’n Uittreksel uit Hagar

10 August 2018 | Kuns en vermaak
Die geboorte van Ismael

Hagar is diep in die veld besig om haarself voor te berei vir haar kind, Ismael, se geboorte. Sy het laasnag begin pyne kry en sy weet die tyd het aangebreek. Al wat sy by haar het, is ‘n kleipotjie olie, gemeng met die sap van papirus, sagte lappe om haar baba in toe te draai, ‘n tou en skerp klip vir die naelstring, en ‘n kan water om haarself en die baba mee te was agterna. Wanneer sy klaar is, kan die kan sommer daar bly lê. Sy sal dit op ‘n ander dag kom haal of iemand stuur daarvoor.

Sy is baie rustig oor die geboorte, want sy twyfel nie daaraan dat die godin, Hator, vandag saam met haar is nie. Sy was nog altyd teenwoordig by alle geboortes in Egipte, daarom sal sy vandag ook hier wees. Sy sal Hagar help, en as sy nie alles kan doen nie, is daar nog altyd Amun ook. Wanneer geboortepyne ondraaglik word, kom Amun en blaas ‘n koel windjie oor die moeder en dit verlig die pyn onmiddellik. Ja, sy is gereed vir alles wat kan kom vandag.

Op en af stap sy en sê haar Egiptiese mantra wat haar help om te fokus op die natuur se skoonheid en nie op die pyn wat deur haar liggaam sny nie. Op en af, op en af, terwyl sy die woorde oor en oor herhaal.

Sy weet sy is sterk genoeg om dit alleen te kan doen, maar sy besef ook dat daar dalk probleme kan opduik wat sy nie alleen sal kan oplos nie; probleme wat haar of haar baba se lewe in gevaar kan stel. Sy wil nie daaraan dink nie, sy mág nie daaraan dink nie.

‘Fokus, Hagar, fokus asseblief op die windjie wat die sweet op jou voorkop droog waai. Fokus op die klein blommetjie daar in daardie bossie voor jou. Fokus op die blou hemel bo jou. Fokus, Hagar!

Toe sy voel dat die tyd nou baie naby is, vryf sy haarself met die olie-papirusmengsel in wat sy nog van Egipte af gebring het. Dit sal help teen pyn en ook dat die baba baie vinniger kom.

Sy meet die tye tussen die pyne soos wat sy stap. Sy moet gereed wees wanneer haar Ismael-kind sy opwagting wil maak. Jy is amper hier, ma se kind. Jy sal die mooiste baba wees wat hierdie kamp se mense nog ooit gesien het. Jou ma sal jou liewer hê as haar eie lewe, jy sal sien.

Opeens weet sy – nou of nooit! Met vasberadenheid gaan sit sy op haar hurke. Sy krimp ineen en die pyn verblind haar vir ‘n oomblik heeltemal. Sy sukkel om haar balans te hou en kom eers weer regop. Vasberade gaan sy weer af op haar hurke.

“Ismael, jou ma het jou lief!” gil sy dit uit toe die baba op die grond val.

Sy tel hom op en vryf die voorkoppie skoon. Sy bewonder die ou volmaakte gesiggie voor haar. Dit is háár seun, háár Ismael, en niemand op die hele wye wêreld sal hom by haar vat nie. Toe hy sy eerste skreeutjie gee, huil sy kliphard saam met hom. Sy huil omdat haar hart wil bars van trots en dankbaarheid.

Eers moet sy luister na sy asemhaling. Sy moet seker wees dat hy gesond is en sal lewe. Sy hou haar asem op en luister naby sy mondjie na sy asemhaling. Klink dit soos die gekraak van groot bome in die wind, of draai hy sy gesiggie ondertoe, dan gaan hy dit nie maak nie. Of is sy skreeutjie sterk en egalig, dan is hy sterk genoeg en sal hy lewe. Na, wat vir haar voel soos eeue, skree hy ‘n tweede en ‘n derde sterk, hoë skreeutjie. Haar kop val agteroor en sy juig dit uit: “Ismael, jy sal lewe. Jy sal ‘n groot nasie word. Jy is myne!”

Toe die naelstring af is, vee sy haar liefkindjie af en draai hom stewig toe. Sy gaan lê op die grond en sit hom aan haar bors. Wat ‘n vreugde toe hy sommer dadelik ‘n paar suigies probeer! O nee, Sarai, hierdie een gaan jy nie by my vat nie, jy kan dit maar vergeet.

