te lees en te skryf oor onderwerpe wat met geskiedenis verband hou. Hy is onder meer verantwoordelik vir publikasies oor die Vagciriku-Lishora-slagting van 1894 en die weerstand van Kavango- tradisionele leiers in 1903 teen die Duitse koloniale regering en sy agente. Hy het ook ’n Rumanyo-roman getiteld Mfudu Urodi geskryf. Die titel, Vamama's History and Heritage is ’n boekreeks wat bedoel is om ten minste een keer per jaar herdruk te word as deel van die skrywer se bydrae om die Namibiërs op te voed oor hul verlede en kultuur. Dit is ook bedoel om die geskiedenis van die Kavangostreke te deel met groter leserspubliek in Namibië en in die buiteland.

Een of Ander Held deur Zirk van den Berg

N$290

Voor ’n groot moordverhoor in November 1905 bestempel ’n Windhoekse koerant die polisieman Siegfried Bock as ’n nuwe soort held. Maar die beskuldigde se advokaat stel Siegfried in ’n heel ander lig, skep agterdog wat sy goeie naam en toekoms bedreig. Boonop is sy voormalige bevelvoerder, oberleutnant Berghammer, en die Namakryger Jager Orlam albei daarop uit om Siegfried te laat boet – die een oor sy soldate se dood, die ander oor ’n opstandeling s’n. En dan is daar die burokraat Stauffacher met sy skreiende planne vir Siegfried en die ganse Duits-Suidwes-Afrika.

Die strop trek ál nouer om Siegfried se nek. Hy sien nie uitkomkans nie. Maar daar móét een wees, veral noudat liefde vir hom wink . . .

Een of ander held voer Zirk van den Berg se Hochnamib-trilogie tot ’n aangrypende einde.

Die Lelike Vyf deur Julia Donaldson

N$150

“Ons vyf is misbaksels, ons voel ons kan ween;

so vaal en misvormd, o, waar moet ons heen?”

Ontmoet die vaal blouwildebees, die giggelende hiëna, die bles aasvoël, die vlakvark met sy vratte en die vuil maraboe: alom bekend as die lelikste diere van die Bosveld … maar is hulle werklik so lelik?

Al dié boeke is op www.namibiabooks.com beskikbaar.

Kommentaar

Republikein 2024-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

SerieA: Genoa 0 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Southampton 3 vs 0 Preston North End English Championship: Southampton 3 vs 0 Preston North End Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 26km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:25, High tide: 13:40, Low Tide: 19:24, High tide: 01:48 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:38, Low Tide: 19:22, High tide: 01:46 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 36km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:37, Low Tide: 19:22, High tide: 01:45 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!