Nadat sy haarself versorg het, vat Hagar haar baba en stap stadig aan terug laer toe.

Van ver af kan sy sien dat sy nie ongesiens in haar tent gaan kom nie. Al die slawe en slavinne in die kamp staan gereed om haar terug te verwelkom. Hagar sien hoe hulle lag en hande klap en sy wonder waarom sy hulle dan nog nooit kon verdra nie. Haar hart voel lig en bly. Dit laat haar dink aan Egipte. Met die geboorte van ‘n baba is daar ‘n groot fees gehou en almal was bly saam met die ouers. Mooi wense is oor die baba uitgespreek en die gode is gevra om die baba te beskerm en sterk te maak.

Opgewonde kom sy by die kamp aan. Sy glimlag moeg en wil graag vir almal die baba wys; net om te besef dit gaan oor die baba van Abram en Sarai, glad nie oor haar en haar baba nie. Hulle sien haar glad nie raak nie, almal lag en skree oor Abram se seun.

Meteens is Abram en Sarai langs haar. Sonder ‘n woord vat Abram die kleintjie by haar en hou hom hoog in die lug. Met trots kondig hy aan: “Hierdie is my seun, Ismael. Ek dank die Here vir hierdie seun wat hy vir my gegee het. Mag hy ‘n groot man word en mag hy voorspoedig wees in alles wat hy doen.”

Almal juig en skree van blydskap. Hulle sing en dans rondom Abram, Sarai en die baba. “Ismael! Ismael! Ismael!” weerklink dit deur die laer. Die vreugdevure gaan vanaand brand, want Abram en Sarai het ‘n baba.

Die vrou staan buite hierdie kring van vreugde en beskou die hele toneel asof sy dit van ver af sien. Vir haar voel dit soos twee wêrelde: Die een met Abram en Sarai met hulle baba, die ander met haar en Ismael in die bos ‘n paar oomblikke gelede.

Hagar, die slavin van Sarai, is nogmaals alleen.

Soortgelyk

 

Afrika-lied kom tuis in Namib

23 ure gelede | Kuns en vermaak

Elvira Hattingh - Die Duits-Namibiese kunstenaar Max Siedentopf het wêreldwyd opslae gemaak met ‘n kunsinstallasie in die Namib wat Toto se bekende liedjie “Africa” oor...

CoW verloor ronde teen baas

23 ure gelede | Regering

Denver Kisting - Die geskorste uitvoerende hoof van die Windhoekse stadsraad (CoW), mnr. Robert Kahimise, het 'n ronde teen sy werkgewer gewen.CoW sal waarskynlik binne...

Sowat 7 000 skeepspassasiers sak op Walvis toe

23 ure gelede | Toerisme

Geskiedenis is gister gemaak toe vier groot passasierskepe in die Walvisbaai-hawe op anker gelê het en sowat 7 000 internasionale reisigers op die hawedorp toegesak...

Herstel internet, toegang tot sosiale media in Zim

23 ure gelede | Plaaslik

Ronelle Rademeyer - Om mense in Zimbabwe die gebruik van internetdienste te ontneem, is ‘n skending van hul menseregte en benadeel die ekonomie.“Ons raam die...

Weer vir 17 Januarie 2019

23 ure gelede | Weer

BINNELAND: Sonnig en bloedig warm in die ||Kharasstreek. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm wees met enkele donderbuie oor die sentrale,...

Jong Namibiër maak biomediese deurbrake

23 ure gelede | Gesondheid

Denver Kisting - Sy twee jonger sibbe se worsteling as kinders met asma het ’n jong Namibiese ingenieur aangespoor om ’n toestel te ontwerp wat...

Lui-lui telefoon

23 ure gelede | Tegnologie

Telecom Namibia se landlyne in Windhoek was sedert Dinsdag buite werking. Mnr. Oiva Angula, Telecom Namibia se hoof van korporatiewe kommunikaise en openbare skakelwese, het...

Gedenkdiens gehou vir slagoffers van ongeluk

23 ure gelede | Plaaslik

’n Gedenkdiens vir ses van die sewe slagoffers wat onherkenbaar verbrand is tydens die ongeluk op 10 Augustus 2018, is Dinsdag op Otjiwarongo gehou. Die...

Meer as N$2 miljoen se stukkende verkeersligte

23 ure gelede | Regering

Die hoofstad se munisipaliteit het in 2018 meer as N$2 miljoen bestee om stukkende verkeersligte te herstel nadat dit in padongelukke beskadig is.Mnr. Harold Akwenye,...